Dominique

Uittreksel: Dominique

Proloog

Sy lê op haar rug met haar bene in die lug opgehys. ʼn Geweefde tou reep vierdubbeld om haar kuite en polse – ʼn dubbelknoop merk haar polse met geswelde, rooi strepe. Delikate vingerpunte met swartgeverfde naels raak net-net aan haar enkels.

KOOP HIER | BUY HERE
Dominique is ’n kunstenares en ’n hoogsbetaalde gesellin wat spesialiseer in seksfetisjes. Martin is ’n sielkundige wat bekruipers navors. Hul paaie kruis wanneer Dominique by Martin om hulp aanklop omdat sy agtervolg word. Hulle mag so uiteenlopend wees soos nag en dag, maar albei word geteister deur donker geheime. Martin het syfers nodig om sy angstigheid te beheer, Dominique die vertroosting van haar sekswerk-persona, Courtesan. Soos Dominique en Martin deur haar lys van klante werk om Die Bekruiper te ontbloot, word die bedreiging al hoe erger. En die tyd al hoe minder. Die boek bied ’n ontnugterende perspektief op die seksindustrie - seks word nie verromantiseer nie en die vraag word gevra: Wat is normaal? Die skrywer het baie navorsing gedoen oor bekruipers, psigopatie, voyeurisme, obsessie as kliniese siekte, maar ook hoe alledaagse mense seks as kommoditeit gebruik. Nie vir sensitiewe lesers nie.

Sy is kaal.
Die gladde hakke van haar voete kontrasteer met haar geplooide, rooskleurige sole. Weerloos. Kwesbaar.
Haar bene is sterk, maar gerond, vlees en spiere sensueel ineengevleg. Skadu en lig. Kwesbaarheid en kragtige sensualiteit. ʼn Vrou. Prooi. ʼn Geskenk. Offerande.
Hy huiwer in die kunsgalery se deur, ʼn lang man, vasgenael deur die enkele skildery wat teen die muur voor hom hang.
ʼn Buitestander in die donker.
ʼn Groep mense skuur by hom verby en hy word na binne meegesleur. Hy beur deur die lywe en hande wat glase vonkelwyn omhoog hou, hul stemme kwetterend, met hul lywe wat swerm voor die res van die skilderye teen die mure.
Blou bakke vol oranje lemoene omring die ysnat bottels vonkelwyn op groot houttafels. Hy tel ʼn katalogus op wat op een van die tafels lê.
Dominique du Randt is ʼn kunstenaar wat bekend is vir haar uitbeelding van gebondenheid, seksualiteit en die vrou as afgesonderde entiteit. “Gebonde” is haar eerste uitstalling sedert haar suksesvolle solovertoning, “Die Geur van Lemoene” in 2014. Die lemoen is ʼn herhalende simbool in haar werke, wat grootliks bestaan uit naak- en selfstudies.

ʼn Skildery trek sy aandag. ʼn Vrou dans die flamenco vir ʼn groep mans, hurkend rondom ʼn vuur. Sy is in haar eie wêreld, haar oë toe. Ekstaties, eksoties. Die vuur se vlamme kleur haar kaal lyf met die donkerswart van bloed. Dit brand vonke in haar lang, donker hare wat oor haar skouers val, lek honger aan haar kurwes, haar lyf gebuig in ʼn volle oorgawe aan die passievolle dans.
In kontras met die detail waarmee die vrou uitgebeeld is, is die mans se gesigte net gedeeltelik geverf; hul lywe bloot ʼn modderige smeersel met ʼn kwas. Halwe mense, skuilend in die donker skaduwees buite die vuur se lig en warmte.
ʼn Trop honger hiënas.
Net een man is in detail geskilder. Pure roofdier leun hy vooroor; sy gesig verlig deur die vlamme, sy oë honger, sy tande gesink in ʼn lemoen, die sap nat en taai oor sy vingers.
Die lang man draai weg van die skildery. Sy vingers, die naels rou afgekou, vou om een van die lemoene in die bak voor hom. Die skil is glad en hard. Hy gooi die lemoen heen en weer van een hand na die ander. Heen en – in sy hand stol die beweging. Word die lemoen leweloos en stil.
Die lewensgrootte werk voor hom is van dieselfde vrou. Natuurlik. Volgens die katalogus gebruik die kunstenares haarself as model. Haar hare is styf teen haar kop gevleg en versier met ʼn groot, wit roos agter haar oor. Weer is haar oë toe. In pyn of ekstase?
Alles is perfek, selfs romanties. Die rooi-en-swart Spaanse rok, die pienk agtergrond waarteen sy soos ʼn herinnering wegkwyn. Asof dit ʼn swart streep is, rem ʼn smal muilband haar terug in die mond. Gebonde en vasgekeer.
ʼn Knoop vorm in sy maag, maar ʼn knoop wat stadig, sensueel ineenvleg.
Die skerp reuk van sitrus breek deur die man se sintuie. Sy vingers is taai en nat. Hy kyk na sy hand waarin die lemoen pap gedruk is. ʼn Dun straaltjie stroop taai teen sy vingers af.
Toe hy opkyk, sien hy haar. Sy hou hom dop.
Sy. Dieselfde vrou as in die skildery.
Sy wéét. Sy draai om en stap met uittartende heupe weg. Bespottend.
Hy beweeg nie, haal nie asem nie. Dan druk hy die gekneusde lemoen teen sy lippe.
Soos ʼn soen.


Hoofstuk 1

Kaapstad, 2019

Sy staan in die middel van die vierkant tussen die mediese kantore. ʼn Swart uitroepteken teen die wit muur. Geklee in ʼn swart hemp, stywe knielengte romp, swart stewels. Lang, donker hare tot op haar skouers.
Haar arms is bo haar kop gebuig, die hande gekruis by die polse.
Braceo.
Haar rug is hol waar die onsigbare hand van ʼn minnaar rus. In die houding van ʼn flamencodanser buig haar gesig na die son. Martin tas na sy hempsak, haal sy bril uit en sit dit op. Hoekom lyk sy so bekend? As hy haar net van nader kon sien.
Sekondes tel ʼn stadige ritme af.
Haar hande ontkruis. Vou soos ʼn blom oop. Krul lugwaarts.
Die flamenco se bekende handgebare.
Florea.
Hy draai weg van die venster en stap na sy ontvangsdame se lessenaar. “Ansie, weet jy wie dit daar in die vierkant is?”
Ansie kyk op van haar rekenaar.
“Dis jou vyfuurafspraak, dokter. Dominique du Randt. Sy’s ʼn halfuur te vroeg en wou rook. Toe sê ek maar sy kan na die vierkant gaan. Moet ek haar gaan roep?”
Dominique du Randt. Natuurlik. Die kunstenares.
“Nee dankie, Ansie. Ek sal haar gaan kry. Dan rek ek sommer my bene ook.”
Martin du Plessis stap by sy spreekkamer uit. Sy treë is lank en doelgerig, soos hy inderdaad is. Hy loop met sy skouers opgetrek soos ʼn marionet, sy ritme ʼn mars. Aan die einde van die gang stop hy voor die langwerpige spieël, trek sy baadjie reguit, leun vooroor en pluk met ʼn vinnige haal ʼn grys haar uit sy wenkbrou.
Vir ʼn sekonde is daar pyn. Dan stap hy verder, sy vingers metodies, knaend tellend oor sy kneukels.
Twee en dertig tree van die deur tot by die gang.
Een honderd en vyftig tree van die gang tot by die badkamer.
Een honderd en sestig tree van die badkamer tot by die trap.
Agt en sestig trappe tot onder.
Ses en vyftig tree tot by die vierkant.
Tussen sy kneukels stol die syfers. Waar is sy?
Iets ritsel agter hom. Sy kom agter ʼn muur te voorskyn met ʼn sigaret tussen haar vingers. Sy bewe liggies, ʼn blaar wat enige oomblik weg kan waai.
Dit is ongetwyfeld sy.
Haar lyf is lank, lenig en atleties. Maar haar smal, effens geboë skouers is weerloos. ʼn Effense bultjie op die brug van haar neus trek sy aandag. Dalk gebreek toe sy jonger was? Wanneer sy asemhaal, sper haar neusvleuels. Haar oë is donkerblou en onpeilbaar – ʼn afgrond.
“Wie’s jy?” vra sy in ʼn ietwat skril stem. ʼn Oktaaf te hoog.
“O, verskoon my! Ek is Martin du Plessis. Ek het nie bedoel om jou te laat skrik nie. Ons het ʼn afspraak. Dominique du Randt, nie waar nie?”
Sy hande bly geknoop agter sy rug, sy vingers besig om die sekondes af te tel. Hy is nie hier om vriende te maak nie, maar om mense gesond te kry. Haar oë is skrefies om die son en rook uit te hou, maar haar blik beweeg vinnig oor hom. Opgesom. Binne ʼn paar sekondes.
“Ek hoop dis oukei dat ek hier kom rook het, dokter?”
“Natuurlik. En jy kan my Martin noem as jy gemakliker is daarmee.”


Dominique teug aan haar sigaret, diep en lank, asof dit haar laaste bietjie asem is. Haar rou senuwees gryp na die troos wat die nikotien bied. In ʼn mate kalmeer dit haar. Hy het haar laat skrik. Die een oomblik was sy nog alleen in die vierkant en toe is hy net daar.
Liewe vader, laat die man haar tog net kan help. Al lyk hy soos ʼn verkrampte skoolhoof met ʼn tipiese swart langbroek en swart hemp wat effens oopgeknoop is. ʼn Bypassende grys baadjie. Plooie vorm doringdraad oor sy voorkop. Donker wenkbroue boog oor diepgesette oë en eindig in ʼn saamgetrekte plooiing.
Die effek is ʼn donker merk bokant sy skerp neus eerder as kepe.
ʼn Dun bolip wat rus op ʼn vlesige vol onderlip. Hol wangbene.
ʼn Aantreklike aasvoël.
“Dominique, ek sê jou wat. Rook jou sigaret klaar en dan sien ek jou oor ʼn paar minute in my kantoor?”
Sy gooi haar sigaret op die grond neer en trap dit dood.
“Nee, dis reg, ek is klaar.”
Skielik wil sy nie meer alleen in die vierkant wees nie.


KOOP HIER | BUY HERE
Dominique is ’n kunstenares en ’n hoogsbetaalde gesellin wat spesialiseer in seksfetisjes. Martin is ’n sielkundige wat bekruipers navors. Hul paaie kruis wanneer Dominique by Martin om hulp aanklop omdat sy agtervolg word. Hulle mag so uiteenlopend wees soos nag en dag, maar albei word geteister deur donker geheime. Martin het syfers nodig om sy angstigheid te beheer, Dominique die vertroosting van haar sekswerk-persona, Courtesan. Soos Dominique en Martin deur haar lys van klante werk om Die Bekruiper te ontbloot, word die bedreiging al hoe erger. En die tyd al hoe minder. Die boek bied ’n ontnugterende perspektief op die seksindustrie - seks word nie verromantiseer nie en die vraag word gevra: Wat is normaal? Die skrywer het baie navorsing gedoen oor bekruipers, psigopatie, voyeurisme, obsessie as kliniese siekte, maar ook hoe alledaagse mense seks as kommoditeit gebruik. Nie vir sensitiewe lesers nie.

Terug in die ontvangskamer neem Martin die pasiëntlêer by Ansie en stap na sy kantoor. Hy maak die deur oop en beduie vir Dominique om in te kom. Die reuk van sitrus omhul hom toe sy by hom verbystap. Skerp, maar vlugtig.
Hy beduie na een van die twee gemakstoele wat voor sy lessenaar staan.
“Sit, asseblief.”
Eers steun sy swaar met haar voorarms op die armleunings voor sy die res van haar lyf stadig in die stoel laat terugsak.
ʼn Kniebesering dalk?
Hy draai om en trek sy baadjie reg voordat hy agter sy lessenaar gaan sit met sy rug ferm teen die ongenaakbaarheid van ʼn houtstoel. Die harde leuning hou hom wakker. Regop. Gereed vir enigiets.
“Welkom, Dominique,” sê hy. “Ek’s bly jy het my kom sien. Waarmee kan ek help?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS