Kroonwild

Uittreksel: Kroonwild

Ouderdomsbeperking: 18

Een

KOOP HIER | BUY HERE
'n Wit man soos Paul is so goed soos kroonwild ... In die vorige bedeling was Paul van Heerden se lewe een van gemak: groot huis in Pretoria se vooraanstaande woonbuurt, vanselfsprekende bevordering in die werk, welvaart en voorspoed. Toe kom die opstande en die grondbesetting. Nou word die Volksrepubliek van Azanie deur Die Party regeer. Alle wit mense is Weskaap toe verban. Die wat in Azanie wil werk, word toegelaat, maar word onderwerp aan dieselfde vernederende praktyke wat gedurende die Apartheidsjare beoefen is. Paul se vrou en kinders sit in 'n tentekamp in die Kaap, hy bly in 'n hostel en sukkel om sy werk te behou. Paul het egter 'n plan: hy begin met mampoer smokkel. Kort voor lank het hy 'n weldoener en sakevenoot in Thabo Ntombela, mampoerstokers en verspreiders. Besigheid 166p. Maar in Azanie wil elkeen sy deel hê en 'n wit man soos Paul is so goed soos kroonwild.

Die laatmiddagson wat lusteloos deur die vuil en verslete gordyne van kaptein Vusi Toli se kantoor syfer, help nie om sy gemoed te lig nie. Hy was nou op pad huis toe waar Elsie, sy vrou, vir hom wag met ’n koue bier en ’n bord warm kos. Maar nee. So gelukkig kan geen mens blykbaar wees nie.

Twee wittes, betrap met drank. En dit met selfone in hul besit. Geheel en al teen die wet. En nou moet hy wat Vusi is, sy tyd mors om hulle reg te sien. Hy sug en tel die dossier op wat Thandi Buthelezi ’n paar minute gelede op sy lessenaar neergesit het. Thandi, ’n jong, statige Zoeloe-meisie, het direkte bloedbande met die koningshuis. Die Party erken nie die koninkryk nie en het die Zoeloe-vors in statuur verlaag na net nóg ’n werklose man in die vlaktes buite Ulundi. Die Leier, sonder ’n druppel Zoeloe-bloed in sy are, het duidelik plesier daaruit geput. Maar Thandi laat niemand van haar statige herkoms vergeet nie. En dit sonder om ’n woord daaroor te sê.

Die eerste aangeklaagde is ’n man van een en veertig. Paul van Heerden, staan daar. Die tweede, ’n jong man van twee en twintig, se naam is blykbaar Nico Brand. Hulle is betrap met ’n voertuig vol drank. ’n Tata-bakkie, volgens die dossier. ’n Witte. Tweeliterenjin. Registrasienommer bla-bla-bla.
Ongeduldig blaai Vusi om. Die kleiner detail, soos neergepen deur die oorywerige konstabel, gaan geen verskil aan sy vermorsde middag maak nie.

Hy vloek saggies en staan op. Hy maak sy skootrekenaar toe en sit dit sorgvuldig in sy sak. Hy sal die storie sommer klaarkry op pad uit. Deur die een venster waar die gordyn halfoop hang, sien hy die rookmis oor die stad. Waar die mense al die hout, houtskool of steenkool vandaan kry, weet hy nie. Maar met die elektrisiteitsvoorsiener wat blykbaar net werk wanneer die planete reg lê, het die mense nie ’n keuse nie.

“Ek loop nou,” sê hy vir Thandi. Vusi voel weer die ou onderdrukte minderwaardigheid in hom opbloei. Van waar sy op haar stoel sit, ’n goeie meter onder sy kop, kyk sy neer op hom. Hy weet nie hoe sy dit regkry nie. Thandi is sy ondergeskikte; die sekretaresse vir die ondersoekafdeling. Sonder rang. En hy is ’n volwaardige kaptein, met al die voordele én respek wat sy posisie verdien. Maar as Zoeloe-prinses kyk sy op hom neer asof hy niks minder as ’n luis is nie.
“Wat van die dossier?” vra sy. Daar is geen intonasie in haar stem nie. Dit klink nie asof sy hoegenaamd belangstel in sy opinie nie.
“Dis wat ek nou gaan uitsort. En dan gaan ek huis toe. As ek klaar is, gaan dit in elk geval ná knock-off time wees, so ek gaan nie terugkom nie.” Hoekom moet hy dit aan haar verduidelik?
Thandi sê nie ’n woord verder nie. Sy draai haar oë terug na haar rekenaarskerm en gaan aan met haar werk.
Met ’n impotente sug draai Vusi weg en stap na die trappe toe. Sy kantoor is op die vierde verdieping en dit sou alles goed gewees het as die hysbakmaatskappy nie hul besigheid gesluit het nie. Hulle is landuit, tesame met honderde ander maatskappye en toe die hysbakke in die gebou gaan staan, het die bestuur die personeel aangesê om die trappe te gebruik. ’n Chinese kontrakteur sou die hysbakke binne weke kom regmaak. Dit was drie jaar gelede.

Die aangeklaagdes, Van Heerden en Brand, word in die kelder van die gebou aangehou, twee vlakke onder grondvlak waar polisievoertuie in verskeie grade van verval die parkade vol staan. Dus ses verdiepings se trappe af. Maar look on the bright side, dink Vusi. Enige ekstra oefening is seker ’n bonus. As polisiekaptein sit hy gans te veel agter sy lessenaar. Hy kom nooit by ’n gimnasium uit nie. Dalk is dit net wat hy nodig het.
Hy trek sy pens in en stap met die trappe af.

By die aanhoudingselle gaan hy staan. Die ligte flikker; in die verte raas ’n kragopwekker. ’n Paar maande gelede sou sake soos hierdie nog hof toe gaan, maar dit was oorblyfsels van die vorige regering waar mense nog onskuldig was tot die teendeel bewys is. En natuurlik sou die vonnis tronkstraf behels. Maar Die Party het met baie praktiese reëlings gekom. Sou die aangeklaagde in die vorige bedeling skuldig bevind word, moes die Staat hom van kos en blyplek voorsien vir hoe lank die vonnis ook al mag wees. En dit kos alles geld. Nou nie meer nie.

Vusi sit sy rekenaarsak op die lendelam tafeltjie voor die sel se deure neer. Daar is baie woorde op die tafel uitgekrap; die mees onlangses trek bloot geel lyne in die goedkoop dennehout bo-oor die ouer pogings tot literatuur wat deur verveelde amptenare oor die jare heen gebaar is.
“Captain Toli,” groet ’n jong mannetjie hom van agter ’n gekraakte ruit.
“Dis ek, ja.”
“Is jy hier vir . . .” die man kyk af en konsulteer ’n stuk papier voor hom. Daar is allerhande dinge met pen op gekrap. “Van Heerden en Brand?”
“Ja.”
“Nou goed,” sê die man. “Hulle is in B3. Hier is die sleutels.” Hy staan op en maak die deur oop tussen sy kantoortjie en die ruimte waar Vusi hom bevind. “Die tools is hierbinne.”
“Ek weet, ek weet,” antwoord Vusi. Dis nie sy eerste besoek aan die aanhoudingselle nie.

Hy betree die kantoor en teen die linkerkantse muur staan Die Party se oplossing vir kleiner misdade. Agt sambokke. Blink gepoleer teen die rûe van dié wat die landswette verontagsaam. Vusi moet seker eers die mans se grootte takseer voor hy ’n besluit kan neem oor watter sambok om te gebruik. Vir hom gaan dit egter oor sy eie gemak. Die ligter een sal hy té hard moet slaan om enige wesenlike verskil aan die skuldige se morele ingesteldheid te maak. En die swaarder sambokke is weer te ongemaklik om te swaai. Hy kies een wat in die middel hang.
“Ek sal nie lank wees nie,” sê hy vir die wag.
“Dis reg so,” kom die antwoord. Met ’n effense glimlag op sy gesig kyk die man na Vusi. “Ek sou graag wou saamkom, maar ek wag vir nog twee offisiere. Ek kan nie my pos verlaat nie.”

“Sit jy maar. Dit sal nie te lank te vat nie. Dis in elk geval nie ’n toeskouersport nie.”
“Natuurlik is dit,” reken die wag. “Ek sou hulle graag sélf wou bliksem.”
Vusi skud net sy kop en stap uit die kantoortjie. Hy swaai die sambok en toets ’n paar eksperimentele houe. Die blink leer swiep deur die lug.
’n Paar maande gelede, ná lang beloftes deur Die Party, is daar uiteindelik besluit om kleiner misdade met lyfstraf te beloon. En die groteres, soos moord en verkragting, met die galg. Die land was in elk geval só misdaadvoos dat daar bitter min protes deur die landsburgers aangeteken is. Daar word juis gespekuleer dat die belofte van doodstraf juis dit was wat Die Party sy oorwinning in die vorige verkiesing verseker het.

Vusi stap in die nou gangetjie tussen die selle deur. Hierdie deel was oorspronklik die parkade in die gebou, maar is nou omskep in rye en rye selle, afgeskort met slordige draadheinings en hekke. ’n Ou met ’n boutsnyer of selfs ’n gewone draadtang sou nie te lank gesukkel het om hier uit te kom nie, maar gelukkig word hulle nie met enige gereedskap in die selle gegooi nie. Nie gewoonlik nie, dink Vusi wrang.
In elke sel is daar mense wat met vrees in hul wydgesperde oë na Vusi kyk terwyl hy verbystap. En dan – ’n gemengde uitdrukking van verligting en teleurstelling as hy nie voor hulle sel tot stilstand kom nie. Hulle is ooglopend bly dat dit nie nou dadelik hulle beurt is nie, maar dalk ook teleurgesteld omdat dit nié is nie. Sekerlik wil enige mens dit wat voorlê oor en verby kry.

By B3 gaan hy staan. Die selnommer is met die hand geskryf, gelamineer en met kleefband teen die hekpaal voor die sel vasgeplak.
Daar is twee mans in die sel. Die een lê op die grond met sy hande agter sy kop. Dit lyk of hy slaap. Die ander een staan met sy hande agter sy rug en kyk na die hek. Met dié dat Vusi tot stilstand kom, kyk die man onbelangstellend na hom. Hy lyk in geheel ongeërgd oor Vusi se teenwoordigheid. Vir ’n oomblik laat dit Vusi weer aan Thandi se arrogansie dink. Weet hierdie man dan nie dat hy ’n sambok in sy hande het en dat hy, as dienaar van die gereg, hom nou gaan seermaak nie? Wat is dit met witmense dat hulle hom so klein en nietig kan laat voel? Hy voel hoe die woede in hom styg. Hy was nog nooit ’n aanhanger van Die Party nie; hy laat die politiek aan ander oor. Maar die hél weet, as ’n whitey só vir hom kyk, so asof hy nie die man se aandag werd is nie, dan begin hy wonder. Vusi staan voor die hek en gooi die sambok ’n keer of wat in die lug.
“Is dit nou sulke tyd?” vra die staande man. Hy kyk Vusi in die oë, maar daar is geen vrees in nie. Ook geen lewe nie. Dis die dooie oë van ’n man wat niks het om te verloor nie.
“Ja,” antwoord Vusi. Hy leun die sambok teen die draad langs die hek en sukkel met die slot. Die kaal gloeilamp flikker in die gang voor die sel en gooi skaduwees na agter.
“Uiteindelik,” sê die jonger man op die grond. Hy staan op en skud sy rug en boude af. “Hierdie vloer is ongemaklik.”
Die opgewonde gelag van langsaan trek Vusi se aandag. Die gevangenes in die ander selle kyk deur die draadafskortings na B3 en beduie vir mekaar. Dis nie aldag dat ’n wit man slae kry nie. Die koggelende gelag sit om in ’n algemene gedruis en dit neem ’n minuut of twee vir die geraas om stil te raak. In stille afwagting staar die hiënas vanuit hul draadhokke.

Vusi kry die slot oop, neem die sambok in sy hand en betree die sel. Hy trek die dossier van onder sy arm en maak dit oop. Die twee mans in die sel kan hom seker oorrompel as hulle wil, maar hulle sal dit nie verder maak as die hek na die aanhoudingselle nie. Dan sit hulle met ’n ekstra klagte van aanranding op ’n polisiebeampte. En dit, soos almal reeds weet, is ’n halsmisdaad. Hy het geen vrees vir die twee mans nie.
“Paul van Heerden?”
“Dis ek daai,” sê die ouer man. Sy stem klink stil en rustig. Selfversekerd.
“En jy is Nico Brand?” Die man wat pas opgestaan het, knik. “Julle is skuldig aan dranksmokkel. En julle het selfone gehad.”
“Dit is so, ja,” sê van Heerden.
“Het julle enigiets vir julself te sê?” vra Vusi. Hy gee nie om wat die mans in hul verweer te sê het nie. Reëls is egter reëls, hoe buigbaar dit ook al onder Die Party se gesag mag wees.
Brand en Van Heerden kyk vir mekaar. Ná ’n paar sekondes kyk hulle weer terug na Vusi.
“Nee, wat,” sê die ouer man.
“Julle weet wat die straf is vir die besit van selfone.”
“Natuurlik. Ses houe met ’n sambok.”
“En vir drank smokkel?”
“Nog ses.”
“Dis reg, ja,” sê Vusi. “Twaalf houe elk.” In die agtergrond klink ’n gejouery op soos die gehoor agter hul draadafskortings hul ingenomendheid met die straf te kenne gee.
“Nou goed. Ons kan die straf ligter maak,” sê Vusi. “Om dop te smokkel is ’n ernstige storie. Julle wittes mag nie drank koop of versprei nie.”
Die twee mans staar net na hom.
“Kom tot die punt,” sê die ouer man ná ’n minuut.
“As julle ons sê waar julle die dop gekry het, kan ons kyk na strafversagting.”
Die mans kyk na hom en lag. So asof hulle ook koninklikes is en hy pas ’n sosiale flater begaan het.
“Slaan ons en kry klaar,” sê die jonger man. Die ouer een kyk Vusi net stip aan met die begin van ’n glimlag wat om sy mondhoeke speel.
“Jy het hom gehoor,” beaam hy.
Vusi voel weer die woede in hom styg. Hier is hy, die hand van die gereg, gewapen met ’n sambok. Hy kan hulle uitmekaar slaan as hy wil. Geen haan sal ooit weer daarna kraai nie. Die twaalf houe is bloot die statutêre straf vir hul oortredings. Hy kan hulle twintig houe gee as hy wil. Dertig. Dit maak nie saak nie. Hulle weet dit, maar het skynbaar géén vrees vir hom nie.
“Kom hier,” sê hy vir die jonger man. Laat hy dit dan agter die rug kry. Hy gaan nie sukkel om inligting uit hulle te kry en die res van sy middag daardeur vermors nie. Sover dit hom aangaan, is beide die dranksmokkel- en aandklokreëls die grootste klomp stront onder die son. As mense wil drink, gáán hulle. En as hulle ná ure rondlê in die strate . . . So what? Waarvoor is die Staat in elk geval bang dat hulle die paar blankes wat nog in die binneland oor is, die strate wil belet?
Die jong man, Brand, stap nader en kyk vlugtig na Van Heerden. Hy gooi sy blik terug na Vusi en trek sy hemp oor sy kop. Daar is ’n doelgerigte, gestaalde, ysige blik in sy oë. Hy gooi sy hemp na Van Heerden wat dit flink uit die lug uit gryp en gaan staan voor Vusi. Hy trek sy skouers op in ’n so-wat-nou-houding.
Vusi beduie na die paal teen die draadheining langs die hek.
“Hou daar vas,” sê hy. “Rug na my.”

KOOP HIER | BUY HERE
'n Wit man soos Paul is so goed soos kroonwild ... In die vorige bedeling was Paul van Heerden se lewe een van gemak: groot huis in Pretoria se vooraanstaande woonbuurt, vanselfsprekende bevordering in die werk, welvaart en voorspoed. Toe kom die opstande en die grondbesetting. Nou word die Volksrepubliek van Azanie deur Die Party regeer. Alle wit mense is Weskaap toe verban. Die wat in Azanie wil werk, word toegelaat, maar word onderwerp aan dieselfde vernederende praktyke wat gedurende die Apartheidsjare beoefen is. Paul se vrou en kinders sit in 'n tentekamp in die Kaap, hy bly in 'n hostel en sukkel om sy werk te behou. Paul het egter 'n plan: hy begin met mampoer smokkel. Kort voor lank het hy 'n weldoener en sakevenoot in Thabo Ntombela, mampoerstokers en verspreiders. Besigheid 166p. Maar in Azanie wil elkeen sy deel hê en 'n wit man soos Paul is so goed soos kroonwild.

Brand draai om en kry ’n greep op die paal. Vusi sien hoe die jong man se kop in die rigting van die jouende skare draai en sien van skuins agter hoe hy vir die toeskouers grinnik. Die gehoor raak weer stil. In die verte, deur die draad en die donker beligting in die voormalige parkade, sien Vusi honderde pare grootgerekte oë. Daar is ’n hongerte vir vergelding in die donker, sweetblink gesigte wat almal nou na hom kyk.
Brand plant sy voete wyd uitmekaar. Ten spyte van die man se windgat houding sien Vusi met ’n mate van genot hoe die wit op sy kneukels om die ysterpaal uitslaan.

Hy toets weer die gewig van die sambok in sy hand. Met ’n swiep slaan hy deur die lug. ’n Oefenhou is nodig. Saggies plaas hy die sambok op Brand se rug en druk harder; sien hoe die maaierbleek vel meegee onder die druk en trek dan die sambok terug tot agter sy skouer. Sonder om enige krag in die hou te sit swaai hy na sy teiken en kom tot stilstand skaars ’n sentimeter bo die rooi lyn wat sy druk op Brand se wit rugvel gemaak het. Die halfhartige hou was genoeg vir die omstanders om hoorbaar hul asems in te trek. En, merk Vusi met ’n mate van genot, vir Brand om sy oë toe te knyp.
Hy bedink homself betyds. As ’n amptenaar van die gereg is hy nie veronderstel om plesier te put uit die straf van misdadigers nie. Hy is veronderstel om sy taak afsydig, emosieloos en objektief uit te voer. Wat hierdie twee blankes nou gedoen het, is om sy middag op te donder. Niks meer nie en niks minder nie. By die huis word sy kos nou koud en sy bier warm. Dis die omvang hiervan.

Weer trek Vusi die sambok terug. Met ’n luide swiepgeluid klief die leer die lug en maak kontak met die sagte wit vel wat soos ’n offerande na hom toe uitgehou word. Dit klap soos ’n geweerskoot deur die ruimte en eggo binne oomblikke terug van die kelderverdieping se sementmure. Honderde ingenome stemme klink luidkeels op.
Vusi sien hoe die spiere onder die wit vel voor hom saamtrek. ’n Onwillekeurige pynkreet verlaat die jong man se lippe. Vusi trek die sambok terug en beskou sy handewerk. Tot Brand se krediet het hy nie sy greep op die paal verloor nie. Maar sy kneukels is aansienlik witter as sekondes gelede. Die rooi lyn wat die eerste hou op sy rug gelaat het, blink op twee plekke waar klein bloeddruppels uitswel.
“My aanbod staan,” sê Vusi saaklik. “Waar het julle die drank gekry? Vertel my en ons kan die straf minder maak.” Hy kyk op na waar Van Heerden met gevoude arms die storie aanskou. Daar is steeds geen lewe in die man se oë nie.
“En jy?” vra Vusi vir Brand. “Jy hoef nie vir die ou man se say-so te wag nie. Vertel my waar het julle die dop gekry. Dan kan ons praat.”
“Slaan en kry klaar,” sê die jong man onder die sambok. Daar is ’n effense dog hoorbare bewing in sy stem.
“Is jy seker?” vra Vusi. Hy vryf die sambok oor Brand se rug en sien hoe die twee druppels bloed oor die kaal vel smeer.
“Ja, fok.” Daar is géén aarseling nie.
“Nou goed,” sê Vusi. Hy weet dit gaan ’n paar ekstra houe neem, maar hulle breek altyd en dit is die probleem. Hierdie twee gáán breek en dan is sy aand finaal daarmee heen, want dan moet hy opnames maak en dinge neerskryf en ’n rekord maak van alles wat hulle sê en dit vat alles tyd. Breek hulle egter nié, gaan sy toesighouers dink hy was te sag met hulle, of erger, dat hulle hom omgekoop het en hy daarom korrup is. Dan gaan hulle wil weet waar is húlle deel, en as hulle dit nie kry nie, kan Vusi binnekort self hier onder in die parkade in een van die draadhokke opeindig waar hulle hóm met ’n sambok gaan aantree.
Damned if you do, damned if you don’t. En al waarvoor hy lus is, is ’n koue bier. By die huis. Waar Elsie met haar breë glimlag vir hom vra of alles orraait is by die werk.

Weer trek Vusi die sambok terug en weer hoor hy hoe stilte oor die kelder neerdaal. Hy swaai met alle mag en sien hoe die leersambok se donker lyn die rooi streep van die vorige hou kruis, gevolg deur ’n luidkeelse toejuiging van die skare. Dié keer trek die jong man se spiere saam maar verslap nie weer nie. Die twee lang spiere langs die ruggraat bewe vir ’n sekonde of twee soos ’n perd s’n wanneer die roskam met mening getrek word.
Die jong man uiter nie ’n verdere geluid nie. Vusi kyk op en sien hoe Van Heerden se een wenkbrou effens lig, asof hy gemaak-beïndruk is met Vusi se handewerk. Die bliksem. Hy sal hom nog regsien.
“Gaan jy my vertel?” vra Vusi in ’n sagte, amper vaderlike stemtoon.
“Fok jou,” sis die jong man.
“Dis nie mooi nie,” sê Vusi ten spyte van homself.
“Kry klaar, jou bliksem.”

Vusi sien met ’n mate van genot hoe die sweet op die wit vel onder die sambok uitslaan. Sweet en twee rooi strepe wat geraam word deur twee strepe bloed wat stadig afloop. Hy weet hy moet dit nie geniet nie. Maar hoe meer indrukwekkend die resultate, hoe groter die kans dat een van die twee gaan praat en hy sy toesighouers se liefdevolle administrasie gaan vryspring.
“As jy so sê.” Nogeens trek hy die sambok terug en kyk die ouer man stip in die oë. “Dis amper jóú beurt,” belowe Vusi en bring die hou met alle geweld neer.

Nog ’n hou, nog ’n rooi streep, nog ’n paar bloeddruppels wat oor die verkragte vel biggel.
Van Heerden, die ouer man, kyk hom net stip aan. Die skare is stil. Of hulle vir die man wag om te smeek om genade sal geen mens weet nie. Dit blyk egter nie so opwindend soos die eerste hou met die pynkreet te wees nie. Want Brand sê niks. Sy spiere is snaarstyf gespan, sy kneukels spierwit, maar hy staan bankvas. Hy maak nie ’n geluid nie. Sonder om weer te vra haak Vusi af en slaan. En weer. En weer.
Teen die tiende, elfde hou sien hy hoe die man se knieë swik.
Uiteindelik.

Vusi staan uitasem terug en beskou sy handewerk. Rooi bebloede hale lê kruis en dwars oor die man se rug. Bliksemse whiteys. Wil mos vir óns sê hoe om te lewe, wat om te doen, besluit of ons goed genoeg is, dink hy.
Klomp satans.
Hulle val ons land binne, steel ons grond, steel ons beeste en het ons onder hul hiel gehou vir honderde jare. Vermoor ons, slaan ons, verkrag ons vrouens; voer ons kinders weg om in hul verdomde myne te gaan werk of op hul plase – waar die “oubaas” hom help aan die mooier en jonger dogters. Vusi se asem jaag. Al het hy nog nooit enige van die vergrype waaraan hy nou dink aan eie bas beleef nie, gaan Die Party se refrein deur sy kop. Die wittes het hier aangekom en alles gevat. Alles gesteel. Sý mense vermoor en verkrag. Hulle is níks werd nie. Die fokken wittes is ’n kanker in die land . . .
Hy kom egter tot besinning. Hy het inligting nodig. Hy wil nie sélf hier staan en beskuldig word van samewerking met die wit dranksmokkelaars nie.
“Elf houe, mlungu,” hyg hy. “Het jy iets te sê?”
Die jong man kry homself met moeite regop.
Sy knieë swik ’n keer of wat, maar hy maak dit.
“Fok jou,” sê die man. Sy stem bewe.
Vusi trek nogeens die sambok terug. Sy hoop lê nou by die ouer man.
Die skare juig.
Die twaalfde hou val met mening.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS