Wenkbrou_Featured_Image_Blog_Uittreksel_Halley_Se_Komeet_Hannes_Barnard

Uittreksel: Halley se komeet – Hannes Barnard

DEEL 1

KOOP HIER | BUY HERE
Pete de Lange moet as tiener probeer oorleef in ’n klein Natalse dorpie gedurende die onstuimige tagtigerjare saam met sy nuutgevonde vriende: Petrus en Sarita. In ’n land wat bloei van rassekonflik is dit makliker gesê as gedaan. Pete en sy vriende het ’n wrede misdaad gesien en die skuldige is op hulle spoor. Sal reg en geregtigheid geskied in ’n land wat reeds polities verwronge is?

Dis amper te donker om te sien. Sy voete dans blind oor die harde grond. Hy loer in die hardloop oor sy skouer, maar sien die man nie meer nie. Dan klap ’n skoot. Iewers agter hom. Nader. Elke skoot is nader, en sy agtervolger se dierlike lag harder.

Sy longe brand, sy oë traan, maar op die een of ander manier dryf sy bene hom voort. Wat het hy gedink? Wat? Van wanneer af is hy kamstig ’n held, of wat dit ook al is? Alles tevergeefs.

’n Mens is nie veronderstel om voor jou sestiende verjaarsdag te sterf nie.

Nog ’n skoot klap. ’n Heldergeel vonk spoeg teen ’n rots minder as twee meter van hom af.

Hardloop, Pete. Hardloop.

Gister

KOOP HIER | BUY HERE
Pete de Lange moet as tiener probeer oorleef in ’n klein Natalse dorpie gedurende die onstuimige tagtigerjare saam met sy nuutgevonde vriende: Petrus en Sarita. In ’n land wat bloei van rassekonflik is dit makliker gesê as gedaan. Pete en sy vriende het ’n wrede misdaad gesien en die skuldige is op hulle spoor. Sal reg en geregtigheid geskied in ’n land wat reeds polities verwronge is?

Pete de Lange staar deur die busvenster na die wêreld. In sagte goue pastelle begin die vroeë oggendson stadig sy kop uitsteek. Plase lê uitgestrek in ’n dowwe geel mis tot teen die horison waar swartwattel- en bloekomsilhoeëtte waghou. Die veld is besprinkel met plasse dieprooi modder wat ’n glimmende mosaïek vorm, en die boere nydig herinner aan die natuur se ongenaakbaarheid. Almal het in hoopvolle angs gewag op die eerste reën, maar al wat opgedaag het, was die vuis van die meedoënlose son. Verlede nag, in ’n donderende ontploffing, het die reën uiteindelik die grond se dors geles, maar dit was te laat.

Die nuwe jaar fluister beloftes van swaarkry vir Noord-Natal.

“Gaan jy vanjaar senior rugby speel?” vra Michael, die tweede slimste en tweede kleinste ou in standerd nege. Hy het kort vuilblonde hare, só perfek gekam dat ’n mens nog die klofies kan sien wat sy kam gemaak het. Pete draai onwillekeurig sy kop na hom. Dit is moeilik om na hom te kyk sonder om Jan Bester te sien wat arme Michaeltjie só hard plettervat dat sy gebreekte ribbebeen ’n gat in sy long gesteek het. Dis seker al maklik sewe jaar gelede, maar hy kan nog die roggelgeluide hoor wat uit Michael se gapende mond ontsnap het. En dit alles oor sy pa hom wou taai maak. Hy wonder of Michael dankbaar is vir ou Jan Bester, dat dié hom ’n leeftyd van rugby gespaar het.

Pete knik net. Hy probeer ’n glimlag forseer, maar weet nie of dit werk nie. Michael is net lus vir geselsies, maar die laaste ding wat h’y nou kan doen, is gesels.

Het dit gebeur? Het gister werklik gebeur?!

“Wat is vandag se datum?” vra Pete, ietwat verbaas oor sy eie vraag.

Michael begin saggies lag, amper skaam, so sag dat ’n mens dit feitlik nie kan hoor deur die gemor van tienerstemme in die bus nie. Hy kyk verwonderd na Pete.

“Hallo? Dis Woensdag 15 Januarie 1986. Die tweede dag van die nuwe skooljaar.” Michael skud sy kop. “Het jy jou kop gestamp of iets?”

“Ek kyk net of jy wakker is,” kap Pete terug in ’n stemtoon dieper as normaal. Dié keer is hy seker daarvan dat sy glimlag wel deurgebreek het, hoe bedremmeld ook al.

Pete draai weer na die venster. Hy kyk nie meer na die wêreld daarbuite nie, maar na sy vlak weerkaatsing in die vuil glas. Sy oë lyk moeg, die gewone groen daarvan is vervang met ’n vae grys; geraam in swarterige halfmane. Sy lippe is droog en as hy sy mond beweeg, voel dit asof hulle wil oopkloof en bloei. Hy lyk darem maar bitter jonk, dink hy. Hy het ’n week terug geskeer, maar die lyne wat sy Wilkinson Sword getrek het, is steeds daar. Sy melkbaardjie is klaarblyklik dood onder sy vel, nes hierdie jaar se mielies. Sy oë kyk op na sy groot voorkop, na waar dáárdie puisie met nege lewens uiteindelik sy goed gevat en geloop het. Voor hy homself egter kan keer, fokus sy oë verder op. Daar is dit. Daai hare.

Dit hét gebeur. Gister hét gebeur.

Dit was veronderstel om ’n perfekte dag te wees. En dit was, tot goeie ou Raj sy hare vernietig het. Pete voel-voel aan die gesnipperde punte waar sy kuif nog minder as ’n dag vantevore sy trots was. Dit het die hele somervakansie geneem, ses lang en vervelige weke, om nes Don Johnson te lyk.

Dit is ’n nuwe jaar, standerd agt, en hy kan amper nou as ’n senior beskou word. Dit is daardie moeilik definieerbare plek op die wipplank tussen juniors en seniors – die middelkind van hoërskool. Dit is ook die jaar wanneer hoërskoolloopbane gemaak word, want as jy tot standerd nege wag, is dit te laat; jy kry dan aansien bloot omdat jy oud genoeg is. Maar as jy naam kan maak in standerd agt: Dís wanneer die mooi meisies jou raaksien.

En dis hoekom hy sy reg tot die beste sitplek in die juniors se bus prysgegee het, dit op die senior bus gewaag het, en hoekom hy nou in hierdie sitplek sit langs hierdie kortgat bleeksiel.

Maar dié tegniese punt maak nie saak nie. Hy wat Pete is, is op die senior bus, een van net drie standerdagts. Saam met hom is Ivan, terug vir sy derde – en klaarblyklik sy laaste – poging om standerd agt te slaag, en Renate, wat enige plek kan sit waar sy wil, want sy is sonder twyfel die mooiste wese in die ganse skepping.

Toe Walter, daardie irriterende standerdnege met sulke oranje hare dat wortels jaloers word, vir hom oor die bus geskree het: “Wat dink jy maak jy in hierdie bus, tjaina?” het ’n warm yster dwars in Pete se maag gesteek. Hy het geweet hy is uitgevang, maar hierdie was die oomblik wat hy ’n honderd keer voor die spieël geoefen het en daarom antwoord hy met volle kammavertroue en sonder om te aarsel: “Ag nee man, moenie vir my sê hierdie is die verkeerde bus nie. Ek is seker my paroolbeampte het gesê hierdie is die bus wat almal terugvat tronk toe.” Walter was stil, en ’n hele paar ander het gegiggel. Die belangrikste van alles egter: Hy was in!

Gister het só goed begin. Daar was selfs ’n breukdeel van ’n sekonde wat hy kon sweer dat Renate vir hom geglimlag het. By die skool het Don Johnson dadelik ’n impak gemaak. Nie meer was hy die onsekere standerdsewetjie met die permanente puisie op sy voorkop nie, néé, hierdie was ’n selfversekerde, puisievrye, man-van-die-oomblik. Dit was natuurlik net tot die haarinspeksie aan die einde van die saalbyeenkoms. Die nuwe skoolhoof het na hom gekyk asof die teken van die dier op sy voorkop getatoeëer was. Maar ietsie so kleins sou nie sy groot oomblik bederf nie. Hy het sy pak slae gevat met die wete dat dit soos ’n kleurbalkie was, want hy was ’n man sonder vrees. Die ontsag in sy klasmaats se oë was iets om te aanskou, en het alles die moeite werd gemaak.

Nou met sy vernietigde hare sal al daai ontsag verdamp nog voor die eerste klok lui. Maar wat maak dit in elk geval nóú saak, ná gisteraand?

Die bus gaan slakkepas verby die inry. Hy kan nie glo dat hulle dit wil toemaak nie – hy wou nog eendag vir Renate soontoe vat. Maar sy gedagtes wil hom nie los nie, dit trek hom terug na daardie oomblik gister, voor die badkamerspieël, besig om sy nuut vernietigde hare te bekyk.


“Pete, kom nou, laat ek kyk,” sê Deanne de Lange agter die deur.

“Ek’s nie meer agt nie, Ma,” grom Pete toe hy die deur oopmaak.

Deanne sukkel duidelik om haar glimlag te sluk. “Sjoe, ou Raj se skêr is maar lekker stomp,” sê sy. Haar soekende hand mik om aan sy hare te vat, en hy moet buk om haar vingers vry te spring.

“Ek het vir Ma gesê, ek moes salon toe gegaan het.”

“Moet nou nie beterweterig probeer wees nie. Jy weet goed daar is ’n groot verskil tussen vyftig sent en vyf rand. En ’n salon is vir vroue.”

“Maar kyk hier, dit lyk asof ’n blinde krap my hare gesny het.”

“Daar is ’n les te leer hier, Pete. Jy was die een wat aangedring het daarop om daardie filmsterhaardos te hou, selfs al weet jy hoe streng die skool se haarregulasies is.”

“Maar, Ma!”

Die agterkant van haar regterhand skrop nes in haar heup. “Reëls word óf nagekom, óf gebreek.”

Pete gee ’n lang sug. “Almal het gesê die reëls mag dalk verander met die nuwe skoolhoof wat inkom.”

“Hou op luister na ‘almal’. Daai reëls is al daar van lank voor die Tweede Wêreldoorlog, en dit sal ongedeerd bly staan tot lank ná jou kleinkinders die skool verlaat het.”

“Wat ook al,” mompel Pete en stap kombuis toe.

“Wat het jy gesê?” vra Deanne.

“Ek sê: Ek gaan ’n bietjie draf.”

“Sorg dat jy voor donker by die huis is,” skree sy agterna toe hy die gaasdeur ooppluk. “En bly weg van oom Gerrit se plaas – jy onthou wat met Bennie se hond gebeur het, nè!”

 “Oukei, Ma-a.”


Pete kyk na die weerkaatsing van sy glimlag in die busvenster. Hy weet sy ma het dwarsdeur hom gesien. Sy sou hom fyn dopgehou het terwyl hy kamstig in die rigting van die laerskool begin draf het, net om minute later in die teenoorgestelde rigting verby te stoom.

Hoe wens hy nou dat hy nooit vir daardie draffie gegaan het nie. Niks, nie eens eerstespanrugby of om goed genoeg vir Renate te wees, niks, is die prys van daardie draffie werd nie.


Eintlik haat hy dit om te draf. Dit is ’n doellose oefening waar jy jou liggaam forseer om te oorverhit, en boonop moet jy dag ná dag na dieselfde ou goed langs die pad kyk. Goed soos die dorpswembad, die gebreekte straatlamp, die verroeste 1956-Studebaker wat eensaam staan in die verlate stukkie veld wat minstens een keer elke twee maande afbrand. Die eentonigheid van die huise in Nuwe Uitbreiding wat met ’n diep sug langs Favershamstraat wag vir iets om te gebeur, en dieselfde mense, wat dieselfde dinge doen in ’n mallemeule van doelloosheid in hierdie gatrantse dorpie.

Sy voete neem hom oor die wal van die kleinerige visdam met die beste klei in die kontrei, maar sy gedagtes is by Renate. Hy kan sien hoe haar perfekgevormde kuite voor hom uitdraf. Haar klein, groen oefenbroekie ’n kers wat hom nader roep, en haar lang blonde hare wat oor haar skouers dans, ’n speelse belofte. Sy draai dan na hom. Die son glinster op haar melksuiwer vel. Haar glimlag is diamante geraam in die sappigste rooi lippe. Vinniger en vinniger beur sy bene hom vorentoe, die vuur binne-in hom skroeiend. Hy druk homself tot hy later voluit hardloop, verby die ruïne van die ou plaashuis en die klein handgeverfde bordjie wat lees: Privaat Eiendom – Bly Uit! Hy trippel op sy tone oor die roosterhek, spring oor die verlepte ou doringdraad, óp teen die bult na waar die rotse soos torings in die lang skadu’s van die dalende son vir hom wag. Daar was net een draai oor voor hy bo sou wees, dan sou hy omdraai. Maar eers moet hy die Renate-vuur blus.

Op die kruin sak Pete op sy hurke. Sy longe veg vir lug, maar hy voel goed. Die son raak al aan die horison en sy liewe moeder sal nie juis in haar skik wees as hy weer ná donker by die huis aankom nie. Haar teleurstelling sal egter moet wag, want hy het behoefte daaraan om eers hierdie oomblik in te drink. ’n Gerammel trek sy aandag. ’n Donker wolkkolom hang bo Durnacol, en lyk of dit nader kom. Seker meer blaf as byt, dink hy, soos al die ander kere. Hy draai weer na die weste. Die groot rooi bal is nou amper halflyf agter die uitgestrekte prag van die magtige Drakensberg en hier en daar is ’n paar wolkies gekleur in pienk en pers. Wie weet, dalk is Dannhauser nie so ’n slegte plek nie.

’n Skerp fluit sny deur die skemerlig. Pete draai om, nog diep ingedagte. Vanaf die oorkant van die heuwel kom ’n swarte, ongeveer sy ouderdom, aangedraf na hom toe. Sy gedagtes flits na die vorige aand se nuusbulletin oor verbanne swart kommie-terroriste wat beplan om al die blankes af te maai. Sy oë trek skrefies soos hy probeer kyk vir ’n mes of geweer, maar hy sien niks nie. Hy oorweeg dit om te hardloop, maar die besef pak hom beet dat dit totaal futiel sal wees, almal weet mos: swartes is vinniger as blankes. Baie vinniger. Al wat hy kan doen, is kyk hoe die potensiële kommunis al hoe nader kom, en te voel hoe sy linkerbeen effens begin bewe. Die swarte is kaalvoet en het ’n verbleikte blou safaripak-kortbroek aan wat duidelik te groot is vir hom, en ’n geskeurde T-hemp met Durnacol 25th Anniversary in vaal rooi letters daarop geskryf. Sweet het laer getrek rondom sy swart kroesies. Hy lyk presies soos daai skildery van Shaka Zoeloe met sy velletjie en assegaai teen die muur van hulle standerd drie-geskiedenisklas.

“Hierdie is privaat eiendom. Jy mag nie hier wees nie.”

Die woorde is soos ’n emmer koue water wat oor hom omgekeer word. Sy stem is diep, met ’n besonder swaar, amper geforseerde aksent.

Pete voel die woede in hom opwel.

“Jy praat nie so met my nie, kaffer!” En daar vir die eerste keer hoor hy hoe die k-woord uit sy mond val. Sy ouers het gesê dis ’n vloekwoord. Dit skuur grof oor sy tong, maar laat hom op ’n manier magtig voel, én skuldig. Als gelyk.

“Is hierdie nou kamstig jóú plaas? En my naam is ‘baas’; ek’s nie jy of jou nie, hoor jy my?” spring die woorde uit voor hy kans het om dit te verwerk.

Die swarte gaan staan ’n paar meter van hom af. ’n Frons sny sy voorkop in twee terwyl hy sy vet onderlip diep in sy wye mond in suig en dit lyk asof hy sy tande daarin vasbyt. Sy arms is nou veilig agter sy breë rug.

“Hierdie plaas is die eiendom van meneer Gerrit Jacobs. Hy hou regtig niks van oortreders nie, baas.” Hy praat moeisaam, asof iemand twee streepsakke mielies op sy skouers gelaai het.

’n Vreemde gevoel dans in Pete rond en hy wil glimlag. Hy het nog nooit tevore meer as twee woorde met ’n swarte van sy ouderdom gepraat nie, en hier, met een vinnige veeg het hy jong Shaka onskadelik gestel. Flippit, hoe wens hy Renate was hier om hom in aksie te sien.

Die swarte kyk vinnig twee keer oor sy skouer.

“Serious, baas Gerrit sal skiet, no jokes.” Hy staan kopomlaag en staar na die ongelyke grondpad. Sy skouers hang ’n bietjie en ’n paar druppels sweet rol teen sy wang af.

Pete kyk na hom. Hy lyk nou kleiner as met die eerste oogopslag. “En jy? Wat maak j’y hier? Mag j’y hier wees? Dalk moet ek vir baas Gerrit vertel dat jy wegglip dorp toe?”

“Asseblief, ek het net bietjie gehardloop . . .” Die klank van ’n aankomende voertuig knip sy sin kort. Hulle kyk angsbevange in mekaar se oë. Pete kan al amper voel hoe oom Gerrit se koeël sy vel en vleis oopkloof. Sy ma se waarskuwing tol en tol deur sy kop. Hoekom is hy altyd so hardegat?

Hulle bly net so in verstarde ongeloof staan. Meteens, asof ’n rat gelyktydig in hul koppe begin draai, pyl hulle op die naaste rots af, die swarte hardloop om en Pete spring soos ’n gekweste vlakhaas daaroor. Hulle plak hul rûe vas teen die warm klip. In die waansinnige haas skuur Pete per ongeluk sy arm teen die swarte s’n en pluk dit sonder om te dink weg en vee dit aan sy broek af. Hul asemhaling is kort en vlak, elkeen vasgevang in sy eie vrees, beide bitter spyt dat hulle hier kom draf het.

’n Voertuig stop baie naby aan die rots. Pete kyk langs hom. Hy sien rou vrees wip in die swarte se oë, die donkerste oë wat hy nog ooit gesien het. Daar is geel strepies in die wit van sy oë, en vir ’n oomblik wonder Pete of dit die laaste ding is wat hy ooit sal sien.

’n Deur gaan oop. Musiek vul die skemer lug. Pete herken dadelik die liedjie, Duran Duran se “Wild Boys”. Hy is baie deurmekaar. Watter vyftigjarige boer luister na só ’n liedjie?! Die swarte dink seker dieselfde, want sonder ’n woord of handgebaar draai beide so stil soos hulle kan om. Daar is ’n paar krakies in die rots en elkeen neem stelling in so ver as moontlik van mekaar af, met die bes moontlike uitsig.

’n Jong man in sy vroeë twintigs staan langs die bestuurskant van ’n splinternuwe Toyota Hilux-bakkie. Hy sing heerlik saam terwyl hy ’n niksvermoedende kakiebos papnat pis. Pete ken hom van sien. Hy het hom al by die kerk gesien, nie elke Sondag nie, maar redelik gereeld. Hy boer iewers naby oom Ampie op die Normandienpad. ’n Rudie-iemand. Maar wat soek hy hier?

Die passasiersdeur swaai oop en amper snak Pete hardop na sy asem. ’n Jong Indiërmeisie spring uit en storm reguit op hulle rotsskuiling af. Haar arms swaai soos ’n spartelende voëltjie s’n, haar mond hang half oop en dit lyk of sy huil.

Pete ruk sy kop na links, maar die swarte se oë lyk self asof dit uit sy kop wil spring. Met elke tree wat die meisie nader aan hulle kom, voel hy hoe die bloed uit sy gesig dreineer.

Rudie besef wat gebeur en sit haar agterna. ’n Paar meter van hulle wegkruipplek af skop Rudie haar hard op die skeen en sy verloor haar balans, trek deur die lug en kom in ’n stowwerige bondeltjie te lande. Rudie sak met ’n slinkse glimlag oor haar neer. Sy huil angsbevange en probeer om weg te wurm van hom af, maar haar arms word vasgeknyp deur sy knieë. Hy lag bulderend en gaan sit op haar bors. Dit klink soos die duiwel.

Pete kyk weg. Wat doen ’n mens? Wat doen ’n mens?

Die meisie probeer haar bes om weg te wriemel, maar sy kan nie die ses-voet-vyf-Rudie beweeg nie.

“Ek hou van my kerrie met ’n skop,” sê Rudie deur geklemde tande. “Maar vanaand is jou gelukkige aand; jy gaan propperse boerewors proe.”

Met nuutgevonde erns woel sy haar lyf rond en gooi hom van balans af. Hy herstel egter vinnig en gee haar drie vinnige klappe voor hy sy hand teen haar been af beweeg en haar rok optrek.

Die swarte kyk na Pete en beduie dat hy moet opstaan. Pete voel weer hoe die woede in hom opvlam.

Die meisie gil benoud.

“Skree soveel as wat jy wil, teef, niemand gaan jou hoor nie. Nee wat, skree jou hartjie uit, kry daardie stembande lekker los, want netnou gaan jy van die lekkerte skree.” Rudie leun weer met sy volle gewig vorentoe, dié keer met sy linkerknie teen haar keel. In een flinke beweging steek hy sy hand onder haar rok in – en die geluid van haar broekie wat skeur, galm tussen die rotse.

Pete beduie met sy kop na die swarte, smekend dat hy iets moet doen. Maar die ander seun skud net sy kop en beduie met sy wysvinger na sy gesig, asof dít nou ’n antwoord is.

Wanneer hy weer kyk, staan Rudie regop met sy reusevelskoen in die meisie se nek geplant, stadig besig om sy belt los te maak, sy ritssluiter af te trek, en sy kortbroek toe te laat om teen sy bene af te gly tot dit te lande kom op die meisie se gesig.

“Asseblief, asseblief, moenie. Ek sal niemand vertel nie, ek smeek u meneer, asseblief, asseblief,” huil sy in die oomblik toe Rudie sy vellie effens lig.

’n Glimlag trek op in sy yl geel snorretjie. Stadig skud hy sy kop, sonder om oogkontak te breek, en druk sy hand diep in sy onderbroek. Sy skree klankloos van die huil, en trane los modderstrepe op haar gesig.

“Stop!” Pete maak sy oë versigtig oop en besef dat hy regop staan. Hy begin sy oë verwoed knip en kan sweer dat hy nou net sy hart teen sy hemp sien klop het.

Uit die hoek van sy oog sien hy die ander seun het ook opgestaan. Pete het nog nooit omgekap nie, maar hy dink hy is naby; hy kan swart kolle voor hom sien, en sukkel om te fokus op die jong reus wat hom aangluur.

Rudie gee ’n kort tree agtertoe, pluk sy hand by sy onderbroek uit.

“Ek sien wat hier aangaan.” Hy wikkel sy wysvinger in die lug. “Lekker by die huis weggeslip om in die stroois te kom rondrol.” Dan tree hy nader. “Luister nou mooi na my, mofgat. Wees ’n soet seuntjie en bogger terug huis toe. En sê vir jou gatgabba om te fokof. Ek’s besig met grootmensgoeters.” Rudie wys sy vinger reguit na Pete se regteroog en dit voel asof die growwe vinger tot in sy skedel druk.

Pete se lippe beweeg, maar geen klank kom uit nie.

“Ek vra net een keer,” grom Rudie en gee ’n paar tree vorentoe.

“Jy kan nie,” is al wat Pete gemompel kry.

“Ek kan nie wát nie, mofgat?” Rudie skuif aan sy koedoevelhoed en Pete sien die rooiblonde hare vasgeplak teen sy voorkop.

“Dis . . . teen die wet.” Pete probeer asemhaal, maar sy keel is heeltemal toegetrek.

“Ek sal jou ’n bietjie van m’y wette leer!” skree Rudie en storm na sy bakkie.

Voordat enige sinvolle inligting by sy brein kan uitkom, gryp Pete die oomblik aan wanneer Rudie se rug op hom gedraai is. Hy hardloop om die skuilrots, besef die swarte is by, en help die meisie orent. Haar arm voel dun en broos. Sy het nie ’n kat se kans gehad nie. Hulle draai om en hardloop so vinnig as wat hulle voete hulle kan dra by die wegkruipplek verby, verby nog rotse, reguit na die horison waar pienk en pers verander in donker grys.

Die swarte neem die voortou. Dit lyk asof hy weet waarheen hy gaan en Pete wil regtig nie in hierdie oomblik sy kennis van die plaas bevraagteken nie. Die meisie hardloop kort op Pete se hakke, hy hoor haar sagte snikke.

“Hol! Kom ons check hoe julle vir my koeëls weghol!”

Rudie se donderende stem verswelg alles, selfs die klank van hul voete wat teen die harde grond klap. Dan hoor Pete ’n skoot.

Hulle klouter teen ’n klein klofie af. Dit gaan pynlik stadig en Pete kan voel hoe Rudie met elke tree nader kom. Nog ’n skoot weergalm in sy ore, of dalk was dit die herinnering aan die eerste een. Die meisie is glad nie ’n natuurlike hardloper nie, nog minder ’n bergklimmer. Hy kners elke keer ’n bietjie harder op sy tande as hy moet stop om haar te help en aan te moedig. Die swarte daarenteen dans soos ’n wafferse klipspringer by die klofie af. Pete het altyd gedog hy is rats, maar hy is nie naastenby vergelykbaar met die springhaas hier voor hom nie.

’n Heldergeel vonk spoeg teen ’n rots minder as twee meter van Pete af. ’n Oomblik later volg die klank. ’n Rilling, soos niks wat hy nog ooit gevoel het nie, skraap ’n ysige spyker al teen die sagte vel van sy rug af.

Rudie se skaterlag breek soos ’n golf oor hulle. “Bliksem, dit was naby! Woo-hoo! Die volgende ene los breins op die grond, nè. En dan gaan ek lekker kerrie vreet!”

Onder in die klofie is dit al sterk skemer en maak dit moeilik om te sien waar hulle hardloop. Die swart seun draf langs Pete en beduie dat hy hom moet volg. Pete doen dit gedwee, want ’n beter alternatief is skielik skaars.

Die meisie val en die twee seuns raap haar sommer so in die hardloop op; sy raak skaars grond. Die swart seun lei hulle na ’n plek met digte riete. Voëltjies tjirp en fladder kwaad. Hulle voel-voel hulle weg deur. Aan die oorkant is ’n modderdam wat feitlik droog is. Die swarte spring sonder om te aarsel in die modder en smeer die dik, swart klei oor hom. Die meisie doen ná ’n oomblik se weifeling dieselfde. Pete hou aan rondkyk, maar kan glad nie vir Rudie sien of hoor nie. Dan maak ’n harde knal al die voëls stil. ’n Dowwe slag weerklink teen die wal van die dam. Pete duik pens en pootjies in die modder, rol rond en probeer soveel modder as wat sy bewende hande kan hou, oor hom smeer. Met hompe taai swart gemors oor hulle gesmeer kruip die drie so suutjies moontlik die gewaande veiligheid van die riete binne. Skemer het nou bykans heeltemal opsy begin staan om plek te maak vir die nag; met net die berge op die horison wat nog vashou aan die laaste paar ligskynsels.

In die riete is daar egter nie ’n greintjie lig nie.

“Ek het die heelnag tyd! G’n mamma wat bekommerd vir my sit en wag nie.” Rudie se stem is nou baie naby. “Moerse oorspronklik. Ek weet julle is in die modder! Dink julle daar staan poephol op my voorkop geskryf?!”

’n Lang stilte volg. Pete kan nie glo hoe hard sy eie asemhaling is en hoe stil die ander twee s’n nie.

“Laaste kans. Kom uit, gee my die bunny chow en jy kan aan jou mammie se speen gaan suig . . .”

Pete sluit sy oë toe ’n paar skote in die vlak poeletjie naby waar hulle in die modder gerol het, plons. Weer stilte. Waar is hy?

Doef!

Dis die hardste klank wat hy nog ooit gehoor het. Die riet langs die meisie ontplof in ’n poeierige gemors. ’n Gedempte gil ontsnap haar saamgeperste lippe. Sy gryp na haar mond, maar dis te laat, Rudie het haar duidelik gehoor.

“Ha! Het jou!”

Sy pote kom stadig aangeslof, doelgerig deur die riete, nader en nader aan hulle.

Pete maak sy mond oop, desperaat om sy longe met lug te vul. Hy kyk rond vir antwoorde, maar al wat hy kan sien, is die oneindige donkerte om hom.

Dan breek iets deur die swart. Twee strale verlig die horison en sy hart klop in sy mond. Dit beweeg vinnig en word skielik groter. Oom Gerrit? Hy moes die geweerskote gehoor het . . .

“Shit!” brul Rudie so naby aan hulle dat Pete sy asemhaling kan hoor. “Shit! Jou gelukkige stuk . . . aaah!”

Die haat in Rudie se stem is soos ’n ondier wat met sy kloue oor Pete se skedel krap.

Soos die twee hoofligte nader kom, hoor hulle hoe Rudie se voetstappe weg beweeg.

“Ek weet wie jy is, Petrus!” Die swart seun ruk byna sy nek af om in die rigting van die stem te kyk, die wit van sy oë is al wat Pete in die ligte van die naderende voertuig kan sien.

“Of Pete, soos jy jouself deesdae noem. Dink mos jy’s moerse cool, nè? Pete de Lange, seun van Rikus en Deanne.” Die swarte se oë verdwyn in die donker. Pete proe braaksel in sy mond.

“As jy ooit enigiets oor vanaand sê, en ek bedoel selfs in jou blerrie slaap, gaan die hele donnerse wêreld weet dat jy ’n moffie is. Verstaan jy?! Maar nie net ’n gewone mofgat nie, nee, almal gaan presiés weet vir wie jy jou broekie aftrek. Jou lewe sal oor wees, dipshit! O, en Pete, ek het al gesien hoe jou mammie my uitcheck met daai honger ogies van haar, lekker lus vir ’n happie van my boerewors. So as jy, daai piksteel, óf daai verdomde kerrievretertjie selfs net hardop dínk oor vanaand, gaan jou mammie meer as net ’n happie kry. Dit promise ek jou. Het jy my, Pete-de-fokken-Lange?!”

Rudie se voetstappe word dowwer.

In die verte hoor hulle die Hilux se deur wat toegeslaan word en dan wegjaag sonder om sy ligte aan te skakel. ’n Paar minute later daag oom Gerrit op. Hy klim uit sy bakkie sonder om dit af te skakel, bekyk die wielspore in die ligbaan van sy hoofligte, klim weer in sy bakkie en volg die wielspore in die rigting van die dorp. Nie lank daarna nie is hy terug, doof die hoofligte en skakel die enjin af. Hy begin stap, sy flitslig dans wild in die donkerte. Pete hou die oom fyn dop waar hy teen die klofie afklim en sy flits uiteindelik op ’n patroondoppie laat stilstaan. Hy durf nie sy oë knip nie. Die oom draai die doppie om en om tussen sy vingers en ruik daaraan. Pete wonder of hy al vergeet het hoe om asem te haal. Oom Gerrit steek die doppie in sy sak en loop reguit in die dam se rigting. Die lig van sy flits breek deur die riete. Die drie lê tjoepstil, bevrore in hul moddervesting, hopend, biddend, dat hy net sal omdraai, en dat hierdie verdomde aand sal eindig.

Die aarde wentel stadiger en kom feitlik tot stilstand. In die modder is tyd soos ’n lem wat sy siel van hoek tot kant oopvlek. Oom Gerrit bly op en af stap, al met die damwal langs. Meer as een keer flits hy reguit op hulle, maar genadiglik sien hy hulle nie raak nie. Met sy vierde draaislag langs die damwal steek hy vas. Dit voel vir Pete asof ys deur sy are gepomp word. Maar dan draai hy skielik om en loop terug na sy kar.

Vir etlike minute hou die drie van hulle oom Gerrit se motor dop tot lank ná dit oor die bult verdwyn het. Nie een van hulle het beweeg óf ’n klankie gemaak sedert die meisie se amperse fatale gilletjie nie.

’n Gerammel van donderweer laat Pete wakker skrik uit sy beswyming. Hy haal dan diep asem en lig hom stadig op uit die modder. Dit is taai en klou vas, soveel so dat hy amper vooroor val toe hy hom uiteindelik lospluk. Hy vee sy vingers oor sy bemodderde arms; dis taai soos stroop en stink soos kompos. Die ander volg sy voorbeeld en saam strompel hulle deur die riete in die rigting van die klofie. Die stilte is ondraaglik. Pete se gedagtes tol tussen sy pa se komende ontsteltenis, Rudie se duiwelse lag, en die meisie se soebat-oë. Hy wil iets sê, selfs al is dit net om hierdie onmoontlike stilte te verbreek, maar dit is asof die modder ook sy mond toegestop het.

Die meisie huiwer vir ’n oomblik by die plek waar Rudie haar vasgepen het. Haar silhoeët bewe. Hulle hou aan stap, oor die verlepte ou doringdraad, oor die roosterhek, tot anderkant die plaashuismurasie waar die swart seun skielik botstil gaan staan. Pete en die meisie stop ook; kyk vraend na hom. Hy is die een wat die stilte verbreek.

“Ek moet terug. Eish, ek het klaar gróót moeilikheid.”

“Ons moet haar by die huis kry,” maak Pete beswaar.

“Mense hou nie daarvan as swartes in die nag daar by die dorp loop nie. I’m sorry . . . ek . . .”

Voor hy sy sin kan klaarmaak, gooi die meisie haar arms om hom en fluister ’n dankie. Hy bly soos ’n standbeeld staan, asof hy ’n spook gesien het.

’n Skerp blits verhelder meteens die wêreld om hulle in ’n oogwink. Weerlig dans in die wolke en ’n vlaag naderende reën galop wild oor die dorre veld. Pete kyk skrams na die ander seun. In die glans van ’n uitgerekte blits ontmoet hul oë vir ’n oomblik, hulle knik, en beide draai om.

En daar skeur die hemele oop. In ’n ware Noord-Natalse tradisie stort die reën waarop almal so lank gewag het, in emmers vol loodswaar druppels neer. Die hemel se silwer koeëls brand Pete se vel met elke skoot wat die modder van hom af skiet. Hy is versot daarop; die reën op sy intense beste is een van sy gunstelingdinge – om buite te staan, elke druppel te voel. Vanaand bring egter heeltemal ’n ander betekenis aan die reën, want elke tree wat hy hardloop, was die trane weg wat ongevraagd in sy oë verskyn het. Ja, elke tree was meer en meer van die stinkende modder van hom af, en elke tree voel asof hy verder van Rudie se lag af wegkom. Maar as hy regs kyk, is s’y steeds daar.

Teen die tyd dat die besef tot hom deurdring dat sy nog langs hom hardloop, het die reën al feitlik al die modder van haar gesig afgewas. In die donderende simfonie van weerligstrale sien hy hoe haar lang swart hare aan die kante van haar gesig kleef. Hy kan nie dink dat hy al werklik na haar gesig gekyk het voor hierdie oomblik nie. Sy het hoë wangbene, perfek gerond, en haar oë is ’n ongelooflike ligte bruin, wat amper deurskynend lyk in die glans van die vlammehemel bo hulle. Sy is ook nie so skraal soos hy gedink het nie: Sy het die kurwes van ’n vrou.

Pete kyk weg. Hoe kan hy só na ’n Indiër kyk? Sy’s ’n Indiër. ’n Verdomde In-di-ër, vermaan hy homself.

Hy loer weer na haar, en sien die oulikste kuiltjies in haar wange.

Stop dit nou!

’n Motor kom van voor af en hulle slaan vinnig dekking agter ’n jakarandaboom. Hy kyk weer na haar, maar vinnig weer weg voor sy sien. Hy trek sy windbreker uit – wat hy eintlik net gedra het om meer te sweet en vinniger gewig te kan verloor – en plaas dit oor haar kop en skouers. Skamerig aanvaar sy dit. Haar oë verklap die wete dat sy hopeloos té veel soos ’n Indiër lyk om hierdie tyd van die aand in die blankebuurt rond te loop.

Hulle hardloop verby die dorpswembad en die laerskool, verby die biblioteek tot by die hoek naby die polisiestasie. Hier gaan staan sy.

“Ek bly down there,” beduie sy na ’n systraatjie, trek dan Pete se windbreker haastig uit en gee dit vir hom.

“Ek loop jou huis toe,” sê Pete aarselend.

“My pa will come out swinging an axe as hy ’n seun by my sien.” Sy glimlag en haar mond krul moeiteloos tot in haar kuiltjies.

Pete steek amper meganies sy hand uit. Sy ignoreer dit en gee hom ’n drukkie. ’n Sagte drukkie, huiwerend.

“Dankie.” Haar fluisterwoordjie gly oor sy vel en kielie sy oor.

Dan los sy hom, draai om en drafstap af met die pad.

Pete staar haar agterna. Sy arms hang soos twee rugbykouse langs sy lyf. Sy gedagtes is stil, die reën is hard. Binne oomblikke is sy weg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS