Vuur

Uittreksel: Vuur

Ouderdomsbeperking: 16

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Auth query failure: cURL error 28: Operation timed out after 5000 milliseconds with 0 bytes received

“Gee hierdie lêer in Cindy Bamford se hande, want as daardie klein merrie my nou nog een keer hieroor bel, gaan ek dit heeltemal verloor. Ek kan nie nou hier weggaan nie; die ouditeure wag alreeds in my kantoor.”
Isabelle kyk verbaas na die altyd onverstoorbare Elmarie Browne, die hoof van die finansiële afdeling, waar Isabelle vir die afgelope twee jaar ’n klerk is. Sy dink nie sy het al ooit vir Elmarie so geïrriteerd gesien nie.
“Isabelle?” Elmarie kyk oor haar skouer voor sy haar kantoordeur oopmaak. “Dis baie dringend; hulle het dit nodig vir ’n vergadering. Maak gou, asseblief.”
Isabelle huiwer voor die spieëlblink hysbakdeure. Sy kou senuweeagtig aan haar onderlip terwyl sy afkyk na haar nuwe hoëhakskoene. Sy het vandat sy hier werk, nog nooit die hysbak gebruik nie. Sy klim elke dag die trappe na die eerste vloer waar die finansiële kantoor is.
Haar hart keer in haar binneste om. Daar is nie vandag vir haar uitkomkans nie. Sy sal die hysbak móét gebruik, anders gaan dit hopeloos te lank vat tot op die vyftiende vloer. Dan druk sy die knoppie en staan met ’n wildkloppende hart en wag dat die deure moet oopgaan. Haar hart dawer in haar ore. Nee vrek, sy het nie genoeg moed vir die hysbak nie; sy sal maar die trappe aandruf, maar net toe sy wil omdraai, skuif die deure voor haar oop.

Haar asem verstok in haar keel en sy kyk verskrik na die man wat met gevoude arms teen die agterste reling van die hysbak aanleun.
Clayton Fielding. Eienaar en besturende direkteurv an Clayton Fielding Advertizing. Sy het hom nog altyd net van ’n afstand af bewonder. Vandat sy hom die eerste keer gesien het, het hy haar verbeelding aangegryp, maar die kans dat ’n klerk op die eerste vloer ooit in dieselfde geselskap as CFA se besturende direkteur sal kom, is baie skraal.
Vir die vroue wat saam met haar by Finansies werk, is hy die grootste onderwerp van bespreking tydens tee- en etenstye. Hy is immers ’n fees vir die oog. Breedgeskouerd, lank en lenig met donker hare en die blouste oë.
Die jongste skinderpraatjie wat die rondte doen, is dat hy ’n vuurwarm verhouding met sy persoonlike assistent het. Isabelle het nog altyd voorgegee dat sy nie belangstel in die klomp bakvissies se geskinder nie, maar sy spits haar ore wanneer daar oor Clayton gepraat word. Sy is immers ook ’n vrou en selfs van ’n afstand af het hy haar asem weggeslaan.
Hy draai sy kop effens en sy wenkbroue lig vraend toe die hysbak se deure weer begin toeskuif.
“Gaan jy op of af?” Sy diep stem ruk haar momenteel uit haar paniek.
Sy kry uiteindelik haar lam ledemate in beweging en tree vinnig vorentoe. Die hysbak se deure gaan weer oop toe sy oor die drumpel tree.
“Boonste vloer, asseblief.” Haar stem klink skor in haar eie ore en sy sluk droog. Sy vergeet dadelik van Clayton Fielding. Dit voel of die blink spieëls op haar gaan inval. Die stilte in die klein spasie is oorverdowend. ’n Onsigbare hand druk haar keel toe. Sy kan nie . .. maar voordat sy kan vlug, skuif die deure met finaliteit agter haar toe.

Clayton druk die knoppie vir die boonste vloer en kyk opsommend na die vrou voor hom. Sy is lyksbleek en sy klem die lêer voor haar bors so styf vas dat haar kneukels wit deur haar vel skyn. Kloustrofobie, as hy ’n wilde raai moet vat. Hy sug. Sy is pragtig, met blinkbruin hare en bokkiebruin oë, maar hy het allermins lus om met ’n histeriese vroumens te sukkel vandag.
Dalk sal dit help as hy haar aandag bietjie kan aflei. Hy hou sy hand na haar toe uit. “Clayton Fielding. Aangename kennis.”
Sy kyk hom vir ’n oomblik onbegrypend aan en sit dan haar hand in syne.
“Ek weet wie jy is. Isabelle Nell.” Sy probeer glimlag, maar kry dit nie heeltemal reg nie. Haar hand is yskoud in syne.
Sy oë gly oor haar skraal figuur in die netjies blou potloodromp en wit bloes.
“As ek so na jou kyk, vermoed ek dat jy met gemak die trappe na die boonste vloer sal kan uitdraf.”
“Ekskuus?” Sy kyk fronsend na hom.
Clayton glimlag skeef. “Jy lyk na die sportiewe tipe,” hy kyk af na haar skoene, “maar as jy die trappe wil aandurf, stel ek voor dat jy ’n ander tipe skoen oorweeg?”

Sy kry dit reg om stram te glimlag.
“Nie ’n groot liefhebber van ’n hysbak nie?” Hy kyk weer na haar met geligte wenkbroue.
“Ja, dis my grootste nagmerrie.” Haar oë volg die lyne van die klein spasie waarin hulle is. “Dis vreesaanjaend.”
Hy glimlag gerustellend. “Moenie bang wees nie.” Hy kyk vlugtig na die verligte nommers van die vloere in die paneel bokant die deure soos wat die hysbak opgaan. “Sien, ons is amper daar.” Sy woorde is skaars koud toe die hysbak skielik tot stilstand ruk en hulle eensklaps in totale duisternis gehul word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS