Wenkbrou_Featured_Image_Blog_Uittreksel_André_Kruger_Redelike_Hoeveelheid_Moeilikheid

Uittreksel: ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid – André Krüger

Voorrede

Nazi-Duitsland, Flossenbürg konsentrasiekamp

8-9 April 1945

KOOP HIER | BUY HERE
’n Plaaslike spioenasie wipplankrit. Robert Ferreira is in die pekel. Sy vrou Sylvia het spoorloos verdwyn. Hy is seker haar Portugese familie, die Monteiro’s van Rossetenville, het iets daarmee te doen. Om dinge te vererger vereis sy bevelvoerder in die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie, dat hy deelneem aan een laaste geheime sending, al is dit teen sy wil… Dit het alles begin met die kaping van die passasierskip, die Santa Maria, in Kabinda. Watter rol het die Amerikaners en Mossad gespeel? En die Russe, waar pas hulle in? Wat van die vermiste koevert, waarvoor almal bereid is om te moor? Robert sal enige-iets doen om sy vrou te vind. Sy bevelvoerder, met al sy kontakte, weet dalk net waar sy is. Hy het dus geen keuse om die laaste sending aan te pak nie. Die vraag is: steek sy vrou dalk ook iets weg? Net tyd sal leer… Die leser word deel van Robert se sending na plekke soos Siprus, Portugal en Beiroet, waar hy vir Julia Breytenbach, ’n Britse SIS-agent ontmoet. Daar is ook ’n aantal ander rolspelers om die gevaarlike Ursula Scheider vas te trek; sy wat die ontwykende koevert in haar besit het. Sal hulle haar kan vang voor die inligting in die verkeerde hande beland, met katastrofiese gevolge vir Suid-Afrika? Ook: gaan Robert sy gevoelens vir Julia in toom kan hou?

Die enigste lig in sy sel kom van die ganglig wat onder die dik staaldeur insyfer. Hy is wakker toe die sleutel in die slot draai, en sit regop om hulle in te wag. Dit is nog nie oggend nie, maar hy het reeds sy uniform aan.

Daar is twee van hulle. Dit is te vroeg vir sy teregstelling, en hy vermoed die ergste. Die twee het nie uniformbaadjies aan nie, net broek, stewels, onderhemp en kruisbande, maar hy weet hulle is SS-wagte; Himmler se monsters. Hulle lyk nie almal soos bullebakke nie, maar hulle almal kom hom so voor. Vir Canaris, die professionele vlootoffisier, is hulle aanstootlik. Dis in hulle oë, het hy vroeër besef. Daar is ’n onnadenkende wreedheid daar, ’n meedoënloosheid, ’n totale gebrek aan empatie vir die wat nie soos hulle is nie.

“Staan op, ou man,” beveel die korter een. Sy aksent is dik Beiers, van München, bes moontlik. Dit is geen verrassing nie. Hulle is in Beiere, sestig kilometer oos van Bayreuth. “Toe, op jou agterpote, Canaris.”

Hy korrigeer, militêr korrek. “Admiráál Canaris.”

“Jy verdien nie meer ’n rang nie, verraaier,” sê die langer een.

KOOP HIER | BUY HERE
’n Plaaslike spioenasie wipplankrit. Robert Ferreira is in die pekel. Sy vrou Sylvia het spoorloos verdwyn. Hy is seker haar Portugese familie, die Monteiro’s van Rossetenville, het iets daarmee te doen. Om dinge te vererger vereis sy bevelvoerder in die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie, dat hy deelneem aan een laaste geheime sending, al is dit teen sy wil… Dit het alles begin met die kaping van die passasierskip, die Santa Maria, in Kabinda. Watter rol het die Amerikaners en Mossad gespeel? En die Russe, waar pas hulle in? Wat van die vermiste koevert, waarvoor almal bereid is om te moor? Robert sal enige-iets doen om sy vrou te vind. Sy bevelvoerder, met al sy kontakte, weet dalk net waar sy is. Hy het dus geen keuse om die laaste sending aan te pak nie. Die vraag is: steek sy vrou dalk ook iets weg? Net tyd sal leer… Die leser word deel van Robert se sending na plekke soos Siprus, Portugal en Beiroet, waar hy vir Julia Breytenbach, ’n Britse SIS-agent ontmoet. Daar is ook ’n aantal ander rolspelers om die gevaarlike Ursula Scheider vas te trek; sy wat die ontwykende koevert in haar besit het. Sal hulle haar kan vang voor die inligting in die verkeerde hande beland, met katastrofiese gevolge vir Suid-Afrika? Ook: gaan Robert sy gevoelens vir Julia in toom kan hou?

Sy aksent is fyner, opgevoed maar plat. Hy is van Bonn, besluit Wilhelm Canaris, tot onlangs hoof van die Abwehr, die Duitse geheime diens. Hy verwag dié dag al lank, die dag van sy dood, tog het hy nog nie vrede gemaak met sy lewe se einde nie.

Reeds in aanhouding vir byna nege maande, sedert Julie 1944, sedert die komplot van Von Stauffenberg misluk het om Adolf Hitler van kant te maak, word hy van konsentrasiekamp na konsentrasiekamp verskuif.

Van een van die ander wagte, een minder bot en brutaal, het hy verneem die Amerikaanse magte is omtrent honderd en sestig kilometer van die kamp af, generaal George Patton aan die opruk en nie te stuit nie. Maar gister word hy ru uit sy sel gesleep en na ’n vertrek geneem in die kamp se hoofgebou. Daar maak hulle hom sit op ’n ongemaklike houtstoel. Op pad, tussen sy wagte, is daar ’n oomblik vir hom om weereens die gebou te bewonder.

Tussen die aaklige barakke en ruwe houthutte vir die gevangenes, is die klipgebou met die rooi dak die enigste aantreklike struktuur in die kamp. Hy is verlig dat hy nog estetika en skoonheid kan waardeer. Dit is die agt en vyftigste lente wat hy beleef, en ook sy laaste.

Hy is daar om vir hoogverraad verhoor te word. Die besef ontstel hom nie baie nie. Hy is ’n slim man.

Hy het die kanse van die begin af opgeweeg, met sy besef dat sy lojaliteit teenoor Duitsland hom dwing om iets te doen om van Hitler ontslae te raak. Hy het geweet wat die gevolge sou wees sou hy gevang word. Daar was nooit enige twyfel nie. Maar hy moes sy gewete volg, moes gehoor gee aan sy liefde vir sy land. Nou, na soveel interneringskampe, soveel selle en hekke en doringdraad, het hy nie meer ’n realistiese verwagting om die oorlog te oorleef nie.

Die uitkoms van die verhoor is vooraf bepaal. Hy protesteer steeds, bepleit sy onskuld, verduidelik dat sy trou aan Duitsland, aan volk en vaderland, nooit geweifel het nie.

Hulle stel nie belang in wat hy sê nie, die offisiere in hulle swart SS-uniforms. Hy is ’n verraaier, van sy mense en sy Führer, oordeel hulle. Hy het sy eed verag en verloën. Sy bloedeed. Hulle het sy dagboek in die kluis in Zossen gekry. Hulle het dit gelees. Hulle was geskok om te sien hoe verraderlik hy uit die staanspoor was, hoe sonder eergevoel, hoe laakbaar.

Nee, hy is skuldig. Skuldig tot die dood. In oorlogstyd, sy vaderland in nood, help hy selfs die Geallieerdes, die vyand. Hoe ontrou is hy nie; ’n afvallige ketter.

Reichsführer Himmler was reg om hom altyd te wantrou. Dank die sterre dat hý beheer van die vaderland se geheime en veiligheidsdienste oorgeneem het. Boonop was Canaris betrokke by die Julie-komplot van die vorige jaar, die een om die Führer te vermoor. Nee, hy moet sterf. Daar is geen ander oplossing nie.

Bloed roep om bloed. Met sy lewe moet hy betaal vir sy verraad.

Summier is hy skuldig bevind, sonder omhaal is die doodstraf oor hom uitgespreek. Een nag sou hy hê om oor sy skande te tob, voor hy vroegoggend ’n verraaiersdood sterf.

Hopelik, het een van die offisiere gesmaal, sal hy dapper sterf. Het hy nie reeds laas jaar geweier om die eerbare ding te doen en self ’n einde aan alles te maak, soos ’n goeie offisier met sy eie dienspistool sou doen nie?

Alleen in sy sel het Canaris gewonder hoekom hy nie daardie uitweg geneem het nie. Hy het nie werklik ’n antwoord nie. Al wat hy kan dink is dat hy nie die Nazi-ge-

spuis se verwronge idee van eer wou gedienstig wees nie. Hy weet hy is nie ’n lafaard nie. Hy weet hy is ’n eerbare man.

“Trek uit,” beveel die korter wag nou kortaf.

“Wat?”

Die hou in sy maag is so hard dat hy op sy knieë neersak.

“Trek uit jou klere, jou vark!” skree die een wat hom geslaan het. “Trek uit!”

Wilhelm Canaris voel die ander man se spoeg op sy gesig. “My uniform,” hyg hy uit. “Dis my uniform . . .”

“Jy is daardie uniform nie waardig nie, verraaier.” Die korter een staan nou langs hom. Sy stewels kort ’n poets, lyk slordig.

“Ek wil in my uniform sterf.”

“Nee. Jy het daardie voorreg verbeur. Trek uit.” Hy klap hom met die plat hand. So hard die ouer man se gewoonlik netjiese grys hare val yl oor sy voorkop.

Hy kom stadig orent, begin uittrek.

“Alles!” beveel die langer een. “Alles. Elke draad klere. Jy het nie meer die reg op waardigheid nie, ou man. Nie hier nie. Dis die prys vir jou verraad.”

Canaris is skaam vir sy oumanslyf. Hy hou sy hande bak oor sy geslagsdele. Daar is genoeg lig vir hom om te sien hoe hulle grinnik.

“Kom staan hier, ou man,” beveel die korter een. “Hier voor my. Skuifel maar nader, dis reg. Net so.”

Hoeveel keer hulle hom slaan, weet hy nie. Hulle vuiste so hard soos yster. Hulle hou nie op voordat hulle albei na asem hyg nie. Die sementvloer is koud onder sy lyf. Alles is seer, alles pyn. Wat maak dit tog saak? Alles is verby. Die stryd is verloor.

’n Laaste brutale skop in sy ribbes. Toe los hulle hom. Hy hoor hoe hulle sigarette opsteek en ruik die rook. Die pyn golf heen en weer deur sy lyf. Hy bly lê, probeer om nie te roer nie. Die sementvloer is ys.

Die korter een kom nader. Hy trek hom orent totdat Canaris voor hom kniel. Met die sigaret in sy mondhoek meet die soldaat noukeurig, een oog skreefgetrek. Hy slaan hom op die brug van sy neus.

Canaris voel en hoor hoe sy neus breek. Dit is die ergste pyn wat hy nog ooit ervaar het. Dit oorrompel sy sintuie. Dis meer as wat hy kan verstaan; sy gesig in ’n oop vlam gedruk. Hy probeer die stromende bloed met sy hande keer.

Die soldaat lag. “Bring ’n lig, Heinz.”

Heinz bring ’n lamp. Canaris bly lê, opgekrul om sy pyn.

Hulle lag, loop geselsend uit, maar los die deur oop. Voetstappe kom nader, kom binne. Die seldeur word toegedruk.

Canaris bly lê en kyk nie op nie. In sy gesigsveld verskyn die nuwe man se blink gepoleerde stewels en snyersuniformbroek. ’n Gevatte offisier, duidelik. Hy hoor die geritsel van ’n vel papier wat uit ’n koevert getrek en oopgevou word.

“Kan jy hoor, verraaier?” vra die offisier. Sy stem het geen emosie nie. “Ek het ’n brief wat ek vir jou gaan voorlees. Luister jy? Goed so. Luister mooi: ‘My liewe Canaris.’” Hy kug, maak keel skoon voordat hy hervat. “‘Dit spyt my dat jou lewe so tot ’n einde moet kom. Dit is nie hoe ’n Duitse offisier moet sterf nie. Maar as verraaier verdien jy hierdie dood. Al het ek jou nooit vertrou nie, kon ek skaars glo hoe deurgrondig jou verraad eindelik was. Jy het geen eer nie. Geen eerbare man sou kon doen wat jy gedoen het, om nie net jou vaderland, maar ook jou Führer, te verraai nie. Om saam te sweer met ander verraaiers is nie die optrede van ’n eerbare Duitse offisier nie. Nou is jy eindelik skuldig bevind en gaan jy na jou dood. Dit is goed so. Maar ek wil nie afskeid van jou neem sonder dat jy weet dat dit ek is wat jou ondergang bewerkstellig het nie. Ek beplan dit reeds sedert 1941. My enigste spyt is dat dit soveel jare geneem het om uiteindelik van jou ontslae te raak. Ek is nie ’n haatdraende man nie. Ek het jou nooit die vrouens beny nie. Hoeveel minnaresse het jy gehad, die wat jy as agente en spioene gebruik het? Kan jy self onthou? Ek weet jy onthou jou gunsteling, Ursula Schreiner. Ek weet sy was vir jou besonder, selfs meer as jou verpestelike worshonde. Daarom wil ek hê, voordat jy sterf, moet jy weet dat dit ek is wat haar operasie in Suid-Afrika verongeluk het. Sy was toe reeds myne. Ja, my liewe Canaris, sy het vir my ook gewerk; werk steeds vir my. En sy is dankbaar, so dankbaar vir my beskermheerskappy. Sy het nooit eens weer aan jou gedink nie. Sý verstaan plig en diens, my liewe Canaris, op wyses wat jy nooit sal begryp nie. Vaarwel nou. Ek kan nie met enige eerlikheid sê dat jou dood vir my enigiets beteken nie. Geteken,’” lees die offisier korrek, “’Heinrich Himmler, Reichsführer-SS.’”

Kan emosionele pyn erger as fisieke pyn wees? In die paar oorblywende ure van Canaris se lewe kan hy nie besluit nie. Wat maak dit tog saak dat sy geliefde Ursula, die pragtige vrou uit Afrika wat hom soveel plesier besorg het, hom nie eens wil onthou nie? Niks maak meer saak nie. Niks. Dit was alles verniet.

Die kamp is stil en elke geluid val hom op. Met gereelde tussenposes hoor hy die knars van die wag wat bui-te patrolleer se stewels. Iemand hoes in die gang, ’n uitgerekte klank wat stadig wegkwyn. Sonder waarskuwing blaf een van die waghonde verwoed buite en word stil geskree. Hy verlang na sy worshonde. Hy dink hy hoor ver weg die gekrys van ’n kraai.

Hy kan nie slaap nie. Naak, stukkend geslaan en verslae, wag hy vir die wagte.

Hulle kom haal hom net voor dagbreek.

Hulle praat nie met hom nie, sleepdra hom na die vertrek waar hy tereggestel gaan word. ’n Offisier wag reeds daar. Sy SS-uniform is swarter as die nag wat afskeid neem. Een van die wagte, met die breë hande van ’n plaasarbeider, gespe die metaalkraagband om Canaris se nek. Niemand praat nie. Doodse stilte.

Die offisier knik. Die twee wagte trek hard aan die tou, hys Canaris hand oor hand op totdat hy skoppend hang. Hulle bind die tou om ’n slagtershaak, die geroeste staal diep in die muur gemessel.

Hulle rook terwyl hulle wag vir hom om dood te gaan.

Toe maak hulle die tou los en laat sak hom.

Die offisier kom nader, buk. “Hy leef nog,” sê hy en vee sy hande vieserig aan ’n sakdoek af.

Die soldate hys hom weer op totdat hy hang, bind die tou aan die haak.

“Hoe lank vat dit ’n ou man om te vrek?” mompel die offisier vies.

Dertig minute. Dit neem dertig wurgende minute.

Die offisier rook eers tydsaam klaar. Onbelangstellend bekyk hy die stadig swaaiende liggaam van die ouer man. ’n Laaste trek, dan laat val hy die stompie en trap dit puntenerig dood. “Laat sak hom,” beveel hy.

Hy buk langs die liggaam, voel lank vir ’n aar in die nek voordat hy orent kom en sy hand weer aan sy sakdoek afvee.

“Begrawe hom buite. Merk nie die graf nie. Verstaan?”

Zu Befehl!” sê die wagte gelyktydig.

DEEL 1

Hoofstuk 1

Suid-Afrika, Maart 1960

In sy kantoor, in Marshallplein, hoor majoor Robert Ferreira hoe die nuus deur die gebou versprei. Dit is nie gewoonlik ’n gebou wat stil is nie, maar die geluid van mense wat hardloop en hard roep is onverwags, ongehoord. Veral op ’n Maandagmiddag. Luide stemme en dringende geluide spoel soos ’n golf deur die gebou, tot by sy deur.

“Wat de hel is aan die gang, Doppies? Het die duiwel in almal gevaar?” roep hy toe sersant Le Roux verbydraf. Almal noem hom Doppies omdat hy ’n netjiese ry 40 mm- Bofors-kanondoppe op die vensterbank agter sy lessenaar uitstal. Niemand weet hoekom nie.

Hy weet heeltemal te veel van Doppies, voel hy, soos ook van vele van die ander manne in die gebou. Vir ’n rede wat hy nie verstaan nie, is hy die een of ander soort biegvader vir hulle. Sy kantoor se drumpel wat deurgetrap word as daar probleme met vrouens of geld is. Hy wat raad gevra word oor toekomsplanne. Hy is die een wat geskille en afguns en venyn tussen hulle moet ontrafel en ontlont. Gewoonlik gee hy nie om nie, maar soms wonder hy hoekom nou juis hy? Hy het mos sy eie probleme. Sommer baie van hulle.

Doppies steek so vinnig vas sy skoensole gee ’n lang tjiiirp op die gepoetste vloer. Toe verskyn sy kop om die deur se raam. “Sharpeville, Majoor,” hyg hy, sy wange rooi, sweet op die voorkop.

“Nou wat nou, Doppies? Dis mos net die een of ander optog. Wat skeel nou?”

“Hulle betoog van vroeg af teen die paswette, ja Majoor. Alles was reg, maar skielik sak daar ’n leërskare mense op die plek toe. ’n Moerse klomp, Majoor. Te veel. En oproerig. Kolonel Pienaar is soontoe met versterkings. Toe bars die duiwel los, majoor. Daar was ’n geskietery . . .”

“Hulle of ons?”

“Lyk my ons, Majoor. Jerry sê my hy reken daar’s vier-, vyfhonderd dood, Majoor.” Doppies se oë is groot en rond.

Robert voel skielik ongemaklik, begin rondsoek vir sy sigarette. Polisie skiet mos nie op ongewapende mense nie? Dis nie hulle werk nie. Iets is fout, iets is heeltemal fout.

Hy het tyd nodig om te dink. Almal het tog gemeen dit gaan ’n vreedsame optog wees. Hoe kon dit so skielik, en so bloedig, skeefloop?

Terwyl hy ’n sigaret aansteek, praat Doppies nog een stryk deur. “Dis ’n helse hêrrie, Majoor. Tot die lugmag was daar met Sabres en Harvards, so vertel Jerry my. Hulle het gereken die geraas van die Sabres, hulle straalenjins, sal die skare verskrik as hulle laag genoeg oor hulle koppe vlieg. Hettie gewerk nie.”

“Maar hoekom is daar geskiet, Doppies? Wat hoor jy?”

“Jis, Majoor, sou Majoor nie ook geskiet het nie? Daar was duisende van hulle. Tot soveel as vyftigduisend, het ek gehoor. En Sharpeville se polisiestasie het net twintig man . . .”

“Maar daar is mos versterkings gestuur?”

“Is so, Majoor,” knik Doppies, maar sy frons bly diep. “Kolonel Pienaar en sy versterkings, soos ek mos gesê het. Maar hulle was maar honderd en veertig man. Wat moes hulle doen teen so leërskare? Buitendien, Jerry sê hy hoor dit was een van die jong konstabels wat alles afgeskop het. Oor hy bang was. Hy’t homself skynbaar omtrent beskyt, en toe begin hy sommer skiet. En skielik was dit net skote. Was nie ’n lang skietparty nie, Majoor. Jerry sê minder as ’n minuut. Maar daar’s baie lyke, so sê Jerry.”

“Wie de hel is die Jerry waarvan jy so praat, Doppies?”

“Sersant Jeremia Schoeman, van Moord en Roof. Daai ouens weet mos alles van alles, Majoor.”

“Hmm, so dínk hulle, ja. Dankie, Doppies.”

“Is reg so, majoor.” Hy lyk of hy wil salueer, toe vergeet wat hy wou doen. Hy spring om en drafstap weg, gang-af.

Alleen in sy kantoor draai Robert ’n potlood tussen sy vingers. Hy wonder wat dit alles beteken. Wat dit ook al is, voel net verkeerd.


Later praat almal daaroor. Die koerante vol van die stories en foto’s. Dit is daar vir almal om self te sien: Lyke in die stof, patetiese bondels wat vroeër mense was, verflenterde klere en stukkende skoene. Skoene altyd alleen. Altyd onpaar, ontpaar.

Lyke is niks nuuts vir Robert nie. Hy het al genoeg van hulle gesien, beide as soldaat en polisieman. Nou, in sy veertigs, weeg dit swaarder op sy gemoed. In sy jonger dae, aangevuur deur oortuiging, geloof en watter ideale ook al, was dit veel makliker. Maar met elke konflik, elke dood en elke geveg waar iemand so hard probeer het om hom dood te maak soos hy hulle, het sy doodsywer afgeneem.

Hy het te veel lyding en verwoesting gesien en beleef, en voel hy het nou genoeg gehad. Sy optrede was gewoonlik veroorloof in terme van die reëls – daardie reëls wat politici maak om dood te regverdig – en morele oortuiging.

Aanvanklik was dit genoeg om sy gewete stil te hou. Daar was ’n tyd toe hy gedink het dit pla hom nie. Dit was oëverblindery. Hy besef nou hy wou toestemming hê, wou weet hy is reg, en iemand anders verkeerd. Daarom het hy ’n uniform gedra: Dit het hom legitimiteit gegee. Nou het hy geleer dat die absolute minder aanvaarbaar is as die relatiewe, dat daar meer aan lewe en dood is as geloof en ideale. Mense is nou eenmaal meer kompleks as sisteme.

Daarom dat dit hierdie keer vir hom anders voel, asof iets in hom, wat lankal losgeraak het en skuif, nou permanent versit het. Die eerste, ongemaklike, verskuiwing het in Spanje gekom. As vroom Katoliek het hy gaan veg vir die regte kant, vir Franco en die Nasionaliste, teen die rooi gety wat die Kerk veral bedreig het. Maar daar het hy algaande begin verstaan niemand se motiewe is suiwer nie. Soveel vergrype as wat daar was aan die kant van die kommuniste en anargiste, soveel was daar ook van die Nasionalistiese magte van Franco, veral die fascistiese Falangiste. Hy het gesien hoe gevangenes mishandel, genadeloos gemartel en voor die voet doodgeskiet word. En toe kom Thomas, die deurwinterde anargis, die sluipmoordenaar wat op ’n sending was om Robert te vermoor. Terwyl hy in die gapende loop van die man se Luger gekyk het, het Thomas hom vertel dat hy ontgogel is. Dat hy genoeg gehad het van geweld en ideologie, en daarom sy lewe spaar.

Nadat die man weg is, het Robert begin dink, en verander.

Toe die Wêreldoorlog kort daarna uitbreek, het sy gewete hom gedwing om teen die Nazi’s te gaan veg. Daaroor het hy ook baie gedink: Eers veg hy vir fasciste, toe teen hulle, en alles as gevolg van wat hy as sy plig gesien het. Dit het hom laat verstaan dat niks eenvoudig is, dat geen mens of situasie of oortuiging net swart op wit beoordeel kan word nie, hyself ingesluit. Die wêreld het vir hom meer en meer skakerings van grys aangeneem.

Jare later loop hy Thomas weer in Suid-Afrika raak. Thomas het heeltemal verander, het ’n vredige man geword. En as so ’n genadelose dissipel van geweld kon verander, dan kon, en moes, Robert ook.

Miskien is dit ook oor die ander mense. Die Sondag, toe hy en Sylvia, sy vrou, mis toe gaan, staar die hele gemeente hom aan. Vyandige oë deurboor hom. Almal weet hy is ’n polisieman. Die enigste een in die parogie. Hier, in sy gemeente, voel hy selfs meer as gewoonlik soos ’n buitestander.

’n Buitestander was hy ook nog altyd in die oë van sy vrou se familie. Uit die staanspoor was hulle gesluit voor hom. ’n Hegte familie, agterdogtig oor buitestanders, het hulle hom stief behandel. Dit was byna iets geheimsinnigs, die sterk band tussen familielede, en iets wat hy nooit kon kleinkry nie. Sylvia se Portugees-Katolieke familie het hom nooit meer as net verdra nie.

Sy eie familie, sy ma en pa, was eenvoudige mense. Tussen hulle Afrikaner-bure, het hulle soos daardie mense geword. Nominaal Katoliek, het hulle dit nie uitgeleef nie, eerder die Calvinistiese uitkyk op die lewe geïnternaliseer. Nie net het hulle Afrikaans as huistaal gepraat nie, maar hulle het Afrikaans geword, hom na Afrikaanse skole gestuur. Hulle het min gepraat. Geglo in harde werk, eerlikheid en nooit kla nie. Hulle huis was vierkantig, netjies en prakties, stil binne, byna sonder versiering. Robert kon sy oë skaars glo toe hy skielik blootgestel word aan Sylvia se familie. Hulle was vir hom raserig en spandabelrig, oordrewe en selfbewus (het dit hom gevoel) gekultiveerd, oordadig Portugees en Katoliek. Hy het hulle glad nie verstaan nie. Ook nie waarom hulle neergesien het op hom nie, waarom hulle hom uit die staanspoor as ’n byna verfoeilike indringer beskou het.

“Ons is ’n ou familie,” het sy probeer verduidelik. “Ons oorleef eeue lank al omdat ons saamstaan, omdat ons net op mekaar vertrou. Boonop was ons nie altyd aan die regte kant van die gereg nie. Hoe dan anders in so ou familie? Politieke skommelinge, verskuiwende norme, nuwe en veranderende wetgewing deur die eeue; alles maak dit onmoontlik vir een groep om tog immer aan die regte kant van die wet te bly. Dit kan jy tog seker verstaan?” Sy het sy hand in beide hare geneem. “En dink jou net in hulle skok toe ek staan verlief raak op iemand wat kies om ’n polisieman te word, ’n verteenwoordiger van die staatsgesag. Hoe dan anders dat my familie versigtig vir jou is, dat hulle jou nou so wantrou?”

Hoeveel daarvan hy moet glo weet Robert nie, deels omdat hy nie wil weet nie. Sy verhouding met Sylvia is moeilik genoeg – met tye wonderlik, met ander ’n diaboliese beproewing – vir hom om nog energie te mors om hom oor haar familie te verknies. Hy is lief vir haar; hy is. Die aantrekkingskrag tussen hulle is so sterk dat niks tussenbeide kan tree nie. Maar hulle baklei gereeld. Sommige van daardie episodes grens aan die epiese.

Die fokuspunt is gewoonlik haar familie, maar sy werk veroorsaak ook wrywing. Hy doen maar net sy plig soos hy dit sien, onderskryf deur wat oor is van sy beginsels. Nou, vir die eerste keer in sy lewe, ly hy aan die soort twyfel wat hom snags wakker hou. ’n Onlangse, onwelkome verskynsel. Hy besef dit broei al lank, die onaardige gevoel dat hy nie die regte ding doen nie.

Hy het minder twyfel gehad toe hy in Spanje teen die kommuniste, in die Wêreldoorlog teen die Nazi’s en toe weer in Korea teen ander kommuniste gaan veg het. Maar onlangs het dit veel erger soos ’n rot aan hom begin knaag. Stukkie vir stukkie word die fondament van sy oortuigings weggevreet.

Dit het vir hom na ’n vanselfsprekende stap gevoel om van Militêre Intelligensie oor te stap na die Veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie, en aanvanklik was dit ook so. Maar toe, algaande, het hy begin voel hy is nie meer in stryd met die kanker van Bolsjewisme nie, veg nie meer teen iets wat sy waardes, en die van die Katolieke Kerk, vyandiggesind is nie.

Dit het te veel begin voel soos ’n stryd teen burgerlikes, mense wat vryheid en geregtigheid soek. Ongetwyfeld was daar ook ideologie by betrokke, maar hy het die onrustige gevoel begin kry dat hy aan die verkeerde kant van die geskiedenis staan. Dat, sou hy so voortgaan, hy kort voor lank skuldig sou wees aan iets waarvoor die Kerk en sy eie gewete hom sou veroordeel. Dit sou hy nie kon bekostig nie.

Nou, hier in die kerk, ’n plek waar hy altyd rustigheid kry al is hy nie meer die mees toegewyde Katoliek nie, voel dit vir hom of almal hom in die stilligheid beskuldig en verkwalik. Asof hy self by Sharpeville was, asof hy die bevel gegee of ’n sneller getrek het.

Die gemeente het ongetwyfeld die nuus op die radio gevolg, en toe die foto’s in die koerante gesien. Veral in die meer liberale Engelstalige Sondagkoerante, wat oopvoubladsy na oopvoubladsy daaraan afgestaan het.

Die oë neem hom kwalik. Dit is sy skuld. Hy is deel van die Bose, dra die uniform van dié wat onskuldiges geskiet het. Hy gehoorsaam hulle bevele; hy voer hulle opdragte uit.

Vader Paul preek oor vergifnis, oor naasteliefde, en oor die boosheid van onderdrukking. Sy teksverse is Mattheus 5 vers 6: “Salig is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word”, en vers 10: “Salig is die wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele”, en vers 22: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.” Hy haal ook Romeine 13 vers 10 aan: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet”. En laastens, met sy oë op Robert, Mattheus 5 vers 21: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg”.

Die woorde kasty Robert, maar hy wys niks. En vader Paul hou hom, spesifiek hom, in die oog terwyl hy preek, terwyl hy uitvaar teen die boosheid van staatsonderdrukking en hardvogtigheid en geweld. Daar is vuur in sy oë, die vlamme van regverdigheid, van vierkant oortuig staan teen ongeregtigheid.

Vir oomblikke voel dit vir Robert asof selfs die beeld van die Heilige Maria, haar gesig gewoonlik so vredig, hom verwyt. Die lydende Christusbeeld, voor in die koelte van die klipkerk, slaan hom eweneens teleurgestel gade.

Robert bly sit tot die einde, totdat almal mekaar vrede toewens terwyl hulle hom ignoreer, totdat vader Paul hulle wegstuur met ’n vade in pace.

“Ek was altyd ’n buitestander en ’n vreemdeling by die werk,” sê hy vir Sylvia terwyl hulle uitloop. “Nou is ek hier ook.”

“Jy oordryf.”

“Geensins. En jou familie maak dit erger. Hulle verag my omdat ek nie van julle klas is nie, omdat ek Afrikaans is.”

“Mens sal sweer my familie het invloed,” probeer sy grap.

Hy byt nie. “Hulle het. En veral hier. Die gemeente respekteer julle, van die priester tot die oudste oumatjie onder haar swart tjalie; almal buig die knie voor die Monteiros.”

“Skei uit. Ons moet opskud. Die familie wag vir ons. Jy weet my pa haat dit as ons laat kom vir middagete.”

Hy wil nog redekawel, maar besin. Hoeveel keer het hy al probeer verstaan? Hoeveel keer het hy al probeer om die familie se goedkeuring te kry? Altyd tevergeefs.

Aan tafel by sy skoonfamilie laat hulle hom ook behoorlik les opsê. Een na die ander. Oubaas Castro, sy skoonpa, en Fausto en Marco, sy swaers, praat om die beurt en oor mekaar, verhoor hom totdat sy ore toeslaan. “Verdomde Afrikaners”, hoor hy, en “onopgevoede spul boere”, en “onderdrukkers”, en “naasteliefde”, en “verstaan nie die moderne wêreld nie”, en “polities naïef”, en “agterlik”, en vele meer slaan sy ore toe.

Sylvia se ma sê soos gewoonlik niks. Haar afkeer slaan soos ’n muf reuk op uit haar swart rok.

Terwyl sy ’n bak groenbone na hom uithou, begin sy egter met ’n frons: “Robert . . .”

Verder as dit kom sy nie. Oubaas Castro sit sy mes en vurk hard neer en gluur haar aan.

Sy bly stil. In die huis praat net die mans.

Eindelik gaan soek hy skuiling onder die druiweprieel agter die huis. Hy steek ’n sigaret aan en kyk hoe die voëls in die vrugtebome kwetter en van tak na tak hop.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS