Skoolgeld

Uittreksel: Skoolgeld

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Wanneer Emma Louw ná ’n motorongeluk haar bewussyn in die hospitaal herwin het sy geen idee wie sy of die aantreklike vreemdeling is wat langs haar bed waak nie. Daniel Swart slaag egter daarin om haar gerus te stel: Sy is au pair vir sy seuntjie Neal en volgens die dokter is haar geheueverlies net tydelik. Emma is geskok wanneer Daniel haar vertel dat hulle ’n liefdesverhouding het hoewel hy getroud is. Hy oortuig haar om saam met hom terug te keer na sy plaas Omdraai. Op die plaas begin Emma geleidelik grepe uit haar kinderdae onthou, maar oor haar volwasse lewe is daar steeds ’n donker sluier getrek. Emma besef gou dat sy meer as blote fisieke aantrekkingskrag voel vir die man wat haar met soveel geduld en deernis versorg. Die emosionele verbintenis tussen hulle verdiep en omdat Emma hom vertrou, is sy bereid om sy seksuele fantasieë saam met Daniel uit te leef. Maar gaan hierdie ’n duur les wees?

“Emma, Emma, kan jy my hoor? Asseblief, word wakker!”
Met inspanning dwing sy haar ooglede oop. Alles lyk effens uit fokus. Ook die strak gesig van die man wat met sulke skerp blou oë na haar kyk. Wie is hy?
Sy probeer haar gesig wegdraai, maar ’n pyn skiet verblindend deur haar kop na haar skouer. Sy maak haar oë toe en probeer dink. Waar is sy? En wie is Emma? En hierdie man wat nou haar hand so styf vashou dat dit haar paniekerig maak. Sy wil vlug. Nee, sy móét vlug.
Sy hoor voetstappe en dan stemme naby haar. “Ek dink sy het bygekom, Suster.”
’n Vrouestem antwoord: “Jy moet geduldig wees, meneer Swart. Miskien moet jy na jou hotel gaan en ’n bietjie gaan rus. Jy sit nou al omtrent twee dae dag en nag hier langs haar hospitaalbed. Ek sal jou dadelik op jou selfoon kontak as haar toestand verander.”
Die manstem word driftig: “Ek gaan nêrens nie! Nie voor sy bykom en die dokter my verseker sy is buite gevaar nie.”
Sy is in die hospitaal. Vrees ruk haar maag op ’n knop.
“Asseblief, meneer Swart. Fokus op die positiewe. Die dokter kon haar skouerontwrigting sonder chirurgie reduseer. Die X-staal het bevestig dat daar ’n vinnige terugkeer na normale funksie behoort te wees. Haar kopbesering is matig en die breinswelling is aan die sak. Die neurochirurg is tevrede met haar vordering. Die CT-skandering het getoon dat sy volkome behoort te herstel. Sodra sy bykom sal ons haar uit die waakeenheid oorplaas na ’n privaat saal.”
Haar brein sukkel om sin te maak uit die woorde wat blykbaar betrekking op haar het. Maar daar is die een of ander versperring om haar linkerskouer en -arm én dis seer.
“Nou hoekom kom sy dan nie by nie?”
“Sy sal. Gee haar net tyd. Sy is jonk en sterk. Haar skouerontwrigting sal omtrent vier tot ses weke vat om te herstel. En die wond teen haar slaap genees goed. Die plastiese chirurg waarop jy aangedring het, het ’n uitstekende job gedoen . . . Maar nou’s dit eers my teebreek. Kom ons gaan drink koffie in die kafeteria? Die personeel sal intussen ’n wakende oog oor haar hou.”
Die hand los hare en die volgende oomblik soen iemand haar op haar mond. “Asseblief, Emma, kom terug. Ons het jou nodig.”
Sy herken sy geur: vars en effens speseryagtig. Iewers in haar bewussyn wil iets deurbreek. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde gun sy haarself die luukse om te glo alles gaan oukei wees. Sy is veilig by hierdie man, al kan sy niks onthou nie.
Toe hulle voetstappe wegsterf, maak sy weer haar oë oop. Die kamertjie wat met roomkleurige gordyne afgeskort is, maak haar benoud. Oukei, fine. Sy weet nou sy is in die hospitaal en min of meer wat sy makeer. Ook dat haar naam blykbaar Emma is. Die man langs haar bed is meneer Swart. Maar hoe het sy hier beland en baie, baie belangriker: Wie ís hierdie Emma?! En die meneer Swart? Hy het gepraat van ‘ons’. Is hulle getroud? Het hulle kinders?
Haar kop wil bars en sy maak weer haar oë toe. Dink. Sy moet dink. Verniet. Hoe harder sy probeer, hoe minder kan sy onthou. Nee, dis onmoontlik. ’n Mens kan tog nie wakker word of bykom soos die man gesê het en dan is jou hele lewe weg nie. Hoe oud is sy? Het sy familie? Waar kom sy vandaan?
Paniek dreig om haar te oorweldig en sy probeer reëlmatig asemhaal. Sy kan nie. Dit voel asof sy gaan versmoor. Haar hart klop vinniger, vinniger. Dan word alles stil en donker.


KOOP HIER | BUY HERE
Wanneer Emma Louw ná ’n motorongeluk haar bewussyn in die hospitaal herwin het sy geen idee wie sy of die aantreklike vreemdeling is wat langs haar bed waak nie. Daniel Swart slaag egter daarin om haar gerus te stel: Sy is au pair vir sy seuntjie Neal en volgens die dokter is haar geheueverlies net tydelik. Emma is geskok wanneer Daniel haar vertel dat hulle ’n liefdesverhouding het hoewel hy getroud is. Hy oortuig haar om saam met hom terug te keer na sy plaas Omdraai. Op die plaas begin Emma geleidelik grepe uit haar kinderdae onthou, maar oor haar volwasse lewe is daar steeds ’n donker sluier getrek. Emma besef gou dat sy meer as blote fisieke aantrekkingskrag voel vir die man wat haar met soveel geduld en deernis versorg. Die emosionele verbintenis tussen hulle verdiep en omdat Emma hom vertrou, is sy bereid om sy seksuele fantasieë saam met Daniel uit te leef. Maar gaan hierdie ’n duur les wees?

Daniel wens die verpleegsuster wil hom met rus laat. Hy is nie lus vir koffie of onbenullige praatjies nie. Langs Emma se bed is ál plek waar hy nou wil wees. Daar wees wanneer sy weer haar oë oopmaak. Maak nie saak wat die suster sê nie: Hy weet sy was vlugtig by haar positiewe toe sy met daardie blou oë na hom gekyk het. Hulle was vol vrae, maar daar was nie afsku nie. Nie soos die laaste keer in die klaskamer toe sy bygekom het ná hy sy selfbeheer verloor het nie. Ná hy as dominant Emma die reg ontneem het om die situasie te beheer soos dit in ’n BDSM-situasie hoort.
In die kafeteria betaal Daniel vir hulle koffie en toebroodjies, en volg die suster na ’n tafel in die hoek. Sedert Sondagaand het hy nog kwalik geëet, maar hy het geen eetlus nie. Emma is al wat nou sy gedagtes in beslag neem.
“Jy en juffrou Louw,” onderbreek suster Roux sy gedagtes. “Is julle . . .?”
Voor sy kan vervolg, val hy haar in die rede: “Ons het ’n vaste verhouding, maar sy is ook my seun Neal se onderwyseres en au pair. Sy woon by ons op die plaas.” Verdomp. Hoe moet hy vir ’n vreemdeling verduidelik wat hy en Emma is? En wat ís hulle? Sondagaand toe Emma in ’n ongeluk was, het sy gevlug. Haar tasse en persoonlike goed wat op die ongelukstoneel was, is tog ’n klinkklare bewys daarvan. Sy wou wegkom van hom en van Omdraai. Van die bliksem wat sy gedink het sy kon vertrou. Hy vat ’n hap van sy spek-en-eier-toebroodjie en voel hoe suur in sy keel opstoot. Vinnig probeer hy dit met koffie afsluk.
“Jy is al besoeker wat nog by haar was. Het jy al haar familie laat weet, meneer Swart? As dit my dogter was, sou ek wou weet sy was in ’n motorongeluk.”
Daniel is lus en vergruis die koppie tussen sy vingers. Hy is gatvol vir hierdie vroumens wat haar gewig in die waakeenheid rondgooi asof sy die kaptein van ’n oorlogskip is.
Waterpas ontmoet hy haar oë wat agter ’n donkerraambril wegkruip. “Juffrou Louw, Emma se ouers is toevalling op die oomblik albei in die buiteland. Op afgeleë plekke waar die selfoonopvangs maar vrot is. Volgens julle is Emma buite gevaar. Ek weet sy sou nie wou hê ek moet haar ouers onnodig ontstel nie.” Sy hoef nie te weet Emma se selfoon is met SIM-kaart en al in die ongeluk verwoes nie. Op die oomblik het hy dus nie haar ouers se kontakbesonderhede nie. Hy sou dit wel kon opspoor, maar dit is nie nodig nie. Natuurlik is dit nie nodig nie, smoor hy sy gewete se stem. Emma gaan orraait wees. Dis immers wat hierdie alwetende suster en die dokters hom nog heeltyd verseker. En daar is niemand onder die son wat haar nou emosioneel en fisiek beter kan bystaan as hy wat Daniel Swart is nie. Die Vader weet, hy sal hemel en aarde beweeg om te sorg dat sy orraait is. Wanneer sy uit die hospitaal ontslaan word, neem hy haar Omdraai toe. Ragel en Mavis sal hom help om haar te versorg totdat sy weer die sprankelende, lewenslustige Emma is wat ses weke tevore haar bagasie op Omdraai uitgepak
het.

Hy vat nog ’n hap van sy toebroodjie. Is dit regtig net ses weke? Kan ’n mense se lewe werklik in net ses weke so ingrypend verander? Wel, Daniel Swart wat liefde afgeskryf het, s’n het vir seker. Hy het elke reël in sy eie boek verbreek omdat Emma die moed gehad het om eerlik te wees oor haar gevoelens vir hom. Nou moet sy net herstel en veel belangriker: Bereid wees om hom kans te gee om aan haar te bewys dat hy haar nooit weer leed sal aandoen nie.
Die suur in sy keel is nou ’n volbloedsooibrand wat hy met die res van die lou koffie probeer afsluk. Maar kan hy? En sal sy? Emma is hardegat en haar wil skrik vir niks. Sodanig dat sy aanhou karring het totdat hy kopgegee het en haar na die klaskamer geneem het nog voor hulle ’n skriftelike ooreenkoms geteken het. Sonder dat Emma vooraf die grense duidelik gestel het.
“As jy my sal verskoon, meneer Swart, ek moet by die waakeenheid kom.” Toe sy opstaan, volg Daniel haar voorbeeld en trek haar stoel uit voordat sy dit kan doen. Sy sit haar hand op sy kaal voorarm en hy kners op sy tande. “Gaan hotel toe. Gaan stort. Slaap ’n rukkie. Juffrou Louw is in veilige hande. Ek sal jou persoonlik op hoogte hou.”
Daniel wikkel sy arm los en skud sy kop. “Dankie, ek is piekfyn. Ek wil net gou ’n paar oproepe maak.” Hy kyk op sy polshorlosie. Woensdag, 2019,02,13; 10:00. Hy wil gou vir Ans op die buurplaas bel om te hoor hoe dit met Neal gaan. Gister toe hulle gepraat het, was Neal huilerig. Wou weet wanneer hy en Miss Emma huis toe kom. Toe hy vanoggend vroeg plaas toe gebel het, het Koos gesê daar het die vorige nag ’n lekker bui reën geval. Neal en die plaas is in goeie hande. Sy plek is hier by Emma en niemand gaan hom hier wegkry nie. Nie eens ’n saalsuster wat ’n rofstoeier se broek sal laat bewe nie.
’n Rukkie later sit hy weer langs Emma se bed en vou haar regterhand in syne toe. Haar linkerarm is in ’n skouerskut verbind en daar is ’n drup in haar linkerhand. Die wond teen haar slaap is met pleister toegeplak en sy het ’n blou oog. Alles vir Daniel Swart se skuldboek. Sy sou nie nou hier gelê het as hy haar nie toegelaat het om hom ’n gat in die kop te praat nie. Verdomp. Emma is ’n groentjie. Wat sy van die kink-wêreld weet, het hy al vergeet. Hy is die meester; Emma die onderdaan. Hoe de donner kon hy so onnosel gewees het?!
Hy verstar toe Emma se vingers wat hy so styf vasklem in sy hand roer. Hy verslap sy greep, leun vorentoe en kyk stip na haar gesig. Ondanks die wond teen haar slaap, die blouoog en stukkende lip is sy steeds beeldskoon. Omdat sy mooi is van binne. Sy het integriteit, deernis vir ander en sy sal nooit haar lewensmaat bedrieg nie.
Haar ooglede fladder en Daniel hou haar met ingehoue asem dop. Stadig blaas hy dit uit en probeer ontspan. “Emma, Emma, kan jy my hoor? Roer jou vingers as jy kan.”
Haar vingers beweeg in sy handpalm. “Kyk na my. Asseblief, Emma. Kyk na my.”
Haar ooglede lig stadig. Dit voel asof sy met daardie helderblou oë dwarsdeur hom kyk. Asof sy elke gebrek en tekortkoming in hom raaksien. Sy lek oor haar stukkende onderlip en pers haar lippe saam. ’n Frons verskyn tussen haar donker wenkbroue. “Wie? Wie is jy?”
Die aarde dreig om onder hom pad te gee. Emma weet nie wie hy is nie! Nee, sy is nog deurmekaar. Sy was van Sondagmiddag af bewusteloos. Dit gaan seker ’n rukkie duur voor sy by haar volle positiewe is. Hy moet net kalm bly en niks doen of sê wat haar kan ontstel nie.
Daniel lig die waterbottel met die strooitjie in van die bedkassie af en hou dit by haar mond. “Drink ’n bietjie.”
Terwyl sy sluk, hou sy hom grootoog dop. Asof sy bang is vir hom. Asseblief, Heiland, nee, net nie dit nie. Asseblief, moenie dat Emma bang wees vir hom nie. Hy ken die vrees wat pyn veroorsaak. Nee, Emma mag nooit daardie vrees beleef nie. Op die ou end trek dit jou uitkyk op die lewe heeltemal skeef; sleep jou in ’n donker gat van wanhoop in. Dra Emma dalk die gevolge van die emosionele skade wat hy haar Sondag in die klaskamer aangedoen het? Of ly sy bloot aan geheueverlies weens die kopbesering wat sy in die ongeluk opgedoen het?
“Wie is jy?” vra sy weer en wikkel haar hand uit syne los.
“Ek is Daniel. Daniel Swart.”
Haar oë is nou vol trane en hy sukkel om verder te praat. Sy hart wil breek. Hoe gaan hy ooit vergoed vir die onreg wat hy haar aangedoen het? Hy het nie die vaagste donnerse benul nie, maar hy gáán. Kom wat wil, hy gaan regmaak wat hy verbrou het. Aan Emma bewys hy kan haar gee wat sy nodig het. Hy kan die man wees wat sy verdien. Emma lewe; sy het bygekom en dit is al wat nou saak maak. Saam sal hulle hierdeur kom.
“Is jy my man?” ruk haar volgende vraag hom uit sy bepeinsing.
Hy wil nie vir haar jok nie en hy wil haar ook nie ontstel nie. “Kan jy onthou wat gebeur het, Emma?” probeer hy haar vraag met ’n teenvraag omseil.
“Ek was in ’n ongeluk?”
Sy hart bloei. Emma lyk so verwese, so breekbaar, so onseker. Glad nie soos sy hardegat, selfversekerde Emma nie. “Dis reg. ’n Paar kilometer van my plaas Omdraai af. Vergeet nou net daarvan. Jy is oukei. Die dokters is seker jy gaan volkome herstel. Jy moet nou rus sodat ek jou kan huis toe neem.”
“Huis toe?” vra sy met ’n klein stemmetjie. “Ons huis?”
“Ja, Emma. Ons huis. My en jou en Neal s’n.”
“Neal? Het ons ’n seun?” Haar oë wat netnou dwarsdeur hom gekyk het, lyk asof dit ’n bietjie lewe kry.

Die gordyne om die bed word oopgepluk voor hy kan antwoord. “En dit? Wat is hier aan die gang?” bulder suster Roux. “Hoekom het jy nie die klokkie gedruk toe sy bykom nie? Toe, toe, toe, uit hier met jou. Ek moet haar vitals nagaan. Gaan hotel toe. Jy kan later weer kom inloer. Dokter Smit het gesê ek moet hom dadelik laat weet as sy bykom. Jy gaan net in die pad wees.”
Daniel is lus om die verpleegsuster wat nie nonsens van kabouters vat nie om die hals te val en ’n klapsoen te gee. Dis die uitkomkans wat hy nou nodiger het as suurstof. Hy kort tyd om tot verhaal te kom. Emma dink blykbaar hulle is getroud. Dat Neal hulle seun is. Die allerlaaste ding wat hy wil doen, is om haar te skok met feite wat haar dalk nog meer kan verwar. Maar hy wil ook nie vir haar jok nie. Verdomp, wat gaan hy doen?
Nou kan hy net hoop en glo haar geheueverlies is tydelik. Dat sy vir haarself sal kan uitwerk hoe die stukkies van die legkaart inmekaar pas. Maar dan gaan sy ook onthou wat in die klaskamer gebeur het. Dat sy gevlug het toe sy die ongeluk gemaak het. Emma se goed wat hy op die ongelukstoneel bymekaargemaak het, het hy saam met Ans huis toe gestuur. Maandag het sy dit Omdraai toe geneem. Oor die foon het hy vir Ragel opdrag gegee om alles terug te sit soos dit was. Dankie tog. Ragel is diskreet en betroubaar. Sy het jare gelede reeds geleer om nie onnodige vrae te vra en te krap waar dit Daan Swart – haar protégé – seermaak nie.
Dit kos wilskrag om nie in die hospitaalgang af te hardloop nie. Hy haat hospitale. Dit is waarheen hulle hom geneem het nadat sy gesin uitgewis is. Nee, nee, nie nou nie. Daniel bars deur die outomatiese skuifdeure en asem die skoon, vars lug in totdat die spanning uit hom vloei en hy min of meer sy selfbeheersing herwin het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS