Liefdesles

Uittreksel: Liefdesles

Een

Saterdag, 23 Maart

KOOP HIER | BUY HERE
Liefdesles is die derde en laaste boek in Vita se trilogie. Klaskamer en Skoolgeld was die eerste twee. Daniël en Emma se verhouding is steeds ingewikkeld: Daniël probeer sy vervreemde vrou, Sally, oorreed om die egskeiding toe te staan en Emma sukkel om vir Daniël te vertel dat sy swanger is. Sal Daniël haar steeds na sy klaskamer neem? Is BDSM veilig tydens swangerskap? Sal Daniël kan vrede maak met die verlede en sy verhouding as jong seun met die onderwyseres, die verhouding wat sy seksvoorkeure bepaal het, sien vir wat dit was? Vir Daniël en Emma kom die liefde uiteindelik met baie lesse.

Emma staan voor die venster en kyk hoe die wind die branders se skuimkoppe op die swart rotsbanke platvee. Op die strand plas twee kleuters in die rotspoele onder die wakende oog van ’n vrou wat sy skat omtrent haar ouderdom is. Haar hart word swaar. Hoe gaan dit met Neal? Gaan Sally aanhou om Neal te gebruik om Daniel te manipuleer? Of sou Daniel Sally kon oorreed om in te stem tot ’n egskeiding? Alle pogings van Daniel om met haar in aanraking te kom het sy botweg geïgnoreer en sy WhatsApps en e-posse uitgevee sonder om dit te lees. Hoe pynlik dit ook al is, dit is al opsie. Sy het ’n verhouding met ’n getroude man aangeknoop en nou moet sy die prys daarvoor betaal.
Sy draai weg van die venster. Sy moet ophou wroeg oor Omdraai se mense. Eerder op haar eie toekomsplanne fokus. In die oopplankombuis maak sy vir haar koffie en dra dit sitkamer toe. Maar sy het nie toekomsplanne nie. Dit is asof sy in limbo is sedert sy twee weke gelede weg is van Omdraai. Haar geheue is steeds vol gate; maak nie saak hoe hard sy probeer onthou wie Emma Louw was voor haar pad met Daniel Swart s’n gekruis het nie.
Ingedagte drink sy haar koffie en staar uit oor die see agter die groot glasvenster. Seevoëls maal in die blou lug, torpedo tussen die branders in. Hulle lyk so vry. Só in beheer van hulle lot. Sy wens sy kon haar branderplank op haar nuwe RAV se dakrak laai en Kogelbaai toe ry. Die afgelope tyd was die see haar toevlugsoord as die lewe druk. Op haar surfboard vervaag die werklikheid tydelik wanneer die branders soos ’n kokon om haar vou en die gedruis van die water al is wat sy kan hoor. Maar vandag het sy ander verpligtinge: Middagete saam met haar ma by haar huis op Stellenbosch. En sy kan die onafwendbare nie langer uitstel nie. ’n Walk in the park gaan dit nie wees nie. Anders as haar pa by wie sy op die oomblik bly, gaan haar ma krap waar sy nie moet nie. Karring tot sy antwoorde kry op al haar vrae oor haar enigste dogter se lewe wat so van koers af geloop het.


Daniel gaan sit in ’n koeltekol met sy rug teen ’n rotsstapel en staar uit oor die plaas onder hom. Die tekens van die droogte is oral sigbaar. Hy skuif sy pet agteroor en vee die sweet van sy voorkop af. Dankie tog – sy boorgate het nog nie opgedroog nie en sy voerskuur is nog nie leeg nie. En veel belangriker: Hy het hoop vir die toekoms. Vir ’n toekoms saam met Emma, want Sally het uiteindelik ingesien sy is aan die verloorkant met haar onredelike eise. Ná samesprekings tussen sy prokureur, Dolf, en die prokureur wat Sally verteenwoordig, het sy ingestem om nie die egskeiding in die hof te betwis nie. Die egskeidingsaak is reeds op die hofrol geplaas en oor twee weke gaan hy ’n vry man wees. Dan gaan hy vir Emma haal. Op sy knieë smeek as dit nodig is totdat sy instem om met hom te trou. As hy net intussen haar stem kon hoor. Weer vir haar kon sê hoe lief hy haar het. Maar Emma het dit duidelik bedoel toe sy die dag toe sy weg is op Omdraai vir hom gesê het hy moet nie met haar in aanraking kom voor sy egskeiding afgehandel is nie. Hy het probeer bel, WhatsApps en e-posse gestuur, maar sy ignoreer hom elke keer. Sê nou dis te laat? Sê nou haar ouers het haar intussen oorreed om te vergeet van die man wat haar lewe so op sy kop gedraai het?
Daniel tel ’n hand vol grond op en laat dit deur sy vingers loop. Sê nou sy uurglas het leeggeloop en Emma gee hom nie weer ’n kans nie? Nee, verdomp, nee. Emma se afskeidswoorde maal deur sy kop: Nie alle liefdesverhale het gelukkige eindes nie. Maar hulle storie het skaars begin. Emma was nie eens drie maande op Omdraai nie. Drie maande waartydens alles vir hom en Emma verander het. Ondanks die struikelblokke en Emma se motorongeluk het hulle besef hulle is sonder voorwaardes en eise lief vir mekaar. Tot die dag toe Sally haar opwagting op Omdraai gemaak het en alles opgedonner het wat vir hom kosbaar is. In die verte sien hy twee stofwolke aankom. Neal en sy perdeafrigter, Ricus, wat hom vanoggend vir sy gebruiklike weeklikse perdryles geneem het. Daniel staan op en strek sy arms bo sy kop uit voor hy koers kry teen die steil paadjie af. Sedert Sally en Emma op dieselfde dag weg is van Omdraai, trek Neal swaar; een van die redes hoekom hy sy bes doen om Neal se roetine nie onnodig te ontwrig nie. Hoe verduidelik jy vir ’n vierjarige sy ma wat vir agt maande bloot uit sy lewe verdwyn het en toe weer uit die bloute haar opwagting gemaak het, dra sy belange op die hart? Of die au pair wat hom vir drie maande met soveel toewyding en liefde versorg het, gee steeds om vir hom ondanks haar afwesigheid? Kom wat wil, hy sal sy seun wys op hóm kan hy altyd staatmaak. Daarom móét hy positief bly.
By die stalle wag hy hulle in. Hy lig Neal uit die saal en druk die seunslyf styf teen hom vas voor hy hom op die grond neersit. “Lekker gery, grootman?” vra hy glimlaggend.
Neal knik bedees. “Kan ek gaan kyk waar’s die hanslammers?

KOOP HIER | BUY HERE
Liefdesles is die derde en laaste boek in Vita se trilogie. Klaskamer en Skoolgeld was die eerste twee. Daniël en Emma se verhouding is steeds ingewikkeld: Daniël probeer sy vervreemde vrou, Sally, oorreed om die egskeiding toe te staan en Emma sukkel om vir Daniël te vertel dat sy swanger is. Sal Daniël haar steeds na sy klaskamer neem? Is BDSM veilig tydens swangerskap? Sal Daniël kan vrede maak met die verlede en sy verhouding as jong seun met die onderwyseres, die verhouding wat sy seksvoorkeure bepaal het, sien vir wat dit was? Vir Daniël en Emma kom die liefde uiteindelik met baie lesse.

Frustrasie laai in hom op. Deesdae bring Neal hopeloos te veel tyd in die kamp by die hanslammers deur. Ondanks sy pogings om voor te gee dat alles normaal is, kruip Neal al hoe meer in sy dop sedert Sally en Emma weg is. Vandat Sally ingestem het om te skei en afgesien het van haar belaglike plan om toesig oor Neal te kry, het hulle haar nog nie weer met ’n oog gesien nie. En is dit regtig nodig dat Emma alle kontak met Neal ook vermy omdat sy nie met hom wat Daniel is, wil praat nie? “Eers nadat jy oom Ricus gegroet het en Koos gaan vra het om te kom afsaal.”
’n Ruk later, toe hy en Ricus in die rigting van die perdeafrigter se bakkie stap, sê Ricus: “Ek dink Neal mis Emma meer as sy ma. Seker maar oor Sally hom ’n bietjie hard gedruk het met die perdrylesse. Min kinders van sy ouderdom is so tuis op ’n perd se rug soos Neal, maar hy het my gesê hy hou nie van spring nie.” Ricus lag. “Volgens hom is Cloud nie ’n sirkusponie nie. Nietemin, Sally het my gebel. Sy’t aansoek gedoen vir werk op ’n perdeplaas naby Sir Lowry’s Pass Village. Sy wou weet of sy my as ’n verwysing kon gebruik. Ek het toe met die eienaar gepraat. Klink na ’n oulike girl. Ek het haar verseker Sally sal die job goed kan doen.”
“Tot sy weer wanderlust kry,” sê Daniel amper meer vir homself as vir Ricus. “Nietemin, ek is bly as sy rigting kry. Volgens ons egskeidingsvoorwaardes moet sy eers ’n vaste werk en blyplek hê voor ek sal toelaat dat Neal haar besoek.”
“Ja-nee, trou is wragtigwaar nie perdekoop nie. Dis hoekom ek nog ’n losloper is.” Ricus trek sy cowboyhoed laer oor sy oë. “Terloops, wanneer kom Emma terug? Vir só ’n girl kan mens dalk jou toekomsplanne plooi.”
Daniel kners op sy tande, maar hy moet kophou. Al wil hy vir die hele wêreld vertel hoe hy oor Emma voel, durf hy dit nie in dié stadium doen en Emma se goeie naam skade berokken nie. “Dit sal die tyd maar moet leer, maar terwyl sy nie heeltemal fiks en gesond is nie moet sy dit net rustig vat. Neal kan nogal ’n handvol wees.
Ricus klim in sy bakkie. “Hy’s ’n oulike laaitie. Hy sal settle sodra dinge terugkeer na normaal.”
Normaal? Niks sal ooit weer normaal wees voor Emma weer deel is van sy en Neal se lewe nie. “Ek doen my bes, maar om ’n enkelouer te wees is wragtig nie aldag maklik nie. Gelukkig is Ans en neef Kobus altyd bereid om hand by te sit. Maar deesdae moet ek Neal dwing om op die buurplaas te gaan kuier. Dis asof hy bang is ek gaan nes Sally en Emma net padgee uit sy lewe as hy my onder sy oë uitlaat. Nietemin, ek glo dit sal vorentoe beter gaan. Dankie vir wat jy doen om hom te help.”
“Geen probleem. Hier rol ons mos maar die klippe uit mekaar se pad.” Hy skakel die bakkie aan. “Gaan jou goed.”
Toe Ricus wegry, loop Daniel in die rigting van die kamp waar die hanslammers en ’n paar dragtige ooie wei. Hy het bedoel wat hy vir Ricus oor Sally gesê het. As sy haar voete vind, is daar dalk tóg hoop dat daar ’n goeie ma-seun-verhouding tussen haar en Neal kan ontwikkel. Al sou hy kies het om haar nooit weer te sien nie, moet hy Neal se belange bo sy eie stel. En of hy nou daarvan hou of nie: Neal is lief vir sy ma met haar foute en al.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS