Wenkbrou_Featured_Image_Blog_Uittreksel_Vita_du_Preez_Klaskamer

Uittreksel: Klaskamer – Vita du Preez

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Emma Louw kry meer as wat sy verwag op Daniel Swart se Karooplaas waar sy werk as kinderoppasser vir Neal - Daniel se seuntjie. Sy word blootgestel aan die wêreld van sado-masochisme (in Engels bekend as BDSM). Gaan sy toegee aan Daniel se donker kant om sy vertroue te wen en aan die einde van die onstuimige rit dalk ook sy hart?

Emma Louw haal ’n paar maal diep asem toe sy by De Oude Werf se koel foyer instap en dwing haarself om te ontspan. Soos gewoonlik was dit ’n gesukkel om ’n parkeerplek in Stellenbosch se besige strate te kry. Op die groot muurhorlosie sien Emma sy is vyf minute vroeg. Daar is geen rede om gespanne te wees nie. Sy is goed voorberei vir haar onderhoud met Daniel Swart.

Die ontvangsklerk is vriendelik en professioneel en vra ’n portier om haar na meneer Swart se suite op die eerste verdieping te vergesel.

Toe hy klop, gaan die deur amper dadelik oop. “Juffrou Louw? Jy is vroeg,” blaf die donkerkop-vreemdeling en maak die deur effens wyer oop. “Kom binne.”

Dit is nie die eerste keer dat sy haar oë op hierdie Karooboer lê nie. Hulle het ’n paar video-gesprekke op WhatsApp gehad, maar dit het haar nie voorberei vir die impak wat hy in lewende lywe op haar het nie. Die staalgrys oë wat haar takseer, straal ’n intensiteit uit wat haar ontsenu. Daar is min wat ’n mens vir daardie oë kan wegsteek, kom ’n gedagte by haar op waarvoor sy geen logiese verduideliking het nie. Sy breë skouers vul die deuropening en hy toring bo haar uit. Sy sexy, vol mond is grimmig en sy gesig strak.

Bogger hom. Groot, imponerende mans intimideer haar nie. Claire Louw, ’n vurige feminis, het haar enigste dogter vandat sy haar verstand gekry het, geleer dat geen man haar meerdere is wat haar kan manipuleer nie. Emma tree agteruit en lig haar ken. “Ek sal wag, meneer Swart. Vat gerus jou tyd.”

Hy kyk oor sy skouer en dan weer na haar. “Nee, kom binne. Neal slaap nog, maar jy kan hom later ontmoet. Intussen kan ons aangaan met die onderhoud.” Hy steek sy hand uit. Emma vat die groot hand wat hare verdwerg en gee hom ’n stewige handdruk soos haar pa Emile haar geleer het. Emma is skielik bewus van ’n gewaarwording in haar. ’n Bewustheid van manlike viriliteit. ’n Energie wat haar intrek.

KOOP HIER | BUY HERE
Emma Louw kry meer as wat sy verwag op Daniel Swart se Karooplaas waar sy werk as kinderoppasser vir Neal - Daniel se seuntjie. Sy word blootgestel aan die wêreld van sado-masochisme (in Engels bekend as BDSM). Gaan sy toegee aan Daniel se donker kant om sy vertroue te wen en aan die einde van die onstuimige rit dalk ook sy hart?

Die strak lyne van sy aantreklike gesig wat agter ’n donker stoppelbaard versteek is, versag effens. Sy oë, waarom sonplooie nou waaier, word ’n aks blouer. Vriendeliker, wil Emma haar verbeel. Hy los haar hand, maar die hitte van syne talm steeds op haar vel en stuur senuprikkels deur haar lyf.

“Dankie.” Emma stap by die lugverkoelde vertrek in en gaan sit op die gestoffeerde stoel waarheen hy beduie. Daniel Swart gaan sit agter ’n skryftafel waarop ’n skootrekenaar staan. Emma kruis haar bene en trek die soom van haar eenvoudige wit linnerok oor haar knieë. Hel, die vertrek is so koud soos ’n bleddie lykshuis. Sy vryf oor haar kaal boarms waarop hoendervel uitslaan. Is dit nog ’n taktiek om haar te ontsenu? Sy blik volg haar hande. Vinnig vou sy hulle op haar skoot.

Hy dra ’n netjiese vlootblou kortbroek wat tot net bokant sy knieë reik, ’n wit gholfhemp en leer-insteekskoene, maar skynbaar voel hy nie die koue nie. “Moet ek die lugversorger opstel?” ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke. Emma kry die idee dat hy vir haar en nie met haar lag nie.

Sy hou sy blik. “Dankie, dit sal gaaf wees, meneer Swart. Ek is ’n somermens. Sonskyn gee my energie.”

Hy tel ’n afstandbeheerder op en maak ’n verstelling. Daarna vat hy ’n lêer en blaai daardeur voor hy opkyk. “Beter?”

“Dankie.” Sy knik, leun terug in die stoel en doen haar bes om ontspanne te lyk. Haar blik dwaal deur die vertrek met die elegante meubels en oorspronklike skilderye. Daniel Swart het duidelik duur smaak en geld om daarvoor te betaal.

“Goed, ek wil sommer dadelik ter sake kom, juffrou Swart.” Hy tik met sy sterk vingers op die lêer wat nou voor hom lê. “Jou CV is uitstekend. Jou kwalifikasies presies waarna ek soek. Ek sien jy het op Stellenbosch grootgeword. Jou onderwysgraad hier verwerf. Dit tel in jou guns. Ek het ook op Maties geswot. Hopelik sal my seun Neal eendag in my voetspore volg.”

Emma leun effens vorentoe. “Ek wil nie bevoordeel word oor waar ek geswot het nie, meneer Swart. As ek die werk as jou seun se onderwyseres en au pair kry, wil ek dit op meriete verdien en omdat ek die beste kandidaat vir die werk is.”

Sy stem is weer koel. “Ek sal dit in gedagte hou, juffrou Swart, maar ek beplan om Neal wanneer hy hoërskool toe gaan na Paul Roos te stuur. Dit is waar ek ook op kosskool was. Na my mening sal dit help as hy ’n onderwyseres het wat hom meer oor Stellenbosch kan leer.”

“Is dit nie bietjie voortydig om nou al daaroor te besluit nie, meneer Swart? Jou seun het pas vier geword. Nie alle kinders is kosskoolmateriaal nie.”

“Om uit die huis skool te gaan, is ’n luukse wat Karookinders nie beskore is nie. Ek was ses toe ek koshuis toe is. My ouers het ek net naweke gesien. Die plattelandse skole het in die nuwe bedeling baie agteruitgegaan. Deesdae is die naaste laerskoolkoshuis in Calvinia. Dis ver van Omdraai. Daarom het ek op tuisonderrig vir Neal besluit. Een van jou pligte sal wees om my seun voor te berei om ’n goed aangepaste jong man te wees. Hy moet eendag goed toegerus wees vir ’n lewe weg van die plaas.”

Hy vee met energieke vingers deur sy welige swart hare wat net-net aan sy hempkraag raak. “Nietemin, ek het met jou skoolhoof gepraat. Volgens hom is jy opgewasse vir die taak. Trouens, hy is spyt om jou te verloor. Hoekom het jy bedank?”

Liewe hemel, dit is erger as die Spaanse Inkwisisie. Sy doen haar bes om koelkop te bly. Haar vervelige privaat lewe is buitendien nie ’n staatsgeheim nie. “Ek was in ’n saamblyverhouding. Ek en my eks . . . Dewald . . . sou volgende jaar saam in Korea gaan skoolhou. Dit is hoekom ek bedank het. Nadat ek die saak nugter deurdink het, het ek egter daarteen besluit. Besluit om die verhouding te beëindig en my eie pad te stap.”

Hy maak ’n piramiede met sy vingers op die lessenaar voor hom. “Hoekom?”

Hel, die man is vermetel. Voorspelbare, veilige, vervelige Dewald se gesig kom voor haar geestesoog op. Sy gaan definitief nie hier sit en aan ’n vreemdeling uitblaker dat sy na baie soul searching aan haarself moes erken dat haar en Dewald se verhouding sy rakleeftyd bereik het nie. Dat Dewald haar net eenvoudig nie langer fisiek, intellektueel of emosioneel kon bevredig nie. Dat ’n verandering van omgewing nie die vonk sou kon terugsit in ’n verhouding waaruit die passie en hartstog verdwyn het nie. Nog minder gaan sy vir hom vertel dat sy van kleins af deur haar ma gebreinspoel is om dominerende beheervrate soos die pes te vermy. Eerder vir veilige, apatiese mans te gaan wat jou nooit sal probeer oorheers nie.

Sy lig haar ken. “Is dit ter sake, meneer Swart? Jy het dit duidelik in jou advertensie gestel dat jy nie in kandidate belangstel wat in ’n vaste verhouding betrokke is nie. Ek voldoen aan daardie vereiste. My en Dewald se verhouding is verby. Geskiedenis. Oor ’n maand gaan hy Korea toe. As ek die pos as Neal se onderwyseres kry, gaan ek Karoo toe. Begin ek ’n nuwe hoofstuk van my lewe. Sonder bagasie en sonder ’n gebroke hart, en ek bedoel dit.”

“Jy wil dus nie Karoo toe vlug en jou wonde daar gaan sit en lek nie? Oor ’n mislukte verhouding gaan sit en treur nie? Want dan is jy beslis nie die regte kandidaat nie. Neal se onderwyseres moet ’n sprankelende, lewenslustige, positiewe mens wees wat hom uit sy dop kan laat kruip. Ná sy ma ons ’n paar maande gelede verlaat het, het hy ’n ingetoë kind geword.”

In die advertensie het hy gesê dat hy ’n enkelouer is. “Jy is dus geskei, meneer Swart?” vra sy op die man af.

“E . . . dis ingewikkeld. Ek is tans in die proses. Sally, Neal se ma, is Iers. Sy is ’n vrye gees. ’n Swerwer. Lief vir reis. Op die ou end was ons wêrelde net te ver verwyder van mekaar. Daar was net te veel goed waaroor ons nie saamgestem het nie. Sally is nie ’n boervrou nie en sy kon nie in die boeregemeenskap inpas nie. Sy het besluit om terug te gaan na haar geboorteland. Waar sy op die oomblik rondswerf, weet nugter.”

Hel, moes sy nie daaraan gedink het voor sy ’n kind by ’n Karooboer gehad het nie? Klink na ’n selfsugtige entjie mens. Hardop vra sy voor sy ’n wag voor haar mond kan sit: “En toe los sy haar kind net so?”

“Ja. Hy sou nie by haar lewenstyl inpas nie.” Sy gesig word ’n uitdrukkinglose masker. “Ek sou Neal buitendien nie laat gaan het nie. Hy moet eendag die leisels op Omdraai by my oorneem. Hy sal die vyfde geslag van die Swarts op Omdraai wees. Daar sal nie nog erfgename wees nie.”

Insiggewend. Daniel Swart het dus die ganse evasgeslag afgeskryf omdat sy huwelik misluk het.

“Nietemin, die feit dat sy ma net eendag verdwyn het, het Neal uit die aard van die saak getraumatiseer. Daarom wil ek probeer verhoed dat dit weer gebeur. Ek wil nie hê dat Neal ’n band met sy onderwyseres smee en dan verdwyn sy net weer uit sy lewe nie. Die Karoo is ’n afgeleë plek. Laaste Pos ’n stil dorpie. Daar is nie malls vir inkopieterapie nie. Ken jy die Karoo? Dink jy jy sal daar kan aanpas?”

Gelukkig nie nog ’n strikvraag nie. Emma glimlag spontaan. “My pa het op ’n plaas in Calvinia se distrik grootgeword. Sy broer boer steeds daar. As kind het ek baie vakansies saam met hom daar deurgebring. Ons het perdgery. Lang ente in die veld gestap. My liefde vir die buitelewe het ek by my pa geërf.” Sy kreukel haar neus. “Dis moeilik om te verwoord, maar die Karoo se stilte praat met my.”

“En jou ma?”

“My ma. Sy is ’n beroepsvrou. ’n Prokureur hier op die dorp en ’n werkverslaafde. Vakansie is vir haar ’n vloekwoord.”

“Jy het dus nie in ’n huis grootgeword waar jou ma daar was vir jou nie?”

Shit, gaan hy dit nou teen haar hou? “Nee, meneer Swart, maar ek was beslis nie ’n afskeepkind nie. My ma het my van kleins af geleer om onafhanklik te wees en op my eie bene te staan. My ouers is geskei toe ek tien was. Daarna het my ouma by ons kom bly.”

Emma glimlag toe sy aan ouma Beth dink. Die poker- en brugaande saam met ouma B en haar vriende. Die keer – sy was in matriek – toe hulle by Grand West gaan dobbel het en haar ma gedink het hulle is na ’n opera in die Kunstekaap.

Hardop sê sy: “My ouma was nou nie juis jou deursnee-ouma nie, maar ek het baie wêreldwysheid by haar geleer. Sy was ’n advokaat en ’n vurige kampvegter vir vroueregte. In die sewentigs het sy deur Kaapstad se strate marsjeer en haar bra op ’n brandstapel verbrand. Sy is vroeër vanjaar oorlede. Ons mis haar baie.”

“Jy het dus in ’n matriargale huishouding grootgeword?” Hy laat dit soos ’n doodsonde klink.

“Mens kan seker so sê, maar skoolvakansies het ek by my pa in die Strand deurgebring. Hy is ’n argitek. Sy praktyk is in Somerset-Wes. Hy het my leer surf, skubaduik, visvang, viertrek ry en voetslaan. Hy is ’n stil, saggeaarde mens met ’n hart van goud.”

Dat haar ma met haar oordrewe feministiese uitkyk op die lewe hom totaal en al probeer oorheers het, is inligting wat sy liewer vir haarself hou. Dat sy grootgeword het in ’n huis waar haar pa nooit ’n kat se kans gehad het om die hoof van die huis te wees nie, kan dalk teen haar tel. Daniel Swart klink nie na die soort man wat ’n vrou sal toelaat om sy gesag te ondermyn nie. Wel, sy is lief vir albei haar ouers en deesdae is albei enkellopend en gelukkig.

“En jou ouers, meneer Swart, woon hulle nog op die plaas?”

Sy gesig klap nou weer toe. “My ouers is oorlede toe ek tien was. My suster van agt ook. Daarna het ek op die buurplaas by my pa se broer en sy gesin grootgeword. Oom Hannes het Omdraai bestuur. Na ek my landbougraad op Stellenbosch voltooi het, het ek weer die leisels by hom oorgeneem.”

Eers het hy sy gesin verloor en later weer sy eggenoot. Dit moes sekerlik ’n impak op sy menswees gehad het. “Ek is jammer,” prewel Emma. Haar ma sê altyd sy het ’n klein hartjie nes haar pa, wat haar mense se pyn te maklik aantrek. Daniel Swart skud sy kop en sluit sy oë asof hy iets uit sy gedagtes wil blokkeer. Op hierdie oomblik gaan haar hart uit na hom.

“Mens kan nie altyd alles wat in jou lewe gebeur beheer nie, juffrou Swart. Daarom is dit vir my belangrik om kontrole te hê oor goed wat ek wel kan beheer. Maar om terug te keer na die punt: Ek is bly om te hoor jy is fiks en sportief. Ek glo ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Daar is ’n toegeruste gimnasium op die plaas waar jy kan oefen. En daar is ryperde. Een maal per week kom daar ’n afrigter om vir Neal rylesse te gee. Miskien sal dit sy selfvertroue ’n hupstoot gee as jy ook ry. Hy en sy ma het altyd saam gery.”

“Ek was lanklaas op ’n perd se rug, maar ek is bereid om my vaardighede op te skerp. Wat die gym betref. Deesdae doen ek joga en Pilates, maar ek is nie ’n gym bunny wat elke dag ure in ’n gym deurbring nie. Ek verkies buitelugaktiwiteite.”

“Is jy avontuurlustig?” gooi hy weer vir haar ’n curve ball, soos haar pa sou sê.

“Ek het al bungee-spring probeer. ’n Paar maal het ek en my eks op die Oranjerivier gaan roei. Ek en my pa het cage diving saam met witdoodhaaie in Kleinbaai gaan doen. Ek het al ’n paar 4×4-safari’s saam met my pa gedoen. Probeer alles een keer, is my lewensmotto. Moenie goed afskiet voor jy weet waaroor dit gaan nie. Beantwoord dit jou vraag, meneer Swart?”

Sy gesig ontspan effens en dié keer bereik sy glimlag sy oë. “’n Adrenalien-junkie? Interessant. Rook, dwelms, drank? Het jy enige gewoontevormende ondeugde?” sit hy die inkwisisie voort.

Emma besluit om oop kaarte te speel. “Op universiteit . . . ek het soms ’n zol saam met my surfer-pelle gerook. Nie meer nie. Nooit sigarette nie. My ma en ouma is rokers. Dit het my afgesit. Drink? Ek het in die wynlande grootgeword. Ek geniet ’n glas.” Sy kreukel weer haar neus. “Soms ’n bottel goeie wyn. Sterk drank is nie juis my ding nie. Persoonlik het ek nie ’n pyn met mense wat hulle alkoholinname kan beheer nie.

“Ek ook nie. Solank my werknemers nie op die jop drink nie. Op die plaas is dit naweke soms ’n probleem onder die plaaswerkers. Maar kom ons gaan aan. Eet jy gesond?” Hy laat sy blik oor haar lyf gaan. Dit voel vir Emma asof hy haar rok met sy oë afskil, maar sy verroer nie ’n spier nie. Laat hom kyk. “Jy is effens aan die skraal kant. So baie vroue het vandag eetversteurings. Ek glo ’n mens moet jou kos geniet. Mense met ’n gesonde eetlus het gewoonlik ook ’n aptyt vir die ander goeie dinge in die lewe.”

Iets waarvoor sy nie ’n naam het nie, flikker in sy oë. Dit ontsenu haar. Sover was hy so saaklik en korrek. Probeer hy haar uitlok om te bepaal of die vrou aan wie hy sy seun se opvoeding wil toevertrou goeie morele waardes het?

Sy vou haar hande op haar skoot. “Kos is nie eintlik iets wat baie van my tyd in beslag neem nie. Ek sal eerder sport as ’n kosprogram op TV kyk. Kook kan ek glad nie.”

“Ek het ’n uitstekende huishoudster op Omdraai. Ragel Gallant. Sy kook vir ons, maar ek sal van jou verwag om saam met ons te eet. Neal moet leer ’n gesin eet saam om ’n tafel en praat oor goed wat almal raak.”

“Klink vir my na ’n goeie reëling waarby ek sal kan inpas.”

“Gaaf.” Hy kyk weer na die lêer voor hom. “Hoe voel jy oor dissipline?”

“Na my mening is dit baie belangrik. Dit gee ’n kind standvastigheid om te weet wat hy mag en nie mag doen nie.”

“Uitstekend, solank dit nie lyfstraf insluit nie. Ek sal niemand toelaat om my kind ’n pak slae te gee nie.”

Emma sukkel om haar verontwaardiging te onderdruk. “Liewe hemel, meneer Swart, ek is ’n opvoeder en versorger. Nie ’n sadis wat behae daaruit kry om jong, onskuldige kinders te mishandel nie.”

“Gaaf, dan verstaan ons mekaar.” Hy verbreek oogkontak en kyk oor haar skouer. Voor haar oë ondergaan die man met die geslote gesig en die onpeilbare oë ’n metamorfose. Dit is asof sy hele gesig ophelder en sy glimlag tot in sy oë spoel.

Hy staan op en steek sy hande uit. “Neal, is jy wakker, grootman?” Daniel Swart se hele hart is in daardie warm blik vasgevang. Hierdie man het baie skakerings, besef Emma. Een daarvan is ’n versorgende, liefdevolle ingesteldheid teenoor sy seun. Daarvoor kry hy ’n goue ster in juffrou Louw se boek. Sy kry daagliks te doen met pa’s wat te besig is vir hulle kinders.

Emma draai om en kyk na die donkerkopseuntjie wat in die slaapkamerdeur staan. Hy hou ’n afoor-teddiebeer teen sy bors vas en sy donker oë lyk hartseer. Sy sluk die knop in haar keel af en staan ook op.

Daniel vat die seuntjie se hand en lei hom die vertrek binne. Voor Emma gaan hy staan. “Neal, dis juffrou Emma.”

Die donker oë soek hare en dit kos wilskrag om nie die kind op te tel en teen haar bors vas te druk nie.

“Is sy my nuwe mommy?” vra hy in Engels en steek sy hande na haar toe uit.

Oor sy seun se kop kyk Daniel Swart na haar. Op daardie oomblik lyk sy oë net so hartseer soos sy seun s’n. “Hy het Engels gepraat met sy ma. Hy dink alle ma’s is Engels. In elke vrou met lang kastaiingbruin hare en ligte oë soek hy sy ma. Julle lyk nogal na mekaar.”

“Dis oukei. Ek verstaan kinders.” Emma kniel voor Neal en vou sy hand in hare toe. “Kan ons maats wees, Neal?” vra sy ook in Engels.

Hy knik en gee sy teddiebeer vir haar. “Dit is Mister Cuddles. My mommy het hom vir my gegee,” sê hy weer in Engels.

“Hallo, Mister Cuddles.” Sy soen die beer op sy verslete neus. Haar hart huil vir die kind en die man wat deur ’n selfsugtige bleddie vroumens verstoot is. Vir ’n waansinnige oomblik oorweeg sy om daar op haar knieë vir Daniel Swart te smeek om hierdie werk vir haar te gee. Haar ’n kans te gee om hierdie kind se geknoude gees te vertroetel en gesond te maak.

Daniel Swart kug en sluit sy hand om haar elmboog. “Gaaf, juffrou Louw, ek dink dit sal al wees.” Hy help haar regop en Emma adem sy skoon, manlike geur in. Die gewaarwordinge wat sy beleef het toe Daniel Swart die suite se deur vroeër vir haar oopgemaak het, vlam weer op. Die man straal iets uit wat Emma Louw se ewewig versteur. Wat haar wil laat vergeet van alles wat Claire Louw haar dogter geleer het omtrent mans wat altyd in beheer wil wees. Sy wil haar kop wat skaars by sy skouer kom teen sy breë bors laat rus en hom verseker sy sal hom help om die emosionele skade wat Neal se biologiese ma hom aangedoen het te herstel.

Daniel Swart tree agteruit en kyk op sy polshorlosie. “Die volgende kandidaat behoort binnekort hier te wees. Ek sal jou môre laat weet of jou aansoek suksesvol was. Ek het jou tydens ons vroeëre onderhandelinge reeds gesê wat jou salaris sal wees en dat jy by my en Neal in die huis sal bly. Ook dat ek iemand soek wat Januarie kan begin werk. Die res is detail waaroor ons kan praat wanneer ek besluit het of jy die geskikte een vir die pos is. Enige verdere vrae?”

Op die oomblik voel haar kop soos ’n tuimeldroër vol vere en Emma kan bloot woordeloos kopskud. Sy gee die teddiebeer wat sy steeds vashou vir Neal en probeer haar emosies agter ’n breë glimlag wegsteek. “Tatta, Neal, kyk mooi na Mister Cuddles,” sê sy in Engels.

Die seuntjie knik plegtig. “Mister Cuddles hou van jou. Hy wil hê jy moet op Omdraai kom bly. Pretty please, Miss Emma.”

Haar oë skiet vol trane. Die hemel weet, vandag bly daar ’n stukkie van haar hart in hierdie onskuldige kind se hand agter. Woordeloos draai sy om en kry koers na die deur.

Daniel Swart spring haar voor en maak die deur vir haar oop. Vlugtig rus sy hand in die holte van haar rug. “Jy het ’n onregverdige voorsprong, juffrou Louw.” Hy glimlag sardonies. “Sover is jy die enigste kandidaat wat deur die skanse kon dring wat Neal om hom opgebou het nadat sy ma weg is. Maar wees gewaarsku: Die finale besluit berus by my, nie by Mister Cuddles nie. Ek swig nie so maklik soos my seun en sy teddiebeer vir ’n mooi vrou se sjarme nie. Gaan jou goed.”

Emma groet en skarrel by die deur uit. Sy kort vars lug. Is dit omdat Dewald so vervelig en voorspelbaar is dat Daniel Swart haar so hiperbewus maak van die feit dat hy man en sy vrou is?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS