Uittreksel: Die duisend en eerste nag

KOOP HIER | BUY HERE
1001 nagte, 1001 wonders, 1001 gevare. Wanneer Herman Swart se tweelingsuster Herma onverwags sterf, val ’n deel van hom weg. Hy raak toenemend eensaam en onttrek in ’n wêreld van ou films. Hy sien haar in sy eie spieëlbeeld en hoor haar op ongeleë tye. ’n Bykomende traumatiese ervaring versplinter sy wêreld finaal en Herman verval in ’n diep koma. Hy bevind homself binne-in ’n avontuur, ’n nagmerrie, ’n wêreld waarin droom, fantasie, film, vervolgverhale, musiek en die gotiese ineenvleg. In hierdie vreemde, magiese realisme beweeg hy tussen plekke, ontmoet verskeie karakters en word weggelok deur die prinses, ’n meisie wat baie aan Herma herinner. François Bloemhof het al plaaslik en wêreldwyd vir talle literêre eerstes gesorg, maar met hierdie unieke lees-luister-en-kyk-ervaring oortref hy homself. Die duisend en eerste nag het geen geduld met ou, veilige storiegrense nie.

Ouma se huis is ánders, en nie net omdat dit groter as ons s’n is en byna elke vertrek ’n ander kleur geverf is nie.
In my kamer, waar die mure plein wit is soos oral hierso maar darem deur posters onderbreek word, gee ek myself vir oulaas ’n kyk in die spieël. My bruin hare het seker genoeg wip, my oë is darem ’n groen wat jy nie dikwels sien nie, en ek het wimpers waarop ’n meisie in een van my eerstejaarsklasse gesê het sy jaloers is. Daarby is my neus nie te groot of te klein nie, my ken nie te swak nie, en al is dit moeilik om te onthou wanneer ek hulle laas ordentlik ten toon gestel het, is my tande wit. En reguit sedert ek omtrent ’n jaar lank draadjies gedra het.
Ek sou nou nie sê ek lyk na ’n held nie. In ’n fliek sal ’n skurk met woeste wenkbroue, krom neus en bedenklike gebit lag-lag die shine vang terwyl ek sukkel om dié permanent verwonderde uitdrukking van my gesig af te kry. Helde mag ook nie pal aarsel voordat hulle iets doen nie, anders hardloop die storie onder hulle uit.
Deur die mis. Só het ’n medestudent my al beskryf. Of: “Ou Swartes lyk of hy loop in iemand anders se droom.” Ek herinner my ook die term “goofy”. Dis egter moeilik om jou te vervies as jy waarskynlik dieselfde sou dink as jy daai trek op iemand anders se gesig sien.
’n Goofy ou wat nou klaar behoort te gewees het met sy swottings.
“Herman?”
Uit hoe hard haar stem is, skat ek sy staan in hulle kamerdeur.
Ek draai daardie kant toe.
“Ja, Ma?”
“Hoe ver is jy?”
“Ek kom.”
Toe sy gister voorstel ons moet weer ’n slag ’n draai by Ouma gaan maak, was ek so entoesiasties as wat ek nog oor enigiets raak. Ek moet uitkom en as jy nie ’n kar het nie, loop jy ook net só ver.
“Dis seker die enigste huis hier rond waar die jongmense langer vat as die oueres om gereed te maak,” brom my pa in die gang.
Jongmens, dink ek. Enkelvoud. Hy sou dadelik sy fout besef het en ek ken die pyn wat ek glo hy ook nou ervaar, skielik en ontsaglik soos wanneer ’n tandarts ’n senuwee raak boor. Selfs na ses maande is dit onmoontlik om gewoond te raak aan die feit dat sy weg is. As ek ooit iemand as onsterflik sou beskou, dan was dit sy.
Ek ruk terug na die spieël toe – en sien net myself. Daar was nie regtig ’n ander beweging nie.
Nogtans voel dit asof ek nie na my weerkaatsing kyk nie, maar na gekyk wórd.
Selfs die posters van stokou flieks teen die mure. Dit voel asof daardie mense se oë op my rus.
Genoeg hiervan! Ek gryp my U-screen van die bed af en dan is ek in die gang. My pa en ma se kamer is leeg, hulle is seker pas ondertoe.
Naby die trap se bopunt steek ek vas, al weet ek goed daar is niks agter die toe deur nie – altans, niks wat lewe nie.
Ek kon nie regtig ’n neuriegeluid gehoor het nie.
Tog. Ek steek my hand uit na die deurknop.
“Herman?” roep my ma van onder af, en dan sagter: “Roep jý hom. Ek wens jy wil iets doen omtrent sy . . .”
Sy raak stil. Ek moet die horribaalste fokop wees as sy nie eens woorde het vir wat ek doen nie.
“Herman!”
“Ek kom, Pa.”
“Ag, tog nie wéér swart nie!” kreun my ma toe sy my sien. My pa: “Laat ons tog net ry.” Hy ruik na rook. Hy ruik altyd na rook.
“Van kop tot tone,” mor sy toe ons al in die Merc sit. “Soos ’n . . .”
Hierdie keer weet ek watse woord sy soek: begrafnisondernemer. Oral wag ’n woord wat kan sny. Hulle hoef nie hardop gesê te word nie. Jy is op jou pasoppens, maar hulle spring steeds uit en verras jou.
Ons het skaars ’n blok gery, voor my ma na my toe omdraai.
“Onthou, Ouma is ook maar sensitief.” Soos vir ’n flippen skoolkind. “Dink voor jy iets sê.”
Sy is steeds nie lekker met my nie. Maar ten minste, wanneer ek haar vies maak, kyk sy nie na my op dáárdie manier nie.
Wanneer vang hy dalk weer so iets aan?
Ek kry warm in die sweater met die lang moue.
Die huis is net sowat ’n halfuur van ons af, maar as ons drie bymekaar is, het die tyd swaar voete. Binne dertig minute kan daar egter baie storie vertel word, so ek skakel die U-screen aan. Dis moer beter as my ou plasmaskerm, met veel hoër resolusie en iets soos 1 000 x 750 pixels. Vir ’n sekonde sien ek my gesig daarso, bo-oor die toneel uit die outydse fliek wat begin waar ek dit gisteraand gevries het.
’n Close-up van ’n onverskrokke kaptein Sinbad.
Pa hou by ’n rooi verkeerslig stil. Soos heelparty dinge wat jy met die mens se vordering deur die eeue kan assosieer, hou dit ons terug.
Ek ken nie die spelers in Captain Sinbad nie, en dis ’n goeie ding. As hulle te bekend is, onthou ek vorige stories met hulle in en is dit moeiliker om só te ontsnap.
Net hierdie lotjie se name het my reeds help meevoer. Soos Guy Williams (klink manlik en dapper) as die held, Heidi Brühl (laat my aan ingevoerde lekkers dink) as prinses Jana, en Pedro Armendariz (lekker vreemd, uitlands) as die skurkagtige sultan Al Karim. ’n Goeie prent kort ’n goeie skurk. Dis in Technicolor, wat daardie jare hels indrukwekkend moes gewees het. Ek hou daarvan dat die spesiale effekte so ónspesiaal is; dit lyk erg kunsmatig op hierdie nuwe speler. Soos wanneer die massiewe roofvoëls rotse op Sinbad se skip laat val en jy sien dat hulle meganiese kloue het. Die storie is in elk geval hoofsaak, en sterker as in die meeste nuwe flieks waar die CGI beïndruk, maar jy omgee vir niks of niemand nie. Ek moes gisteraand glimlag oor ’n tegnies lomp toneel in hierdie fliek toe ’n ou se kop al in die rondte moes draai – maar ek twyfel of ek dit nou nog so goed sou onthou het as dit perfek gedoen was.
Met die U-screen smaak dit my ek kyk na ’n ou, ineengekrimpte towenaar se vertoning in ’n blink, pas klaar opgerigte saal. ’n Fantasie van doerdie tyd kry weer lewe op hierdie skerm met sy positiewe en negatiewe terminale, anodes en katodes, ’n lagie fosfor vir lig en helderte, en whatever. Die held, heldin en skurk kry opnuut ’n kans om te doen wat hulle moet.
Vergelyk nou al die toordery van toeka met ’n hede waarin drie boring mense in ’n kar sit en nie in staat is om mekaar te help nie. Nie moeilik om te besluit waar jy eerder wil wees nie.
“Bliksem!” grom my pa toe ’n lorrie verbykom en skerp voor die Merc insny.
Ek druk die foontjies stywer in my ore voor ek my ma kan hoor sê hy moenie so lelik praat nie, want dit sál wees wat sy sê . . . En nou is daar klank. Musiek wat byna sestig jaar gelede opgeneem is en uiteindelik ’n pad tot in my kop vind.
Wat vroeër in Captain Sinbad gebeur het, is dat die held na ’n paar see-avonture terugkeer na Baristan, net om te vind sy geliefde prinses Jana is ontvoer en gaan binnekort gedwing word om met Al Karim te trou. Die bose sultan het haar pa onttroon en beheer geneem van die koninkryk. Hy het ook die koning se towenaar sover gekry om hom te gehoorsaam en van Sinbad ontslae te probeer raak.
Die grootste probleem is dat Al Karim onsterflik is – of solank sy hart (wat buite sy liggaam is om dié teen alle aanslae te beskerm) op ’n geheime plek gehou word. Sinbad moet prinses Jana uit sy kloue bevry. ’n Prinses moet altyd gered word; dan verdien jy wat jy kry. Sinbad is nou al deur rowwe tye. Hy is so ampertjies gevange geneem, en is byna dood toe hy in ’n arena teen ’n onsigbare monster moes veg. Sy volgende uitdaging is om ’n manier te kry om van die sultan ontslae te raak. Hy en sy helpers kom te wete dat Al Karim se hart in ’n verafgeleë toring versteek word.
Gisteraand het ek vaak geraak en ophou kyk toe Sinbad-hulle soontoe op pad was.

Nou:

Die held en sy helpers kom nie rooi verkeersligte en onbeskofte lorriebestuurders teë nie, maar mensvreter-moerasse. Dis alles baie kleurvol en baie onwerklik. Én baie pret. In die verte is daar ’n vurige oranje gloed, of is dit bedóél om vuur te wees? Hierdie omgewing is nog minder oortuigend as die voriges.
Toe verskyn daar ’n draak met ’n klomp koppe. Ons weet Sinbad sal hom verslaan, maar die lekkerte lê in die hóé.
En nou kom Sinbad by die toring waar die skurk se hart gehou word. Die orgaan lyk soos kloppende pienk jellie; ’n tamaai porsie Valentynsdag-poeding. Die fliek begin seker einde se kant toe staan wanneer die held ongetwyfeld met die prinses sal trou, maar eers het hy sy groot konfrontasie met Al Karim. Hulle veg met die swaard. Woes. Energiek.

“Ons is byna daar, sit nou af daai ding,” maak my ma se lippe en die gelukkige einde moet wag tot later. Ek sug innerlik. Die fliek is eintlik vir kinders gemaak, maar het my weer soos een laat voel. Daar is groter sondes as dit.
Kinders weet nie hoe gelukkig hulle is om só te mag ontsnap sonder dat hulle daarvoor verkwalik word nie. Vat dit van hierdie jong man: Bly ’n snotkop vir so lank as wat jy kan.
Ek haal die foontjies uit my ore en my ma herhaal: “Ons is byna daar.”
Ouma is háár ma. Sy het in daai huis grootgeword.
Die wit mure is net-net in die woud sigbaar. Ek knip my oë en kry lag vir myself – want dis net ’n klompie bome. Die donkergroen woud wat ek geglo het ek sien, was waarskynlik in ’n fliek wat ek die een of ander tyd gekyk het. Dit gebeur soms dat ’n toneel weke of selfs maande later voor my opkom en so werklik voel soos die klere aan my lyf.
In hierdie mooi laagte wat nooit naam gekry het nie, sit die plase soos pêrels op groen ferweel. Ouma weet nie wat om met al haar geld te maak nie. Pa is al lank ’n direkteur – hy’s in staal – maar hier is waar jy moet woon as jy regtig wil impress.
Voor jy die huis kan bereik, moet jy deur ’n groot ysterhek ry. My pa leun by die venster uit, druk ’n knoppie en die interkom gons.
“Wie’s daar?” vra Ouma amper dadelik. As sy ons nie kan sien nie, is die kykertjie vrek.
“Dis ons,” antwoord my pa en net soos toe daar “Open Sesame!” geroep is in Ali Baba and the Forty Thieves, ratel die hek oop. Dit maak weer agter die Merc toe en ons ry in die grondpad af. Ouma se huis word al hoe groter.
Sy maak die voordeur oop en dis tyd vir soene. “Hallo, my skat . . . Hallo, Karel.” En met ’n graad minder warmte as ek dit nie mis het nie: “Kom in, Herman.”
Ouma was snaakserig vandat ek kan onthou. Nou het sy byna geen kontak met die buitewêreld meer nie, klim net so een keer ’n maand in haar ou swart kar en gaan koop groot. Te suinig om te laat aflewer.
Sy lei ons sitkamer toe. Ons word getrakteer op Iced Zoo-koekies en die selfgemaakte kruietee waarop sy so trots is, maar wat só bitter is. Dis koel hier binne danksy al die bome. Ek sit plat op my jis op die geweefde Oosterse tapyt, soos toe ek ’n kind was – hoekom nie? – en kyk of ek iets nuuts gewaar. Nee. Hier mag nou wel ’n malle mengelmoes van eras en style wees, maar alles is pynlik presies. Meubels staan twee-twee of lynreg teenoor mekaar. En elke ding sonder maat hét sy plek. Oupa was destyds ’n majoor in die army en as hy nou uit die graf sou opstaan, sou hy die huis steeds gereed vind vir inspeksie. Ongelooflik genoeg hou Ouma dit self aan die kant. Het ook eiehandig die binnemure so pers en blou en rooi en wat ook al geverf.
Ek lig ’n boekie van die tafeltjie af – But Even So deur Kenneth Patchen – en blaai daardeur.

KOOP HIER | BUY HERE
1001 nagte, 1001 wonders, 1001 gevare. Wanneer Herman Swart se tweelingsuster Herma onverwags sterf, val ’n deel van hom weg. Hy raak toenemend eensaam en onttrek in ’n wêreld van ou films. Hy sien haar in sy eie spieëlbeeld en hoor haar op ongeleë tye. ’n Bykomende traumatiese ervaring versplinter sy wêreld finaal en Herman verval in ’n diep koma. Hy bevind homself binne-in ’n avontuur, ’n nagmerrie, ’n wêreld waarin droom, fantasie, film, vervolgverhale, musiek en die gotiese ineenvleg. In hierdie vreemde, magiese realisme beweeg hy tussen plekke, ontmoet verskeie karakters en word weggelok deur die prinses, ’n meisie wat baie aan Herma herinner. François Bloemhof het al plaaslik en wêreldwyd vir talle literêre eerstes gesorg, maar met hierdie unieke lees-luister-en-kyk-ervaring oortref hy homself. Die duisend en eerste nag het geen geduld met ou, veilige storiegrense nie.

Come now,
my child,
if we were planning
to harm you, do you think
we’d be lurking here
beside the path
in the very dark
est part of
the forest?

Ek raak moeg van sit. Op sulke tye het ek en Herma altyd buitetoe gegaan.
My lyf ruk. Daar’s dit weer: Die tand se senuwee is raak geboor. Ek onthou hoe ek haar die laaste keer gesien het. Dis altyd dáárdie prentjie wat kom, al was daar vroeër soveel goeies.
Dit het daardie dag gevoel of dit ek is wat daar lê . . .
Tweeling ofte not, waar wás my ouers se verstand toe hulle ons Herman en Herma gedoop het? Vanselfsprekend sou meer as een boelie op laerskool my kammakastig vir Herma aansien. Tot ek begin baklei het. Ek moes haastig ’n goeie bakleier word.
My ma sou ons heeltemal eenders aangetrek het as sy kon. Vir wat moes ek ’n seun gaan staan en wees terwyl sy dogters wou hê? O ja, dít het ek gou agtergekom. Wanneer ons uitgaan, het sy gesorg dat my hemp dieselfde kleur is as Herma se rok, dan kon mense nie die ooreenkoms miskyk nie. Ons hare is op dieselfde tyd gesny, of gelos om langer te word met min verskil in styl. Ek was ’n paar keer lus en laat skeer alles af. Nogtans was ek mal oor haar, my amper-ewebeeld, en die meeste van die tyd wou ek net soos sy wees.
Ek onthou hoe ek ’n driekwartier of wat gelede voor haar kamerdeur gestaan het. Ek het weke laas ingegaan, altyd sonder dat Pa of Ma weet. Die ene frilletjies en valle. Geraamde posters van sangers en akteurs oor wie Herma mal was. Parfuum. Houertjies met make-up. ’n Plakboek vol kaartjies en aandenkings van plekke waar sy al was. ’n Dagboek waaroor ek al gewonder het, maar wat ek nooit sal oopmaak nie. Alles nes toe sy die laaste keer daar uit is.
Ouma en Ma en Pa se stemme is vaag, en ek tune dit verder uit. Ek wil eintlik my U-screen gaan haal, maar dit sal nie goed afgaan nie.
Op die tafeltjie is ’n glasbal met ’n paleis daarbinne. Ek weet van vorige kere se kuier hierso dat daar nie soos met die meeste sulke goed kamstige sneeu begin val as jy dit skud nie – dit raak net vinnig donker, asof ink oor ’n skildery uitgesmyt word. My hand jeuk, maar Ma het jare gelede al gesê ons moenie so aan Ouma se goed vát nie. Al is die sitkamer vol dinge wat soebat om aangeraak te word. Soos die eier wat deur ’n majestueuse soort voël gelê is. Wat het Ouma nou weer gesê? ’n Witkruisarend. En ’n poppie wat geverf is om ’n Oosterse vrou voor te stel. Ek weet daar is ander poppies binne-in, maar kan nooit onthou hoeveel nie. ’n Spieël met ’n sierlike krulhoutraam. Dinge wat ek glo uit ’n horde muwwerige winkeltjies kom. Ouma sê elkeen het ’n storie.
En daai dik boek, The Thousand and One Nights, met sy dieprooi omslag. Party bladsye is weg. Ek het al van die stories verslind terwyl ek en Herma hier gesit het, sy besig met háár reise, haar blik ver. Dis waar ek die eerste keer van Sinbad gelees het, en van Ali Baba. Die boek loop oor van towerlampe, vlieënde tapyte, brawe mans met lang swaarde en tulbande, en betowerende vroue met hulle gesigte agter sluiers verberg. Soms word dit The Arabian Nights genoem, het Ouma gesê. En bygevoeg dat mense dikwels die fout maak om te dink dis ’n kortverhaalbundel. Nee, dit is een lang storie wat aanhou vertak.
Op die tafeltjie, langs die vrouepoppie, staan ’n bak met geelgroen appels, byna te volmaak en eenders om eg te wees. Ek vat een en hap daaraan, en dis eg – hoewel melerig, en suur. Ek sit dit maar skuins agter my neer, agter ’n stoelpoot.
En vat nog ’n Iced Zoo-koekie (kat? jakkals?) om die smaak uit my mond te kry.
“Gaan jy volgende jaar jou studie voltooi, Herman?” vra Ouma.
Byna verstik ek. “Ek sal nog sien.”
“Mens kan nie dinge so halfpad los nie.”
Jissis, het sy geen takt nie!
Ma kyk eenkant toe, Pa anderkant toe.
As Ouma my so aanhou kyk, weet ek hoe Herma oor veertig of vyftig jaar sou gelyk het. My oë is meer grys as wat Herma s’n was. Ek dink altyd aan hulle twee se oë as katgroen.
As Herma háár opleiding voltooi het, glo ek sy sou een van die land se voorste aktrises geword het. Al moes sy haar dan ook tot sepies wend om ’n bestaan te maak.
Ek stop die laaste Iced Zoo-stukkie in my mond en kan my hand nie keer nie; dit tel die poppie op. Dit mag Russiese poppies genoem word, maar dié lyk na karakters uit Die Arabiese nagte.
Die vroutjie dra . . . Wat’s die kleure? Purper en violet. Ek draai dit oop en in die holte rus die volgende poppie, net-net kleiner sodat dit knussies kon inpas: ’n man met ’n wit kleed en ’n doek oor die onderste helfte van sy gesig. En ’n swaard aan sy sy. Ek skroef hóm oop en ontbloot ’n meisie. Sy is nie so helder geverf soos die vorige twee nie . . . En hoe dan nou? Sy dra nie Arabiese klere nie, die rok is nogal modern. Is dit nóg iets wat ek vergeet het, of is dit ’n ander stel hierdie? Kan nie wees nie. Ek het dan die eerste twee poppies onthou. Maar ek het ook onthou – of gedink ek onthou – dat hulle ’n patroon volg; dat daar ’n deurlopende tema is. Die meisie se mond is oop asof sy sing. Ek skat egter dit moet lyk of sy besig is om te praat. Dalk om ’n storie te vertel. Haar oë is groen. Ek vat haar bo en onder vas, gee ’n draai . . . en vind ’n jongerige ou binnein. Sy klere lyk baie . . .
Nee. Nie “soos myne” nie.
Ek raak koud.
Hy lyk nés ek.
My hande begin bewe. Ek verbeel my dit! Vinnig pak ek die poppies terug en skroef die boonste een toe.
“Ek gaan toilet toe.” Ek kan nie langer so bly sit nie.
Lam bene dra my na die badkamer waar ek water op my gesig spat en my in die spieël bekyk. Net weer die verwarde, dalk verlore uitdrukking. Ek het vir ’n oomblik gedink ek sal anders lyk hierso.
Ek is so ampertjies terug by die sitkamer, toe ek my ma se stem hoor en vassteek. Sy klink soos ’n samesweerder in ’n spioenasiefilm.
“Permanent met daai ding besig. Net om ons uit te sluit. Hy druk daai goetertjies in sy ore en staar na die skerm en dan’s hy in ’n ander wêreld. Dis net so goed ons het twéé kinders verloor!”
“Hou moed, my skat,” troos Ouma. “Dink net watter geweldige skok moes dit vir hom ook gewees het.”
“Maar hy sluit ons uit. Hy bly net besig met daai . . . speelding!”
My pa sê weer ’n slag iets: “Dis partykeer asof hy kwaad is vir ons.”

Nou is hulle stil. Sonder dat ek dit kan sien, weet ek hulle kyk na die oop deur en wonder of ek al op pad is.
Ek loop suutjies op my spore terug. Hierdie keer kom ek met ’n toonlose geneurie uit die badkamer en maak die deur hard toe.
My ma verskyn in die sitkamerdeur. “Ons het net begin wonder waar bly jy.”
Wat beteken: Ons het begin bekommerd raak oor wat jy dalk nóú weer aanvang.
“Ek gaan ’n ent stap,” sê ek soos ek en Herma altyd aangekondig het wanneer ons hier is. Die tweeling wat alles saam doen.
“Ek het nogal gedink jy lyk kriewelrig,” glimlag Ouma.
“Moenie te ver gaan nie,” sê my ma.
Wil my altyd oppas, maar kan dit ook nie verduur om my in die gesig te kyk en iemand anders daar te sien nie. Op ’n manier is ek en sy ook ’n tweeling. Ons deel ’n woonruimte en pyn. Sy besoek elke week ’n kopdokter, ek het net ’n paar keer. Die een fok voort met pille, die ander met flieks.
My pa knik net. Geen besoeke en pille vir hóm nie. Hy’s in staal.
“Jy kan dalk in die kranse se rigting loop,” stel Ouma voor. “Dit lyk die laaste tyd vir my so mooi as ek soggens by die venster uitkyk.”
“Bye.”
Toe ek om ’n hoek kom op pad na die agterdeur, vang my oog ’n beweging en sien ek Herma na my kyk. Dit voel of ’n tak al die pad van my nek af oor my rug tot by my stuitjie skraap.
Dis net ek in die spieël.
Al neem dit my ’n ruk om seker te wees. My asem hou op jaag.
Ek het al gewonder oor ás sy kon terugkom. Hoe sal sy teenoor my optree? Sal sy so woedend wees soos sy soms kon raak? Omdat ek dit nie daardie dag kon verhoed nie? Sy was ’n paar keer so kwaad dat ek kon sweer sy gaan iemand doodmaak.
Ek dink aan die poppie wat net soos ek gelyk het. Iets het binne-in hom geskud, hy was nie die laaste in die ry nie. Wat sou ek gekry het as ek hóm oopgeskroef het?
Weer op pad agterdeur toe moet ek by die breë trap se voetenent verby. In al die jare was ek net een keer daar bo.
“Jy weet wat het met die nuuskierige kat gebeur,” het my ma kleintyd soveel kere gesê. Maar ek kyk mos net.
Daar is ’n dik, glimmende houtreling en die trap maak ’n draai halfpad boontoe.
Ek vries.
Kyk weer.
Net ’n groot skadukol by die draai. Ek kan nie seker wees ek hét iemand daar sien staan nie. Ek weet nie wat met die nuuskierige kat gebeur het nie. Ek weet net dat ek dit nie kan waag om boontoe te gaan nie – ek kan dit aanvoel. Dus, natuurlik gaan ek.
My keel trek toe. Ek klim versigtig, maar die pers tapyt is dik en smoor enige geluid. Toe ek na die tiende trappie die draai bereik, gewaar ek steeds niemand nie. Dit raak donkerder boontoe en ek onthou dat daar swaar gordyne voor die gang se vensters was.
Ouma het niks gesê van iemand anders wat hier is nie.
Dalk ’n inbreker?
Maar in die dag? En iets wil my laat dink dit was ’n vrou.
Nog tien trappe, dan is ek aan die bopunt. En weer! Daar wás ’n beweging. Aan die onderpunt van die breë gang waar genoeg lig deur ’n gaping by die gordyne val. Ek kan dit uitmaak, hoe iemand by ’n deur inglip – en ja, dit moet ’n vrou wees. Iets wapper vir ’n sekonde soos ’n outydse rok of ding. Kon tog nie ’n kleed wees nie.
Dis nie ’n skoonmaker nie, nie met sulke klere nie.
Ek moet padgee voor hulle agterkom ek is hier bo. Dit sal nog ’n voorbeeld van “Herman se vreemde gedrag” wees. Maar my belangstelling is geprikkel, en wanneer laas ís dit?
Ek loop verby die oop deur van die eerste vertrek: Ouma se slaapkamer op regterhand. By die venster kom ’n flentertjie son in waar die gordyn se helftes nie mooi ontmoet nie, en belig ’n paar laehak-vroueskoene wat voor die hangkas aangetree staan. Iets laat my wonder, al is dit moerse onwaarskynlik, of hulle van swart slangvel gemaak is.
My mond is droog toe ek kom by die plek waar die vrou verdwyn het. Magtag, is ek bang? Dis befok om dit te voel! By hierdie kamer het ek nog nooit ingegaan nie. Die deur is toe, al het ek geen klikgeluid gehoor nie.
Ek klop saggies.
Wag.
Geen antwoord nie. Seker ’n halfminuut gaan verby.
Ek voel aan die knop. Gesluit. Ek sou sekerlik gehoor het as daar ’n sleutel in die slot gedraai het.
Dis beslis nie ’n inbreker nie, daarvoor was die rok (of wás dit ’n kleed?) te wyd en outyds. Dis seker maar ’n gas na wie Ouma nog nie verwys het nie, en dit het niks met my te make nie. Ouma sal hoogs die hel in wees as sy my vang dat ek hier snuffel.
Ek draai om, wil wegstap, toe iets vir my sê ek moet net nog ’n keer probeer.
Ek draai die knop en die deur swaai oop. Krakend.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS