Uittreksel: Skeef

Ek moet jou iets vertel …

KOOP HIER | BUY HERE
Is jy aangetrokke tot mense wat jou geslag deel? Of voel jy nie tuis met die geslag waarmee jy gebore is nie? Wil jy jouself, jou kind of vriend van skaamte, stigma en onsekerheid bevry? Uitkom, boelies, verhoudings, ouerskap, verteenwoordiging, baanbrekers, bondgenote, sigbaarheid, geloof en seks – in hierdie boek is geen onderwerp taboe nie. Die mediapersoonlikheid Renaldo Schwarp deel raad en vertel van sy reis, sonder om doekies om te draai. Bekendes soos Marc Lottering, Rian van Heerden, Marco Spaumer, Joe Foster en die raakvatters van die Mannetjiesvrou-podcast praat ook oor hul kleurvolle ervarings. Verenia, Renaldo se ma, skryf openhartig oor die uitdagings en vreugdes van ’n gay-kind grootmaak. Skeef dra ’n boodskap oor van hoop vir LGBTIQ+-mense en almal na aan hulle. Dit vertel van die vreugde van selfaanvaarding, hoe om die kasdeure wyd oop te skop en van die veerkragtige gemeenskap wat aan die ander kant wag.

Jip, ek is gay.
Dit was ’n Donderdagaand, so skuins na nege in Victoriastraat, Stellenbosch, toe ek hierdie woorde vir die eerste keer teenoor my vurige vriendin, Oriel Anthony (née Hess), uiter. Selfs al was dit ongemaklik en moeilik om te sê, was dit asof ’n berg van my skouers lig. Dit het gevoel asof ek vir die eerste keer kon asemhaal.
“Jip, ek is gay.” Dit was die eerste keer dat ek dit hardop vir iemand anders gesê het.
Ek dink gereeld aan daardie oomblik. Ek het vir jare met die vraag geworstel.
“Is ek gay?” Nee.
“Is ek gay?” Ek weet nie.
“Is ek gay?” Dalk?
Hoe weet ek vir seker?
Die eerste baken op die pad na selfaanvaarding is selfontdekking. Ek was nog altyd aangetrokke tot mans. Vandat ek kan onthou, het hulle my gefassineer. Daar was hierdie tingly-tipe gevoel wanneer ek na outjies waarvan ek hou, gekyk het. Dit was altyd meer as net vriendskaplike aangetrokkenheid. Ek het dit glad nie met meisies ervaar nie. My eerste tingly gevoel vir ’n ou was toe ek so sewe was.
My ouers het my en my broer, Remano, na die fliekteater geneem om Tarzan te kyk. Ek was versot op Disney-musiekblyspele en -tekenprente. Klein Renaldo het gereeld sy ouer, rugbybehepte broer geïrriteer deur kliphard saam te sing en ritmeloos te dans. Hoe my ouers nie toe al kon sien dat ek vir die ander span speel nie gaan my verstand te bowe. Hierdie keer was dit nie die musiek wat my hart laat bokspring het nie, maar Tarzan self.
Hy het my tingly laat voel.
Ek weet dit klink vreemd dat my eerste crush ’n tekenprentkarakter was, maar dis hoe dit was. Ek is meegevoer deur sy lang donker lokke, sy skerp neus en sy onvermoë om te praat. Phil Collins se hartroerende liefdesliriek het ook nie veel gehelp nie. Ek onderspeel dit as ek sê die groen monster het my behoorlik gebyt oor Jane Porter, sy adellike beminde. Hy was moreel penorent, bedagsaam en hy het die broses naas hom beskerm. Perfekte eerste crush, nè? Ek het nie presies geweet wat met my aangaan nie, maar net geweet: tingly en jaloers.
Daar is nie ’n wetenskaplike toets om te bepaal of iemand gay is of nie – dit hang af van hoe jy voel. Jy is die enigste persoon wat weet wat in jou kop aangaan en wat jou hart begeer. Aangetrokkenheid tot iemand van dieselfde geslag beteken ook nie noodwendig dat jy gay of biseksueel is nie. Dalk hou jy net van daardie persoon se persoonlikheid, sy talente of hoe hy lyk.
Ek het belowe dat ek heeltemal eerlik in hierdie boek gaan wees en daarom bieg ek dat ek op Patricia Lewis versot was. Haar Repelsteeltjiehare en sequence-uitrustings het my voor die kassie vasgenael gehad. My Instagram-profiel getuig daarvan dat my obsessie met sequence-uitrustings oor die jare sterker geword het. Dit was dus logies dat klein Renaldo vir ’n paar maande gedink het dat hy aangetrokke tot Patricia is. Toe nie. Ek het bloot na haar opgekyk. Sy was my “superster” – dis al.
As jy jou seksualiteit bevraagteken of onseker daaroor is, raai ek jou aan om nie oorhaastig te wees en gevolgtrekkings te maak nie. Gun jouself die nodige tyd en ruimte om te ontdek van wie en waarvan jy hou. Dalk hou jy van mans, dalk net vroue? Dalk beide? Dalk nie van een van hulle nie?
Dis alles deel van die selfontdekkingsproses – en dié proses kan slegs begin wanneer jy jouself ’n paar ongemaklike vrae vra. Aan die begin van graad nege was ek beste vriende met Gena, ’n donkerkop wat die vorige jaar saam met haar ouers na Centurion verhuis het. Haar van is Scheepers en oor ons onderwysers se argaïese alfabetiese sitplektoewysing moes ons langs mekaar sit – in elke klas. Na ’n paar weke was ons onafskeidbaar.
Sy was loud, nes ek.
Ons het ’n sin vir humor gedeel.
En haar gunstelingfliek? Tarzan. Soort soek soort, nè?
“Two peas in a pod,” soos hulle sê. Volgens alle aanduidings sou ons die perfekte paartjie maak. Die gedagte het so ’n paar keer by my opgekom, maar sy was my beste vriendin. Ek het nie veel aandag daaraan gegee nie.
Tot eendag.
Dit was toe ek en Gena na ons Wiskundeklaskamer drafstap. Sy gryp my hand en bly dit vashou, kyk na my en glimlag. Hoekom doen sy dit? Hou sy van my? Ek dog ons is net vriende. Daar slaat die gevriesde stuk vis my. Al wat ek kon doen, was vries. Vir daardie vyf sekondes, wat soos ’n ewigheid gevoel het, het ek gewonder: Dalk hou ek ook eintlik van haar? Dalk is ek nes die ander seuns? En dalk – net dalk – kan ons ’n oulike couple wees wat selfies op Facebook plaas en na Valentynsballe gaan. Toe die tweede skoolklok lui, word ek na die werklikheid teruggeruk.
“Ons gaan laat wees vir klas,” sê ek glimlaggend. En los haar hand.
Dit het glad nie reg gevoel nie. Die oomblik het vir ’n week by my gespook tot ek nie langer vir myself kon lieg nie. Ek het glad nie op daardie manier van meisies gehou nie.
Jip, ek ís gay.
Dis ’n mylpaal wanneer jy hierdie vier woorde aan jouself kan sê. Sekerlik die moeilikste, maar ook die belangrikste. Hierdie oomblik het my ses jaar ná my eerste tingly gevoel getref. Hoewel ek dit uiteindelik vir myself kon sê, was dit glad nie wat ek wou of kon wees nie. Ek het nooit met Gena daaroor gesels nie. Dinge tussen ons het net begin awkward raak. My verhouding met haar het noodgedwonge verbrokkel en sy en haar ouers het tot my verligting aan die einde van ons graadnegejaar getrek.
Dodged that bullet. Maar die volgende drie jaar van my hoërskoolloopbaan was glad nie makliker nie. Ek het gesukkel om vriende te maak en was uiters eensaam. Tieners het ’n neiging om nogal clicky te wees en pimple-faced Renaldo het nêrens ingepas nie. Terwyl die meeste van my klasmaats hul naweke omgekuier het rondom spin the bottle, was ek saam met my ouers voor die kassie vir Noot vir Noot. Dis seker hier waar ek my kennis van populêre musiek opgeskerp het.
Toe was my ouers se huis nog ’n plek waar ek net myself kon wees, sonder voorgee. Dalk was ek net te bang om close aan ander mense te raak. Sê nou hulle ontdek my geheim?

KOOP HIER | BUY HERE
Is jy aangetrokke tot mense wat jou geslag deel? Of voel jy nie tuis met die geslag waarmee jy gebore is nie? Wil jy jouself, jou kind of vriend van skaamte, stigma en onsekerheid bevry? Uitkom, boelies, verhoudings, ouerskap, verteenwoordiging, baanbrekers, bondgenote, sigbaarheid, geloof en seks – in hierdie boek is geen onderwerp taboe nie. Die mediapersoonlikheid Renaldo Schwarp deel raad en vertel van sy reis, sonder om doekies om te draai. Bekendes soos Marc Lottering, Rian van Heerden, Marco Spaumer, Joe Foster en die raakvatters van die Mannetjiesvrou-podcast praat ook oor hul kleurvolle ervarings. Verenia, Renaldo se ma, skryf openhartig oor die uitdagings en vreugdes van ’n gay-kind grootmaak. Skeef dra ’n boodskap oor van hoop vir LGBTIQ+-mense en almal na aan hulle. Dit vertel van die vreugde van selfaanvaarding, hoe om die kasdeure wyd oop te skop en van die veerkragtige gemeenskap wat aan die ander kant wag.

Ek was die meeste van my onderwysers se witbroodjie, elke kwartaal in die topvyftien-akademiese presteerders en baie betrokke by die skool se kultuuraktiwiteite. Ek verstaan nou hoekom my ouers nie besef het dat ek met iets groots worstel nie. Hoe sou hulle? Ek was hul trots.
My graadtwaalfbroer, aan die ander kant, het toe ’n reputasie as rebel gehad. Sy vriende was ietwat verdag en hulle was gereeld in die skoolhoof se kantoor oor skelm rook. Sy punte het ook verswak en hy het gereeld na aandkloktyd tuisgekom. My ouers het al hul dae met hom gehad.
Ons was nooit juis close nie. Uiteenlopende belangstellings en verskillende lewensuitkyke was bepalend. Maar ons het altyd ’n tipe verstandhouding gehad, ’n band wat later ’n waardevolle ondersteuningsbasis en bron van bondgenootskap sou wees.
Die eerste kwartaal van graad tien het ek pouses met my broer en sy rokersvriende spandeer bloot omdat ek steeds nie my eie vriende kon maak nie. Ek kon sien dit irriteer hom soms, maar hy het my nooit onwelkom laat voel nie. Hy was bewus daarvan dat ek met iets worstel. Ek weet nou dat hy geweet het dat dit my seksualiteit was.
Die volgende paar jaar het ek myself uit my seksualiteit probeer kul. Dit was drie jaar van ongemaklike saamlag met die ander seuns as hul grappies maak oor meisies se boude en borste. Drie jaar van my ware emosies op die kantlyn plaas en dit amper regkry om nooit oor Tarzan of ander seuns te dink nie. Dit was drie jaar my grootste geheim en het my dag na dag begin versmoor.


Die belangrikste les wat jy uit hierdie boek moet leer, is dat jy nie kan verander wie jy werklik is nie, maak nie saak hoe jy jou bes doen of bid nie. (Ons sal later oor skuldgevoelens en geloof gesels.)
Hoe vinniger jy al die ongemaklike dinge van jouself aanvaar, hoe makliker word dit om met die wêreld om te gaan. Deur teenoor jouself uit te kom, gun jy jou die kans om jouself beter te leer ken – die ware jy. En sodra jy die ware jy aanvaar, kan jy hom aan ander voorstel.
Ek wonder gereeld hoekom ek noodgedwonge die vier woorde op daardie Donderdagaand in 2010 aan Oriel moes sê. Was dit die regte tyd? Was sy die regte persoon? Was ek werklik reg om die nuus met iemand te deel?
Ek weet nie. Al wat ek vir seker weet, is dat ek moeg was om deur die geheim versmoor te word. Oriel het ’n ruimte geskep waar ek nie veroordeel gevoel het nie. Dit het net reg gevoel. Om vir iemand anders vir die eerste keer te sê jy is gay, is soos daardie vertroue-oefeninge wat jy gewoonlik by ’n skoolkamp of spanbou doen. Jy staan voor almal, jou oë toe, en jy moet agteroor val. Jy weet nie of jy gevang gaan word of nie, maar jy hóóp. Dis eintlik al wat jy kan doen. Dit voel asof iemand die slow-motion-knoppie op jou lewe druk, en dan ewe skielik die fast-forward. Ek’s bly dat Oriel my daardie aand gevang het.


Elkeen se reis is uniek. Ek kan nie aan jou voorskryf wanneer dit die regte tyd is om uit te kom en wie die regte persoon is om eerste te vertel nie. Sommige mense doen dit op ’n baie jong ouderdom en ander doen dit nooit. Party deel dit met almal wat hulle ken, ander vertel net hul beste vriend.
So, hoekom is dit nodig om uit te kom?
Dit is ongelukkig steeds die norm dat seuns van meisies móét hou en andersom. Dis hoekom uitkom so ’n bevrydende en opwindende – tog vreesaanjaende – ervaring is. Daar is ’n ellelange lys redes hoekom iemand uitkom: Miskien het hy iemand ontmoet, dalk wil hy die nuus met iemand anders deel, dalk soek hy ’n community met dieselfde seksuele voorkeure of dalk vind hy die geheimhouding versmorend.
Wat ook al die rede is, jy moet slegs uitkom wanneer jy gereed is. Daar is nie ’n “regte manier” van doen nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS