Die-bewonderaar-

Uittreksel: Die Bewonderaar

Proloog

KOOP HIER | BUY HERE
Jou diepste vrees is sy grootste begeerte... Geen lang naels nie. Geen skoenveters nie. Dit is maar enkele van die reëls in die Molenberg-Psigiatriese hospitaal. Selfmoord is ʼn inwoner hier, en die pasiënte word as psigopate bestempel. Dominique du Randt word in Molenberg opgeneem ná haar ma se wrede moord. Niemand glo dat sy nie verantwoordelik is vir haar ma se dood nie. Niemand glo dat sy deur ʼn man agtervolg is wat homself die Bewonderaar noem nie. Haar sielkundige, Martin, het wel sy bedenkinge. Daarom dat hy sy eie speurwerk doen. Wat Martin ontdek, is die Ophelia-klub. ’n Plek van grusame geheime, fantasieë en donker vergrype. Wanneer een van die vroulike pasiënte in Molenberg-Psigiatriese hospitaal verdwyn, is Dominique oortuig die Bewonderaar weet presies waar sy is. Hy is, soos voorheen, weer in beheer van dié skrikwekkende spel. Maar hoe beskerm jy jouself in ’n plek soos Molenberg? Hier waar niemand jou glo en jy geen vryheid of beheer het nie?

Kaapstad – Augustus 2019

Martin is skaars op kantoor toe sy selfoon lui. Private Number. Nogtans antwoord hy.
“Hallo?”
“Martin, dis Phillip hier.”
“Phillip. Kan ek help?”
“Is Courtesan daar?”
“Bedoel jy Dominique?”
“Om godsnaam! Is sy daar?!”
Martin sug.
“Nee, sy’s nie hier nie.”
Martin stap met sy selfoon na sy kantoorvenster.
Hy kyk na buite.
Shit. Shit. Shit.
Dominique staan in die middel van die vierkant. ’n Swart uitroepteken teen die gebou se wit agtergrond. Swart aandrok, swart stiletto’s. Haar arms bo haar kop gebuig, die hande gekruis by die polse.
Braceo. Die beginposisie van die flamenco.
Haar rug is hol asof die ferm hand van ’n minnaar daar rus.
Haar gesig buig omhoog na die son.
“Dokter, is jy nog daar?” vra Phillip.
“Ja.”
Sy ontkruis haar hande en loop na die bankie in die vierkant waar haar sak staan. Sy haal ’n pakkie sigarette uit, steek een aan.
“Haar ma is vermoor. Op ’n taamlik brutale manier.”
Martin se hand rus teen die glas van die venster.
“Deur wie? Weet jy?”
“Ons vermoed dis dalk Dominique self, dokter. Daar was briewe aan haar ma se lyf vasgespeld. Al die briewe wat sy van die sogenaamde stalker ontvang het. Dit is met spelde deur die ou vrou se vel vasgesteek.”
Martin lig sy hand van die venster. Sy handpalm se afdruk bly sweterig afgeëts teen die glas.
“Dokter, ek vermoed jy’s in gevaar. Op elke brief is jou naam in bloed geskryf: Martin. Jóú naam, dokter.”
Dominique kyk meteens op, reg na waar Martin staan.
Woordeloos staan hulle na mekaar en kyk. Hy lig sy hand in ’n groet. Sy roer nie. Staan net daar en kyk na hom. Bring dan die brandende sigaret na haar mond.
“Sy is hier. In die vierkant.”
“Ons is ongeveer agt minute weg. Moenie haar in jou kantoor toelaat nie! Sy’s gevaarlik.”
Die sein gaan dood.
Dominique gooi haar brandende sigaret op die grond en hou haar hande weer in die lug. Braceo. Nie meer ’n uitnodiging nie, maar ’n uitdaging. Haar kop agteroor, haar nek ’n gespande boog. Haar lyf ’n dodelike pyl. Sekondes word minute, word . . .
Weer lui sy foon.
“Martin? Bly in die kantoor. Moenie uitkom nie. Ons is hier. Ons is voor jou gebou.”
Sy staan nog steeds in die braceo, sterk, alleen en uitdagend. Toe verskyn drie persone agter haar. Twee polisiemanne. En Phillip.
Sy sit haarself nie teen nie.
Hulle gryp haar arms en buig dit na agter sodat hulle haar kan boei.
Dan begelei hulle haar uit die vierkant.
Sy kyk nie weer op na Martin nie.
Hy vee met sy hand deur sy hare, die gebaar finaal en moeg. In die vierkant is dit nou doodstil en vreedsaam.
Meteens: beweging.
Martin verstar. ’n Man stap die vierkant binne. Hy kyk op na waar Martin steeds agter die ruit staan. Vir ’n oomblik ontmoet hul oë terwyl die man die lemoen in sy hand stadig tussen sy vingers van die een hand na die ander gooi.
Heen en weer . . . en . . . heen en weer.
Die man in die vierkant grynslag. Dan druk hy die lemoen teen sy lippe.
Soos ’n soen.


Hoofstuk 1

KOOP HIER | BUY HERE
Jou diepste vrees is sy grootste begeerte... Geen lang naels nie. Geen skoenveters nie. Dit is maar enkele van die reëls in die Molenberg-Psigiatriese hospitaal. Selfmoord is ʼn inwoner hier, en die pasiënte word as psigopate bestempel. Dominique du Randt word in Molenberg opgeneem ná haar ma se wrede moord. Niemand glo dat sy nie verantwoordelik is vir haar ma se dood nie. Niemand glo dat sy deur ʼn man agtervolg is wat homself die Bewonderaar noem nie. Haar sielkundige, Martin, het wel sy bedenkinge. Daarom dat hy sy eie speurwerk doen. Wat Martin ontdek, is die Ophelia-klub. ’n Plek van grusame geheime, fantasieë en donker vergrype. Wanneer een van die vroulike pasiënte in Molenberg-Psigiatriese hospitaal verdwyn, is Dominique oortuig die Bewonderaar weet presies waar sy is. Hy is, soos voorheen, weer in beheer van dié skrikwekkende spel. Maar hoe beskerm jy jouself in ’n plek soos Molenberg? Hier waar niemand jou glo en jy geen vryheid of beheer het nie?

Kaapstad – November 2019

Martin kan net nie vat kry aan die vrou nie.
Hy trek sy blou das se knoop effe stywer toe Sharon Forbes, Dominique se regsverteenwoordiger, die konferensiekamer binnestap. Wie het haar aangestel en wie betaal vir haar regsdienste?
Besmoontlik een van Dominique se seksklante, vermoed hy. Hoe lank is dit sedert die landdros borgtog toegestaan het? Drie maande? En hier is die saak reeds in die hooggeregshof. Buitengewoon vinnig. Iemand maak seker dat dié saak gouer as die gebruiklike voorkom. Iemand met mag en invloed.
Soos gewoonlik is Sharon Forbes stylvol aangetrek. Wit hemp met ’n monnikkraag. Swart broek, swart stewels wat flits as sy stap. Sy vee ’n hand deur haar kort hare, net so donkerrooi soos haar naels. Haar voorkoms is professioneel. Saaklik. Moenie-met-my-sukkel-nie-couture.
Tog.
Die fyn haartjies agter in haar kwesbare nek, die kneusbare mond, die dun polse en effense leepoog maak haar uiters sexy op ’n baie weerlose manier. Martin kan hom verkyk aan haar oë. Waar die een ooglid swaar oor die oog hang, is die ander oog weer wawyd oop. Die effek is wonderlik verwarrend. Die oog met sy swaar ooglid verleidelik en weerloos. Die ander oog weer doelgerig, op en wakker.
Sharon Forbes gooi ’n hoop koerante op die tafel. ’n Handvol tarotkaarte wat die toekoms voorspel.
Dominique du Randt verdagte in moordsaak.
Kunstenares van grumoord op ma verdink.
Het bekende kunstenares haar aanneemma vermoor?

“Het jy dit gesien?” vra sy.
“More, Sharon.”
“Die moordsaak is in al die koerante. Ek dog sy’s nie bekend nie.”
“Wel, sy het nie juis baie geld gemaak as kunstenaar nie, maar sy het hier en daar uitgestal. So, daar is mense wat weet wie sy is,” antwoord Martin.
“As die koerante uitvind dat sy ook ’n callgirl is –”
“Courtesan,” val hy haar in die rede.
Haar vingers tik-tik-tik op die tafel.
“Dis wat sy haarself genoem het. Dis nie wat sy was nie.”
“Wel, tegnies is sy seker nie soos die sewentiende-eeuse courtesanes nie, maar . . .”
“Martin. Los die geskiedenisles. Die feit is: As Dominique se sekswerk uitkom, gaan dit nie goed wees vir haar beeld nie.”
Sharon draai weg van die hopie koerante op die tafel, trek die stoel aan die bopunt van die tafel uit, gaan sit, en haal ’n lêer uit haar aktetas. Sy skuif die lêer voor haar netjies reguit, en die mou van haar wit hemp stoot op en ontbloot ’n elegante pols.
Wag.
Wat is daar op haar arm? ’n Swart krulpatroon. ’n Tatoeëermerk? Dit het hy nog nie vantevore opgemerk nie.
“Hoe gaan dit met Dominique? Jy het haar waarskynlik meer onlangs as ek gesien. Is sy nog by haar vriendin ná die borgtog?” vra die regsverteenwoordiger.
Aha. Die onderwerp word verander.
“Ja,” antwoord hy. “Sy’s by Liesl.”
“Laas toe ek en sy gekonsulteer het, wou sy onskuldig pleit,” sê Sharon Forbes.
“Dis wat sy vir my ook gesê het, ja.”
Haar oë knip-knip. Sy hou nie van die antwoord nie.
“Ek het gehoop sy sal instem tot ’n Artikel 105-ooreenkoms.”
“Jy bedoel ten gunste daarvan om skuldig te pleit en te hoop en bid vir die beste?” vra Martin.
Sharon rus haar ken op haar hande en nou kan hy dit duideliker sien. Dit is beslis ’n tatoeëermerk.
“Martin, ek ken die regter. Die vonnis sal regverdig wees.”
“Dis moord, Sharon. Sy gaan nie lig daarvan afkom nie.”
Sy laat sak haar hande, die mou val terug en die merk verdwyn.
“Wel, eintlik behoort sy nié lig daarvan af te kom nie.”
“Jy glo haar dus nie,” antwoord Martin.
“Dit maak nie saak wát ek glo nie. Dit gaan oor die bewyse teen haar. Daar is ’n ooggetuie . . .”
“’n Ou tannie wat nie behoorlik kan sien sonder haar bril nie,” kap hy terug.
“Haar vingerafdrukke is orals in haar ma se woonstel.”
“Dit sê niks. Sy het tog dikwels daar gekuier.”
“Die briewe wat in haar ma se vel gespeld was, én die onderklere waarin die vrou aangetrek was, behoort aan Dominique.”
“Hy kon dit uit haar woonstel gesteel het.”
“Hy? Jy bedoel haar stalker? Die sogenaamde Bewonderaar . . . Reg?” vra Sharon.
“Ja,” antwoord Martin.
“Moet tog net nie vir my sê jy glo sy is werklik agtervolg en dat die stalker haar ma vermoor het nie. Die privaat speurder wat Dominique gehuur het om die kastige stalker op te spoor . . .”
“Phillip.”
“Ja. Hy het dan vir ons die kredietkaartstrokies gewys, Martin. Sy het vir haarself die blomme gestuur wat glo van hierdie Bewonderaar was. Wat het jou kollega dit genoem? Wag, ek het dit hier êrens neergeskryf . . .”
“Feitesteurnis,” val hy haar in die rede.
“En is een van die simptome van feitesteurnis nie dat so ’n persoon teistering, of selfs molestasie, sal voorgee net om aandag te kry nie?”
“Sharon, ek het die Bewonderaar met my eie oë gesien.”
“Jy bedoel die man met die lemoen?”
“Ja.”
“Dieselfde man wat niemand weet wie hy is of selfs wat hy in die vierkant gemaak het nie? Dié een wat etlike sekondes later spoorloos verdwyn het?”
’n Hoes van die deur se kant af. Martin kyk op.
Phillip kom ingestap, soos gewoonlik uitgevat in ’n swart leerbaadjie, netjies gestrykte T-hemp en jeans; sy kort, swart hare agtertoe gekam. Phillip was meer as net ’n privaat speurder. Hy was ook ’n voormalige kliënt van Dominique, én gewese hoof van die misdaadeenheid.

KOOP HIER | BUY HERE
Jou diepste vrees is sy grootste begeerte... Geen lang naels nie. Geen skoenveters nie. Dit is maar enkele van die reëls in die Molenberg-Psigiatriese hospitaal. Selfmoord is ʼn inwoner hier, en die pasiënte word as psigopate bestempel. Dominique du Randt word in Molenberg opgeneem ná haar ma se wrede moord. Niemand glo dat sy nie verantwoordelik is vir haar ma se dood nie. Niemand glo dat sy deur ʼn man agtervolg is wat homself die Bewonderaar noem nie. Haar sielkundige, Martin, het wel sy bedenkinge. Daarom dat hy sy eie speurwerk doen. Wat Martin ontdek, is die Ophelia-klub. ’n Plek van grusame geheime, fantasieë en donker vergrype. Wanneer een van die vroulike pasiënte in Molenberg-Psigiatriese hospitaal verdwyn, is Dominique oortuig die Bewonderaar weet presies waar sy is. Hy is, soos voorheen, weer in beheer van dié skrikwekkende spel. Maar hoe beskerm jy jouself in ’n plek soos Molenberg? Hier waar niemand jou glo en jy geen vryheid of beheer het nie?

“More, Martin. Sharon . . .”
Phillip gaan sit langs Martin.
“Martin is reg. Daar’s wel ’n moontlikheid dat iemand haar gestalk het,” sê Phillip.
“Op die oomblik is daar nie juis ’n oorvloed getuienis wat haar met die moord verbind nie,” gaan hy voort. “Ek meen, wie het die ondertekende briewe aan haar gestuur? Daardie briewe is op ’n rekenaar getik. Tog kon ons geen ooreenstemmende dokumente op Dominique se rekenaar kry nie, en onthou, ek was daar toe sy in die winkelsentrum agtervolg is. Ek het die WhatsApps gesien wat die Bewonderaar vir haar gestuur het.”
“Maar wat van die beeldmateriaal?” vra Sharon. “Daardie aand toe die stalker glo ’n bottel whiskey in haar woonstel gelos het . . . Elke keer wat sy beweer het die man was in haar woonstel . . . Die kameras wys telkens dat niemand buiten sy in die woonstel was nie.”
“Kyk,” sê Phillip. “Sy het baie mense gehad wat ’n obsessie met haar kon hê. As Courtesan –”
“Soos ek reeds aan Martin genoem het: Ek is nié te gretig dat die Courtesan-deel van haar lewe in die hof op die lappe kom nie. Dit kan haar beeld as kunstenares skade doen as die sekswerk aan die lig kom.”
Phillip skop sy bene só verbete vorentoe dat die stoel oor die vloer skraap.
“Kan dit dinge vir háár ongemaklik maak, of vir die kliënt wat jou retainer betaal? Ek het ’n bietjie rondgevra. Jy’s gehuur deur Arthur Croucamp. En hy’s ’n taamlike ongure karakter. ’n Man wat sowel prostitute as advokate kan koop.”
“Ek hou nie van jou insinuasies nie, Phillip,” antwoord Sharon, haar stem laag. “En sover ek weet, is daar ander mense in hierdie vertrek wat ook baie het om te verloor as dit aan die lig kom dat sy handig was met meer as net ’n verfkwas . . .”
’n Aartjie bult in Phillip se slape.
Sharon maak die lêer oop en blaai deur haar notas.
“Kom ons kyk na die feite. Dit sê hier dat jy vroeër hoof van die polisie se misdaadeenheid was. Korrek?”
Een, twee, drie, klop die aartjie.
“’n Onberispelike rekord, sien ek.”
Steeds antwoord Phillip nie.
Sy blaai verder. “Getroud. Korrek?”
“Wat’s jou punt, Sharon?” vra Phillip oplaas.
Sy stoot ’n foto oor die tafel. Die foto skuif glad en sekuur in sy rigting en kom in die middel van die tafel tot stilstand. Eers dink Martin dis Phillip se minnares. Die vrou op die foto het lang, swart hare. Én sy dra ’n rooi kantbra en G-string, met rooi spykerhakke en swart visnetkouse.
’n Tipiese foto, maar tog . . . Die kakebeen, die gespierde kuite . . .
Phillip raap die foto op en begin om dit op te skeur voordat Martin dit verder kan bestudeer.
“Jy maak ’n pragtige vrou, Phillip,” antwoord Sharon. “Jy is gelukkig dat jou vrou dit verstaan.
Of wag . . . Is dit waarom jy Dominique so gereeld besoek het? Het die sjarmante Courtesan nie omgegee nie, solank jy haar net beta–”
“Genoeg!” Martin se handpalm brand teen die houttafel. “Kan ons hierdie gesprek professioneel hou en op Dominique fokus?”
Phillip staan op. Van die foto se stukkies dwarrel na benede.
“Ek het genoeg gehad van hierdie stront. Jy kan my nie afpers nie! Martin, ons praat later.”
Phillip stap by die konferensiekamer uit; klap die deur agter hom toe. ’n Stukkie visnetbeenfoto bly op die tafel lê. Martin vee dit op en gooi dit in die drommetjie langs hom.
“Was dit nou nodig?” vra hy.
“All is fair in love and war, Martin.”
“Ek hoop nie jy gaan probeer om my ook af te pers nie, Sharon.”
Sy glimlag.
“Dit hang af . . .”
“Waarvan, nogal?”
“Of jy geraamtes in jou kas het, natuurlik.”
Weer trek Martin sy das reguit.
“Maar ek is seker jy’s leliewit, Martin. Dus, die pleitooreenkoms . . .”
“Kom ons vergeet vir eers daarvan,” sê Martin. “Die staat het my gevra om te getuig oor haar mediese agtergrond en sielkundige probleme. Daar kan versoek word dat sy gaan vir psigiatriese waarneming. Dit laat die moontlikheid oop dat sy ontoerekeningsvatbaar verklaar word.”
“So ’n versoek kan gerig word, ja,” antwoord Sharon. “Sy het ’n hele paar afwykings, dis vir seker.”
“Daar is probleme,” beaam Martin. “Depressie. Angs. ’n Posttraumatiese stresversteuring. Alkoholisme. Fobies. ’n Geskiedenis van mishandeling as kind én volwassene. Dalk feitesteurnis. Miskien selfs DID.”
Sharon kyk op van die lêer voor haar.
“DID?” vra sy.
“Dissociative Identity Disorder. Voorheen bekend as Multiple Personality Disorder. Dit kan dalk wees dat sy ’n persona geskep het wat –”
“Stop nét daar!” onderbreek Sharon. “Die hof sal onder geen omstandighede aanvaar dat ’n ander persoonlikheid die moord gepleeg het en dat Dominique daarom nie verantwoordelik is nie.”
“Dis nie wat ek insinueer nie, Sharon,” antwoord Martin. “Maar ’n kombinasie van al bogenoemde sielkundige kwessies kan wel lei tot ’n onbevoegdheidsverklaring. Toe sy my gesien het, was sy erg depressief met selfmoordneigings. Haar angs en fobies was glad nie onder beheer nie. Boonop het sy ook weer hewig begin drink. Die agtervolging het dit alles in ’n drukkoker geplaas. Indien sy wel haar ma vermoor het, sou dit nie die optrede van ’n logiesdenkende persoon wees nie,” verduidelik Martin.
“Wel, staatspasiënte word nie juis gou vrygelaat nie. As hulle gelukkig is, eers oor sowat vyf, miskien ses, jaar. Soms nooit nie,” sê Sharon. “In elk geval, dit help nie ons spekuleer nie. Ek sal weer met haar konsulteer en bevestig dat sy téén my aanbeveling in onskuldig wil pleit.”
Sharon begin om haar lêer in haar aktetas te pak. Dan gaan staan sy by die uitgang en wag vir Martin, haar hand op die deur. Die tatoeëermerk is nog half versteek onder haar mou, maar dié keer sien hy sirkels en patrone. Kalligrafie. Dit lyk soos ’n letter.
“So van geraamtes gepraat . . . Probeer emosionele afstand hou van haar tydens die saak, Martin. Ek dink jy gee te veel om.”
“Jy dink verkeerd, Sharon.”
Weer ontmoet hul oë. Hy kyk eerste weg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS