Wenkbrou_Featured_Image_Blog_Uittreksel_Erla_Mari_Diedericks_Seks_Leuens_en_die_Internet

Uittreksel: Seks, leuens en die internet – Erla-Mari Diedericks

Waarskuwing en voorwoord

KOOP HIER | BUY HERE
Seks, leuens en die internet is ’n rou, eerlike vertelling deur ’n vrou wie se hart gebreek is, maar weier om moed op te gee. Op 50 lyk al die prinse en perde bra gehawend, maar vasbeslote durf sy die wilde wêreld van aanlyn afsprake aan, moedig op soek na haar sielsgenoot. Hierdie boek is deel van die immergewilde selfhelp-genre en kombineer die onderwerpe van verhoudings; seks en selfondersoek. Dis ’n eerlike en soms skreeusnaakse memoir - maar ook ’n nuttige gids oor die wêreld van aanlyn afsprake.

Ek eet te veel suiker. Ek drink te veel wyn. Ek hou te veel van mans en tequila. Ek kan ’n pak koekies en ’n sak jelly babies op een slag opeet. Ek is ’n jong siel in ’n middeljarige vrou se lyf. Ek kan die woord “middeljarig” nie verdra nie. Net soos wat ek niks van die woord “tiener” gehou het nie. Albei is vooropgestelde clichés. En ek haat dit om ’n cliché te wees.

So, as jy ’n boek verwag deur ’n pyn-in-die-gat-prinses met ’n plooilose gesig en linnebroek wat vir jou gaan vertel dat sy vyftig, geskei en oukei is, wees gerus.

Ek is wel in my vyftigs en geskei. Maar oukei? Soms dink ek dat ek oukei is. En dan tel ek my seëninge soos kleingeld af. Ek is gesond(erig), my kind is goed aangepas, ek kan my huurhuis bekostig, ek het ’n werk, ek kan partykeer by Woolies kos koop. (Dis wel vrek moeilik om oukei te voel as jy nie meer van die vloer af kan opstaan waar jy kruisbeen gesit het nie.)

KOOP HIER | BUY HERE
Seks, leuens en die internet is ’n rou, eerlike vertelling deur ’n vrou wie se hart gebreek is, maar weier om moed op te gee. Op 50 lyk al die prinse en perde bra gehawend, maar vasbeslote durf sy die wilde wêreld van aanlyn afsprake aan, moedig op soek na haar sielsgenoot. Hierdie boek is deel van die immergewilde selfhelp-genre en kombineer die onderwerpe van verhoudings; seks en selfondersoek. Dis ’n eerlike en soms skreeusnaakse memoir - maar ook ’n nuttige gids oor die wêreld van aanlyn afsprake.

Soms raak die seëninge maar skraal en begin ek allerhande nonsens uitdink waarvoor ek dankbaar kan wees wat ek dan op Facebook plaas: “Ek is dankbaar vir die blomme wat in my tuin groei, die skoenlapper wat geland het op my vuil vensterbank en dat my kind se duur tandartsrekening uiteindelik afbetaal is.”

En dan sweef ’n selfvoldane vrou verby my in ’n fok-jou-wolkie duur parfuum en aangetroude bevoorregting en staan ek haar verslae en agterna staar en wonder hoekom haar linnebroek nooit kreukel nie. En ek weet: Ek sal nooit soos sy wees nie.

Ek is oorgewig en onderbetaald. Ek het artritis in my knieë en arms en klim soos ’n krap teen trappe af. Ek ontdek elke dag plooie op my gesig wat nie aan lag toegeskryf kan word nie. Ek piepie deesdae wanneer ek nies. Ek is steeds bang vir spinnekoppe en vaste verhoudings.

Ek is nie oukei nie.

En dit is meer as oukei.

Hoofstuk 1

“Ek het ses pirates doodgeskiet op my vorige secret mission in Somalië. Bam! Bam! Bam!” Vet, vlesige vingers slaan op die tafel.

Wéér: “Bam! Bam! Bam!”

Op die tafel verkreukel die papierservet van skok.

Die bleskop van die man wat oorkant my in die restaurant in Blouberg sit, glinster beswete onder die helder ligte. Sy boepie beur passief-aggressief teen die tafel.

Hy is die eerste afspraak wat ek aanlyn gemaak het nadat ek en my eks, V, uitmekaar is. Twee weke vantevore het ek saam met my seun uit ons huis getrek. Sewe jaar is ’n lang tyd weg van die single scene. Maar skielik is ek nie so seker ek het veel gemis nie.

“Ons was op die boot toe die bogghers meteens net verskyn. Twee van my kollegas is op slag dood, in die kop geskiet.”

Ek en die servet wag beangs op nog klappe op die tafel.

“Ek het probeer radio vir hulp, maar daar was nie tyd nie. Ek het die een net daar geskiet. Die ander een het ek op die dek platgetrek. Toe hardloop die ander vier weg, maar ek het hul almal gepot: “Bam!”

Die servet probeer agter die glas wegkruip, maar dis te laat. Bleskop tel die servet vies tussen twee poffervingers op. “’n Papierservet! Ek haat die bleddie goed! Ek gaan nie al hierdie geld betaal in ’n restaurant wat nie linneservette het nie. Ek is nie kommin nie! Waiter!”

Ek hoop en bid hy skiet die servet nie weer nie.

Die kelner kom staan afwagtend langs hom.

“Kry die manager. Ons moet praat.”

“Is daar iets waarmee ek dalk kan help, Meneer?” vra die kelner.

“Jy’t my gehoor, broer. Kry die manager.”

Met die kelner uit die pad, buig hy oor die tafel, sy oë waterig en intens: “Luister jy vir my, sweetheart. Ek het ’n gevaarlike job. Ek is ’n security guard wat moet sorg dat bote nie gehijack word nie. Mense plaas hul lewe in my hande. Jy kan my trust. Ek leef in die oomblik, daar is nie tyd vir games nie.” Vir ’n oomblik rus sy oë op my borste.

“Ek kan sien wat jou needs is. Jy is maar net ’n vrou, en soos alle vroue soek jy security en liefde. Ek kan dit vir jou gee.”

Deur die groot glasvensters van die restaurant knipoog die maan vir my. Dit is dieselfde restaurant waar ek en V mekaar die eerste keer ontmoet het. Ons het gereeld hiernatoe gekom. Liefde en sjampanje het gevloei. Die trane sou eers later volg.

Meteens staan Marnus, die restaurantbestuurder, langs my. “Mevrou, Mevrou se man het nou net gebel!” Marnus wring sy gemanikuurde hande dramaties saam.

Binne-in my word als ysig stil. Ons het al baie goeie tye saam gehad. Vanaand is nie een van hulle nie. Hoe weet V ek is hier? Ons het twee weke laas met mekaar gepraat. Hoekom gee hy nou skielik om?

In die kerslig probeer die wit merk waar my ring was, wegkruip.

“Is jy getroud?” bulder Bleskop.

“Nee, ek is nie . . .”

“Mevrou, hy wil weet of Mevrou in die restaurant is, en ek weet nie wat om vir hom te sê nie!” hyg Marnus paniekbevange.

“Sê vir hom jy sien my nie hier nie. Of weet jy wat, sê vir hom net wat jy wil.”

Buite hang die sekelmaan. Geen oogknippery meer nie, maar eerder ’n veroordelende swaard wat oor my kop hang.

“Ek kan nie glo jy is getroud nie! You are nothing but a lying bitch.”

“Ons was nooit getroud nie, net verloof,” sê ek so kalm moontlik.

“Nou hoekom soek hy jou dan?”

“Hoe moet ek weet? Ons is uitmekaar, hy weet dis verby.”

Bleskop kyk my aan asof ek ’n papierservet is. “I smell a rat. A lying bitch of a rat.”

Ek skuif my stoel agteruit. “As jy nie ordentlik met my kan praat nie, gaan ek loop.”

“Jy is die getroude een, nie ek nie,” kap hy terug.

“Ek. Is. Nie. Getroud. Nie!” In my verbouereerdheid bons my stem soos ’n bal oor die elegant gedekte wit tafels. Geen trouring nie, nie eens ná sewe jaar nie. En dit, juis dít, is die hele probleem. Ek staan op. “Ek gaan eerder loop.”

Hy vlieg ook op. “Wel, ek gaan beslis nie hier op my eie sit nie. Jy het omtrent my tyd gemors.”

Buite by my motor draai hy na my. “Ek het raad vir jou. Eerstens, sort jou stront uit. Tweedens, laat iemand jou kar check. Jou man het heel moontlik ’n tracker onderaan jou kar. Dis hoe hy geweet het waar jy is.”

Hy stap weg, ’n oorgewig, middeljarige man. Maar hy is nog nie klaar met my nie en draai weer om: “O, nog iets. Jy’t groot boobs. Dit sal help. Maar was tog jou kar. Jy gaan nooit ’n man kry met so ’n vuil kar nie.”

Ek klim in my motor, maar skakel dit nie aan nie. Bleskop se motorligte verblind my vir ’n oomblik toe hy by my verbyjaag en dan is alles stil. En donker.

Ons het uitmekaar gedryf. Ek en V.

Nee, dis nie waar nie. Ek was eenvoudig net nie goed genoeg vir hom nie. Ek wou trou, hy nie. Sy redes was eindeloos. Ons bly dan saam. Ons het ’n huis saam, ’n lewe saam. Trou is ’n uitgediende gebruik. ’n Huweliksertifikaat is net ’n dokument. Net woorde. Hy moes tog van beter geweet het as om die sogenaamde waardeloosheid van woorde aan ’n skrywer te probeer verduidelik.

En nou, ná sewe jaar is ons klug van ’n verlowing uiteindelik verby. Al daardie jare vermors en verniet. Net soos met die ander.

My eerste verlowing op die ouderdom van ses-en-twintig is beëindig omdat die man ontrou was. Ses jaar daarna is ek met iemand anders getroud, maar die huwelik het verbrokkel. Ek het baie seergekry.

En nou is hierdie laaste verhouding ook tot niet.

Drie verbreekte verhoudings in twintig jaar. Twintig jaar van leef deur en vir iemand anders. En dit alles het op niks uitgeloop. In die donker motor tref die harde feite my. Ek is die ma van ’n tienerseun en sonder ’n heenkome. Ek is stoksielalleen. Die gekraakte porseleinbord het uiteindelik in stukke gebreek.

Daar kom ’n tyd vir ons almal dat jy die patroon in jou lewe begin raaksien. Elke keer het ek toegelaat dat die lewe en liefde my teen die muur gooi. Dan het ek opgestaan, en my lot en geld weer by dié van die volgende man gaan las.

Mens hoor altyd van vroue wat slim skei en hope geld kry. Dit gebeur dalk in die kringe van ryk mense. In middelklaskringe kry jy die helfte, waarvan die meeste gewoonlik skuld is. En jy verloor nie net jou man nie, maar ook jou selfrespek, jou ouma se silwerware in die trek, jou troualbum en jou herinneringe. En jy kom vol krake by jou nuwe blyplek aan.

My bord kan nie meer gelas word nie. Dalk moet ek ophou na liefde soek. Miskien moet ek eerder die stukke wat oor is, bymekaarmaak en met iets nuuts begin.

Nie ’n bord nie, maar ’n mosaïek van die middeljare . . .

Op die Weskuspad ry ek terug, stemme en verwyte en angs soos ’n country-liedjie in my kop. “Jy woon nie meer in jou praghuis nie. Jy is nie meer ’n rykmansvrou nie. Jy is nie meer verlief of verloof nie. Net verlore.”

Verlore.

Maar eerder verlore as om saam met ’n man te woon wat nie wil trou nie.

Eerder verlore as aand ná aand sonder seks of aanraking.

Eerder verlore as om nie goed genoeg te voel nie.

Ja, eerder dít as om wakker te word tussen sagte lakens met die perfekte getal perkaldrade in die perfekte slaapkamer in die perfekte woonbuurt en nie te weet wat de hel jy daar maak nie.

My reis het begin. Daar is nie meer omdraaikans nie.

Hoofstuk 2

“Van wanneer af vloek jy so lelik?” vra my ma wat in die kombuis staan en koffie maak.

Ek rol my oë. Innerlik. Sodat sy nie kan sien nie.

“Ek is in my moer in, Ma! Het Ma gesien hoeveel kos huurhuise? Ek weet nie hoe ek dit gaan bekostig nie. Ek moet nuwe medies kry. Ek kan nie meer my groot motor onderhou nie, ek weet nie wat ek gaan doen nie.”

“Wel, my kind, almal raak soms die pad byster. Selfs Christopher Columbus.”

Vir ’n oomblik is ek verward. Ek het verwag sy gaan my berispe met ’n “jy moes aan al hierdie dinge gedink het toe jy V gelos het”. ’n Geskiedenisles het ek beslis nie verwag nie.

“Columbus?”

“Ja. Dis serendipity, my kind. Jy sal sien.”

“Serendipity!” Die woord ontplof in my mond. “Ma, ek dink nie Columbus het dieselfde probleme as ek gehad nie.”

Die gebruikte koffielepel kletter in die wasbak. “Columbus was in veel groter moeilikheid as jy. Hy het nie na ’n huurhuis gesoek nie, maar na Indië.”

Ek sak op die kombuisstoel neer en trek die koffiebeker nader. My ma en haar stories!

“Christopher Columbus was met ’n seer hart op soek na Indië, maar Indië was nêrens in sig nie. Die bemanningslede het opstandig geraak. Hulle wou omdraai. Hulle was honger. Om die waarheid te sê was hulle heel moontlik op die punt om Columbus te slag en te eet toe hulle uiteindelik land gewaar. Maar raai wat? Dit was nie Indië nie, maar Amerika! Een van die grootste ontdekkings nog.”

Sug. “En ma se punt is?”

“Wel, my punt is, soms soek jy wortelkoek, maar dan vind jy ’n man.”

Nou is ek heeltemal verward. My ma se stories loop gewoonlik draaie, maar hierdie ene kronkel sowaar.

“Laat ek verder vertel,” sê Ma. “Een oggend ry my vriendin Hanna Spar toe om wortelkoek te gaan soek.”

Ek val haar in die rede. “Soos wat Columbus land gesoek het.”

Ek kry ’n vuil kyk.

“Dit was haar baas se verjaarsdag en wortelkoek was sy gunsteling. By Spar aangekom, is daar egter nie ’n wortelkoek in sig nie. Sy ry toe al die pad Woolworths toe drie blokke verder om te gaan kyk of hulle daar wortelkoek het. Met haar kop vol wortelkoek en ander angsgedagtes storm sy by Woolies in en reg binne-in ’n man se arms. So asof hy daar vir haar gewag het.

“Die man vra haar toe waarna sy soek. ‘Wortelkoek,’ fluister sy. ‘Nee, ek dink jy soek vir my,’ sê die man. ‘En nou het jy my gevind.’” My ma roer haar koppie koffie met oorgawe. “Dit was liefde met die eerste oogopslag.”

“Ag, Ma, volgens Ma se stories is dit altyd liefde met die eerste oogopslag. Asof dit tog gebeur! En wat het dit met my te doen?”

“Dis serendipity, my kind. Suiwer serendipity. Sien, serendipity beteken iets soos gelukkige toeval. Jy soek na een ding, maar dan vind jy iets heeltemal anders. Soms kom daar slegte dinge op jou pad, juis sodat jy iets goeds kan vind. Hou maar net moed.”

“Wel, ek soek ’n huis, nie wortelkoek of ’n man nie,” hou ek vol.

Ma glimlag geheimsinnig. “Maar dalk vind jy wat jy regtig nodig het.”

Liefde met die eerste oogopslag.

Hoeveel kere het Ma nie vir my sulke stories van ware liefde vertel nie. Hul oë ontmoet. ’n Horlosie slaan twaalf keer. ’n Glasskoen breek. En hulle weet: Dit is liefde met die eerste oogopslag.

My ma se geliefkoosde liefdesverhaal is egter die ene van ’n perdekar, ’n pakkie suiglekkers en twee paartjies wat mekaar in verskillende eeue op dieselfde plek ontmoet het.

In die laat 1920’s daag ’n jong onderwyseres per trein onder die wolk van ’n smerige skandaal by Bloemhofstasie op. Die skande? Sy was verlief op ’n Engelsman. Gevolglik stuur haar familie haar Bloemhof toe om daar te gaan skoolhou en tot bedaring te kom.

Op die stasie wag die enigste hubare man op die dorp om haar met sy perdekar na die skool te neem. Toe sy by die treinvenster uitloer, sien sy deur die wit stoom ’n lang, donker man.

Dit is liefde met die eerste oogopslag. Hulle was my oupa- en oumagrootjie.

Op presies dieselfde stasieplatform gewaar ’n lang, donker man presies ’n halfeeu later ’n pragtige meisie in ’n wit somersrok. Sy en haar pa, die stasievoorman, sit op ’n houtbankie in die laatmiddagson. Die jong man, ’n stoker op die stoomtreine, bied vir haar ’n suiglekkertjie aan.

Dit is liefde met die eerste oogopslag. Hulle is my ma en pa.

“Ek wens ek kan ook my ware liefde op ’n treinstasie ontmoet,” mymer ek terwyl ek die koppies na die wasbak toe dra.

“Nee, genade my kind, dis te gevaarlik daar met al die treine wat hulle so afbrand,” skerm my ma.

“Toemaar, Ma. Deesdae ontmoet almal op kuberplatforms. Internet dating.”

“Ai, hoe julle mekaar kan raakruik op daai webwerwe weet die vader alleen,” sê my ma.

My ma is reg. Alles is so koud en virtueel. Vir ’n oomblik probeer ek my voorstel hoe die ontmoeting dekades gelede op die treinstasie verloop het: Sonlig wat op ’n enkel val, die glinstering in die jong man se oog toe die perdekar te skerp om die hoek gaan en ’n sagte bors teen sy gespierde arm raak.

Sulke goed gebeur selde tydens ’n koffie-afspraak.

Dis al wat die liefdesoekers mekaar deesdae gun: ’n vinnige koppie koffie so tussen gim en die werk deur. Soms voel dit soos ’n werkonderhoud. Of ’n kruisondervraging. Dit is al lankal nie meer die avontuur van verkenning nie, maar ’n koorsagtige soektog na foute.

Daardie aand klim ek met ’n kop vol liefdestories en kommer oor geld in die bed. Ek kan nie slaap nie. Natuurlik nie. Die donker vou beklemmend om my, die skape wat ek veronderstel is om te tel verander in mans wat my kopskuddend verwerp.

Ek skakel die lig weer aan, trek die rekenaar nader. Ek klik op die liefdesoek-webwerf om te kyk of daar boodskappe vir my is.

Jy het een boodskap! flits dit op die skerm.

Dit is ’n boodskap van ’n man wat homself Sielsgenoot noem.

Sielsgenoot!

Ek klik op sy foto. Glad nie sleg nie. Blonde hare wat grys geword het by die slape, oë die kleur van die diep kant van ’n oseaan. Dan klik ek op die boodskap.

“As ons verlief raak, belowe ek dat ek vir almal sal vertel ons het op ’n treinstasie in Praag ontmoet.”

’n Treinstasie!

Serendipity. Toeval. ’n Sielsgenoot. Ek klap die rekenaar toe. Effens te hard.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS