Wenkbrou_Featured_Image_Blog_Uittreksel_Réney_Warrington_Smit_Motors

Uittreksel: Smit Motors – Réney Warrington

Cyla se oë skiet vol trane. “Wat as ek nie kan kinders hê nie, amor? Ek het nog net altyd aanvaar ek sal kan . . .”

Inleiding

KOOP HIER | BUY HERE
Jou buurman dink hy besit die polisie... Petra Smit erf onverwags haar oupa se ou werkswinkel in ʼn klein Vrystaatse dorpie. Daar is gelukkig kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie. Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Dié einste slagter is ook die buurman, hy is ’n vroueslaner en hy skeep sy seun, Monty, af, maar hy het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so ’n persoon verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit. Dinge word nog moeiliker toe Arno, ’n reus van ’n man met die psige van ’n kind, aan haar deur kom klop. Hy wil help. Die reus maak homself tuis en word vriende met die slagter se seun, Monty. Petra hoort nie in hierdie dorp nie. Sy mis haar mooi meisie en die roman wat sy wil skryf, bly tweede kom in die oorlog met die slagter. Die slagter hoort wel op die dorp. Hy ken die polisie en intimideer almal. Sal die vreemde Petra en haar twee nuwe maats, Arno en Monty, die oorlog kan wen?

Petra steek ’n sigaret aan. Sy sien die bloed onder haar naels, in die voue van haar palm. Sy maak haar oë toe en vat ’n lang trek. Een, twee, drie, vier, vyf, ses. Haar hande bewe steeds toe sy haar oë oopmaak.

Sy sit in die verste hoek van tannie Naude se stoep, plat op die grond met haar rug teen die stoepmuur. Die nag is stil en swart en hang oor haar soos ’n warm wolkombers.

Sy kan nie asemhaal nie, maar weet haar asmapompie gaan nie vanaand help nie. Sy probeer haar skouers terugtrek en diep asemhaal, maar haar ribbes ruk te veel.

Herman slaap opgekrul teen haar bene. Sy vryf die hond se kop. Sy wonder hoe laat dit is. Petra blaas die rook uit.

“Jou tee word koud, hartjie,” sê tannie Naude en rus haar eie koppie op ’n piering op haar skoot.

Petra knik, tel die koppie op en kry ’n sluk af. Tannie Naude het dit stroopsoet gemaak vir die skok. Sy sit die porselein neer.

Hulle sit seker al ’n uur op die stoep. “Jou tee word koud” is die eerste woorde wat hulle praat. Petra reken as hulle nie daaroor praat nie, het hierdie aand nie gebeur nie. Sy vryf Herman nog ’n slag. Hy beweeg in sy slaap.

KOOP HIER | BUY HERE
Jou buurman dink hy besit die polisie... Petra Smit erf onverwags haar oupa se ou werkswinkel in ʼn klein Vrystaatse dorpie. Daar is gelukkig kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie. Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Dié einste slagter is ook die buurman, hy is ’n vroueslaner en hy skeep sy seun, Monty, af, maar hy het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so ’n persoon verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit. Dinge word nog moeiliker toe Arno, ’n reus van ’n man met die psige van ’n kind, aan haar deur kom klop. Hy wil help. Die reus maak homself tuis en word vriende met die slagter se seun, Monty. Petra hoort nie in hierdie dorp nie. Sy mis haar mooi meisie en die roman wat sy wil skryf, bly tweede kom in die oorlog met die slagter. Die slagter hoort wel op die dorp. Hy ken die polisie en intimideer almal. Sal die vreemde Petra en haar twee nuwe maats, Arno en Monty, die oorlog kan wen?

“Hartjie . . .” Petra skud haar kop. “Petra’tjie.”

“Hoe kan ons net hier sit?”

“Wat meen jy?”

“Hoekom trek ek nie my hare uit en skree en hardloop die nag binne nie?”

“A, hartjie, jy is in skok,” sê die ou vrou en staar na die donker tuin. “Ons is in skok en die adrenalien hou ons koppe bo water.”

“Wat as ek eerder wil verdrink?”


Een

Die somervoëls se gekwetter raas Petra wakker. Die voëlbaddens, -voerders en -huisies wat Cyla in die tuin gesit het, werk skynbaar. Volgende op Cyla se DIY-lys is uilhuisies. Die middernagtelike geroep van uile wat op die nok van die dak sit, sal tog mooi wees, was Cyla se verweer. Ook, die baba-uiltjies vat vir ewig om te leer vlieg. Om hulle op jou grasperk te sien speel is na bewering ’n belewenis.

Ten minste sal rotte iets van die verlede wees.

Waar die ligblou gordyne nie heeltemal toegetrek is nie, skyn ’n skreef daglig deur die grenadellabos om ’n liggroen patroon op die wit plafon te maak. Dié bos was ook Cyla se idee. ’n Mens kan die vrug saam met roomys eet, in drankies gebruik, jy kan dit vries en die blomme is pragtig. Haar lys het aangegaan. In agtien maande, oor nie eers twee seisoene nie, het die plant amper die venster verswelg. Die bliksemse ding dra ook arms vol vrugte.

Die son is al net ná vyf op, so Petra moet gaan stap. Die dertigs wat so om haar middel begin vassit, gaan nie vanself verdwyn nie. Boonop lees sy is stap die enigste oefening wat help met Alzheimers, ook een van die min oplossings vir skrywersblok.

Stap pomp bloed en suurstof na jou brein toe. Dit help jou brein om nuwe verbintenisse tussen breinselle te skep, ouderdom teen te werk en om die hippokampus te vergroot. Die hippokampus stoor jou herinneringe. Dit voel hoeka vir haar asof haar hippokampus krimp. Petra wonder waar jou brein hartseer stoor.

Cyla kreun in haar slaap. Dit moet ’n droom wees. Sy gaan lê teen Cyla se rug en soen haar agter in haar nek. Cyla ontspan omtrent dadelik. Petra wonder in watter gedeelte van jou brein drome ontstaan, of gestoor word. Drome glip vinnig weg. Dit is die nagmerries wat bly draal.

Petra raak lig aan die kleurvolle tatoe op Cyla se regterskouer. ’n Man wat ’n jong kind oor ’n rivier dra. Ikoniese, pseudo-religieuse beelde van moeders met kinders, kruise, goue strale, bloeiende harte en skerp dorings, dit als bedek haar regterskouer, sy, heup en been. Haar linkerkant is onaangeraak, haar melkwit vel sonder ’n litteken. Twee kante van dieselfde muntstuk.

Dit raak Petra. Eintlik oorweldig dit haar sommige dae. Die sagte vrouelyf met kleurvolle tatoes in haar bed, die lang rooibruin hare op die kussing. Die groen oë, skerp neus en vol onderlip maak dit soms moeilik om te baklei, om vir haar kwaad te bly. Selfs ná nege jaar. Hierdie Portugese vrou in hul bed in hul kamer is haar get-out-of-jail-free-kaart.

Cyla sal nie ’n vryery aan die gang sit nie. Sy sal wag vir Petra om haar te soen, aan haar volronde borste te vat, die groen vlag te waai, met ander woorde. Volgens haar respekteer sy Petra se hartseer, haar rouproses. Sekerlik vermy sy ook die ongemak wat op seks volg, die ongemak wat Petra nou al maande soos ’n stertjie volg.

Seks tussen hulle het nog nooit agterweë gebly nie. Dit is een van die maniere om aan mekaar verbind te bly. Al is dit ’n vinnige laataandkafoefel wanneer hulle albei moeg gewerk is. Of ’n nat, heeloggendrondrol met speelgoed, posisies en dubbelorgasmes.

Petra trek die wit somerlaken van hulle af en Cyla kry hoendervleis. Sy soen Cyla se skouer, haar boarm. Sy gly eers haar vingers oor elke tatoe – van Cyla se skouer, haar heup en tot op haar kuit. Dan laat sy haar tong die selfde paadjie volg. Hier en daar vat sy afdwaalpaadjies wat Cyla se rug ’n boog laat trek.

“Hei,” fluister Cyla.

Petra gaan lê weer agter Cyla en trek haar heupe terug teen hare. “Hei,” antwoord sy.

Dan druk sy Cyla op haar maag, soen haar lae rug, haar boude en gaan lê liggies bo-op haar. Cyla wil haar heupe lig, sy wil omdraai, maar Petra pen haar op haar maag vas.

Dan gly Petra haar een been tussen Cyla se bene in, draai en lig haar heupe net genoeg om haar hand onder Cyla in te glip. Sy weet Cyla is al geswel en sy vlek haar oop.

Sy vind eers die natheid, dan gly sy haar vinger oor die geswelde knoppie en sirkel dit. Cyla kreun kliphard. Petra gly haar middelvinger heen en weer tot Cyla se asemhaling jaag, haar gekreun heeltemal ophou. Dan trek sy onverwags weg.

“Amor!” kreun Cyla.

Petra wag ’n paar oomblikke dan begin sy van voor af. Sy sirkel haar geslag, en gly dan haar vingers heen en weer tot net voor Cyla haar gesig in die kussing druk. Dan trek sy weg. ’n Paar oomblikke later begin sy van voor af.

Cyla probeer haar hand tussen haar en Petra indruk om ook aan Petra te raak, maar Petra hou haar lyf buite bereik.

Sy bou weer die spanning tot op die oomblik wat Cyla verwag sy gaan oudergewoonte wegtrek. Sy trek egter nie weg nie. Sy bly net daar, maar streel ongelooflik lig oor Cyla se geswelde geslag.

Petra kan aflei aan die manier wat Cyla se lyf ruk, aan die kreun wat sy uiter, dat die orgasme strek van buite, tot diep binne haar en dit gee vir haar plesier. Sy kan Cyla laat klimaks. Sy is nie heeltemal useless nie.

Cyla kry haar asem terug. Sy rol om, want sy word nie meer vasgepen nie. Sy kruip in Petra se nek in. Sy lê ’n hele paar minute so.

“Wat van jou, amor?” vra Cyla.

Petra trek weg van haar af, weg van die seks af, van hulle bed af en staan op. “Ek gaan stap.”

Petra kry haar sigarette weggesteek in die aalwyn, laat haarself uit en swaai links. Sy kyk op haar horlosie. Ja, sy sal teen seweuur by die groenteverkoper wees. Dan kan sy ’n warm suurdeegbrood optel en ontbyt kom maak. Dit is darem iets.

Vir nou moet sy uit en teen hierdie bult op, kom wat wil. Haar asem jaag halfpad en sy gooi die sigaret weg. Sy staan ’n oomblik stil, nie omdat sy haar asmapompie vergeet het nie, maar omdat sy sukkel om te vergeet van Cyla wat sy net so in hulle bed agtergelaat het.

Sy weet Cyla verstaan. Sy weet dit is nie ’n deal breaker nie: Petra se weersin in haar eie weerloosheid, haar weerwil teen klimaks, haar huil en onttrek van die wêreld en van Cyla. Cyla verstaan dit dalk beter as sy self, dink sy en durf die opdraande aan.

Sy verstaan nie hierdie niemandsland nie. Hierdie leemte in haar lewe. Sy verkies die vooroor-ruk, bene-optrekgeween van die eerste paar maande, sy verkies die proes, verstik en koeshuil, bo hierdie vreemde wêreld wat op sy kop gedraai is en waar fokkol sin maak. Fokkol behalwe Cyla.

Sy leef nie meer ’n lewe saam met hom nie. Sy lewe nog nie ’n lewe sonder hom nie. Sy kan nie terug nie. Sy kan nie vorentoe nie. Nou loop sy maar groentewinkel toe om ’n brood te gaan koop.

“Ek het wát geërf?” vra Petra en gooi amper haar espresso uit.

“’n Ou garage,” grinnik Lizel met haar kop skuins gedraai en haar vingerpunte in ’n driehoek gerangskik. “Surprise, skrywer Smit.”

“’n Garage?”

“Nie die petrol-ingooi-soort nie,” verduidelik Lizel, haar kop anderkant toe gedraai en haar oë groot gerek, “die soort waar jy karre regmaak.” Sy maak die werkings van ’n spanner of iets dergeliks na. “Basies ’n ou gebou.” Sy kyk op en skuins. “Jô, ek wonder of hulle Land Rovers reggemaak het? Het ek jou gesê ons hou ’n verjaardagpartytjie vir Tiensie, die Land Rover . . .”

“Ek verstaan nie wat jy sê nie,” frons Petra en sit die espresso neer.

“Tiensie is nou dertig jaar oud . . .”

“Ek bedoel die garage, Lizel.”

“O, sorrie. Iemand wou dit koop en die kleindorpie-eiendomsagent het die moeite gedoen om die eienaar op te spoor. Tadaa! Jou oupa.” Lizel rek weer haar oë en doen ’n drum roll op die tafel. “Wel, nou jy.”

“Maar dit was nie in die testament nie?”

“Ja,” sug Lizel en vryf oor die litteken op haar gewrig. Sy het maande vantevore van haar Harley afgekletter en haar gewrig gebreek. Hulle moes dwarsdeur haar felicitas fides persto dilectio-tatoe sny en nou lê geluk, geloof, uithouvermoë en liefde nie meer in lyn nie. “Die idioot van ’n eksekuteur het nie gesoek vir eiendomme wat in jou oupa se naam geregistreer was nie. Hy het net volgens die testament gehandel. Dit is raar, maar dit gebeur.”

“En waar sê jy is die plek?”

“Êrens in die Vrystaat,” mompel Lizel en soek deur ’n lêer. “’n Klein dorpie . . .”

“Seker Edenville?”

“H’m, ja! Edenville? Ek het nog nooit eers van die plek gehoor nie.”

“Niemand het al van die plek gehoor nie.” Petra probeer ’n sluk espresso, maar dit is koud. “Hoekom dink jy het hy dit nie in sy testament gesit nie?”

“Jou oupa?” Lizel los vir eers die lêer. “Dit kan ek jou ongelukkig nie sê nie, skrywer Smit.”

“Natuurlik nie,” knik sy en stoot die koue, olierige espresso weg. “Wanneer sê jy is Tiensie se verjaardagpartytjie?”

Om van die huis af te werk is tog die toekoms, dink Petra en stap sleepvoet by die kantoor se trappe op. Met hoëspoedinternet wat nou vrylik beskikbaar is, is daar geen meer verskoning vir lugverkoeling, beige teëlvloere, bruin meubels en Windows XP-rekenaars nie.

Sy maak die gemeenskapskoerant se vuil glasdeur oop, groet in die verbyloop en gaan sit voor haar lessenaar. Sy haat elke oomblik wat sy hier is. Sy probeer om soveel as moontlik uit te gaan om onderhoude te voer en foto’s te neem. Die fotograwe word een ná die ander afgedank. Selfoonkiekies is voldoende.

Om rolprente te resenseer was altyd die hoogtepunt in ’n see van advertensies, stories oor stopstrate, vullisverwydering en doodkennisse. Al is daar net genoeg spasie om die persverklaring te spoeg en plak, kon jy darem twee sinne oor die fliek bylas en jou stempel afdruk.

Sy sal meer as twee sinne wou skryf oor die romcom wat sy vanoggend gaan kyk het. Dit het ’n laag stroop oor haar gelos. Sy voel skoon naar. Wat haar dwars in die krop steek, is dat sy die affêre nie uitmekaar mag trek nie. Hulle is die rolprent se mediavennoot. Donner.

Sy skakel haar rekenaar aan en tik die naam van die film uit. Sy kopieer die film se reklameteks heel eerste. Dan haak sy vas. Haar naam gaan onderaan hierdie resensie staan en haar naam is al wat sy het. Sy maak die dokument toe.

Sy is lus om net vir ’n halfuur YouTube-video’s te kyk. Die werk se netwerk blok dit egter. Sy maak dus haar bank se webwerf oop. Sy doen dit as sy verveeld is. Wanneer sy wil bedank. Sy kyk na haar bankbalans om haarself te herinner dat sy die werk nodig het, dat sy in ’n tronk vasgekeer is.

Sy tik haar rekeningbesonderhede in. Haar bankbalans verskyn. O, ja, sy het vergeet. Dit is meer geld as wat sy ooit gedink het sy gaan hê. Die polis het al lank terug uitbetaal, maar sy het nog nie aan die geld geraak nie.

Sy hoor Cyla se stem. Bedank. Jy kan dit bekostig.

Koop ’n rekenaar. Skryf jou roman. Hou op verantwoordelik wees.

Sy maak die webwerf toe en konsentreer weer op die resensie. Sy dink aan die sepiesterre wat hoë drama probeer, wat ’n Meryl Streep wil wees, maar op ’n goeie dag ’n Jennifer Aniston is. Sy dink aan die volk wat dit gaan opvreet, die huisvroue wat gaan dink dit is bevrydend. Dit maak haar brein seer.

Bedank. Jy kan dit bekostig.

Petra maak haar e-pos oop, ignoreer die e-posse wat inkom en begin aan ’n nuwe een tik. Sy rig dit aan haar baas. Sy skryf: “Ek bedank met onmiddellike effek.” Sy sal dat Cyla die regsaspekte uitsorteer. Sy kan tien teen een haar kennismaand vryspring as sy al haar verlof vat.

Petra ry direk na die naaste rekenaarwinkel en bekyk die reeks rekenaars uitgestal op ’n streep. Sy ignoreer die verkoopsman se geselsies. Shame, hy wil net kommissie verdien. Sy weet wat RAM en SSD is en presies wat sy soek. Sy doen nou al maande lank vensterinkopies. Sy weet sy benodig nie werklik ’n touch screen nie. Dit kos ekstra. Sy maak ’n paar programme met haar voorvinger oop, blaai vinnig op en af op ’n webwerf, en besluit dan, te hel daarmee, en betaal die ekstra rande.

Petra breek die Blitz in ses stukke, sit een stuk in die middel en pak ’n sirkel met die res. Sy stoei om die sak steenskool oop te kry. Daardie verdomde toutjie wat jy kwansuis een pluk kan gee, werk net in advertensies. Sy gebruik ’n skêr, gooi die steenkool eweredig uit en pak dit met die hand verder. Sy vee ingedagte haar hande aan haar blou jeans af.

“Kak,” sê Petra vir haarself met albei hande in die lug. Wat nou? Sy los dit net so, steek die Blitz aan, krap ’n bietjie rond in die kole en plof op die stoepbank neer. Sy maak altyd te veel kole. Sy braai ook te vinnig.

Dit is ’n warm somersmiddag en sy sit diep onder die stoep se afdak. Die week is verby. Die bier is koud. Cyla is so te sê hier. Die ongemak oor vanoggend se wegtrek en wegloop het soos mis voor die son verdwyn ná die koffie saam met Lizel. Al waaraan sy van toe af dink, is ’n garage in ’n klein dorpie in die Vrystaat. Bedank is nie eers ’n hartklop op die radar nie.

Sy vlieg weer op en gaan haal die skaaptjops in die kombuis. Sy wil dit met suurlemoen, sout en knoffel invryf. Sy het gelees jy moet die suurlemoen nie te lank voor die tyd invryf nie, want dan brand die vleis. Sy glo dit nie. Suurlemoen! Sy haal die bestanddele uit net om te onthou sy het die vleis reeds ’n halfuur vantevore ingevryf. Sy kry in daardie geval nog ’n bier en plof weer op die bank neer.

Wanneer kom Cyla nou? Sy moenie kla nie. Toe Cyla ’n prokureur was, het sy aande deurgewerk. Met die nuwe winkel is sy elke aand net ná ses by die huis.

Petra hoor die motorhuisdeur oopgaan, die kar wat stop en die deur wat te hard toegeslaan word. As haar oupa nou hier was, het hy vir Petra gefrons en geglimlag. Hy sou nooit met Cyla raas nie. Hy was ook botter in haar hande.

“Dankie tog, dit is Vrydag,” sê Cyla, buk vooroor en soen Petra op die mond. “Ek kry wyn.”

Petra lig die bottel cabernet sauvignon op. “Ek is jou een voor.”

“Dankie.” Cyla skop haar leersandale uit, gaan sit langs Petra en trek haar romp op tot by haar bobene. “Geez,” sê sy en blaas haar asem uit. “How was your day? Hopelik rustiger as myne.”

“Wel, dit was definitief interessant.”

“Hei?” Cyla vryf oor Petra se voorkop. “Watse frons is hierdie?”

“Jy gaan dit nie glo nie,” sê Petra.

“What did you do?” vra Cyla bekommerd.

“Ek het na jou geluister. Ek het bedank!”

“For reals?” Petra knik grootoog. “Ek is so trots op jou.”

“Ek het sommer ’n laptop ook gekoop.”

Cyla soen eers vir Petra. “Jy verdien dit. Kan ek sien?”

“Ek het dit nog nie oopgemaak nie . . .”

“Wat? Jy gaan dit nie terugvat nie, Petra.”

“Dit is baie geld . . .”

“Jy vat dit nie terug nie!”

“Ek weet nie . . .”

“Belowe my.”

“Alright, alright.”

“Nou kan jy jou boek skryf, amor. You have the time and the means.”

“Seker,” sê sy ’n klein bietjie geïrriteerd. Cyla se blinde geloof in haar is soms te veel. “Die bedank was egter nie die hoogtepunt van die dag nie.”

“Nee?”

“Ek het ’n garage geërf, soos in ’n werkswinkel.” Petra knik dramaties. “By my oupa.”

“Excuse me?”

“Dit is hoekom Lizel my wou sien.”

“Wat?”

“Êrens in die Vrystaat in ’n klein dorpie staan ’n gebou wat ek nou besit.”

“Petra?”

Petra kyk na die vlamme. Behalwe te veel kole maak en te vroeg braai, gebruik sy heeltemal te veel Blitz. Sy is tog so bang die vuur vrek en die vleis is rou en sy stel teleur.

“Ja. My oupa het ’n gebou besit, en dit nie net vir homself gehou nie, maar ook nie in sy testament gesit nie.”

“Dit is weird.”

“Jy vertel vir my.”

“Die eksekuteur het seker nie ’n property search gedoen nie,” sê Cyla ingedagte.

“Lizel het ook so iets gesê.”

“Hoe lank het jou oupa dit besit?”

“Ek weet nie.”

“Ek sal uitvind. Ek verkoop nou wel vadoeke en shweshwe-poppies, maar ek het nog kontakte in die aktekantoor . . .”

“Ek verstaan nie hoekom hy dit geheim sou hou nie.”

“Dalk was dit net onbelangrik, amor?”

“’n Hele gebou?”

“Jy moet onthou, toe jou ouma dood is, moes hy vinnig Joburg toe kom vir werk en support,” sê Cyla en vryf oor Petra se rug. “Amor, jy was als vir hom.”

“Ek weet. Steeds.”

“Wat gaan jy daarmee doen?”

“Seker maar verkoop.”

Cyla byt daardie onderlip van haar vas en Petra weet sy gaan nie vir die volgende voorstel kan nee sê nie. “Road trip! Kom ons gaan kyk.”

“Wat?”

“Oormôre. Sondag. Kom ons gaan kyk,” sê Cyla, altyd die avonturier.

Petra staan op en hou haar hand vir vier tellings oor die vuur. “Ons kan die plek seker verkoop sonder om te gaan kyk?”

“Is jy nie nuuskierig nie?”

Petra sit die tjops op die vuur. Sy draai haar kop skuins. “Ja, ek is, eintlik.”

“Mooi,” sê Cyla en stap in huis toe.

“Cyla?” roep Petra voor Cyla in die donker huis verdwyn. “Jy verkoop meer as vadoeke en poppe.”

“Ek weet,” glimlag Cyla. “Ek moet uit hierdie rok kom.”

Petra draai die tjops om en staan ingedagte met die braaitang in haar hande. Sy wonder wat sy in die Vrystaat gaan vind. ’n Murasie? Wat sal binne wees? Ou gereedskap? Gesteelde ivoor? ’n Lyk wat op ’n kantoorstoel vasgebind is? Sy glimlag vir haar eie verbeelding.

“Amor?”

Petra los haar dagdroom. “Ja?”

“My period het toe begin.”

“Jy was ’n bietjie kwaai die laaste paar dae . . .”

“Amor . . .”

“O, hel, ja,” frons Petra. “So jy is toe nie swanger nie?”

“Nee.”

“Jammer, lief.” Petra los haar vriend, die braaitang, vir eers en gee Cyla ’n lang druk. “Ons het mos vermoed jy is nie swanger nie. Jy is deur ’n apteek se swangerskapstoetse. Vanaand is net bevestiging?” Sy hoop sy hou haar verligting vir haarself. “Kom sit,” sê sy en gooi Cyla toe met ’n rooi shuka. Sy maak haar wynglas vol aangesien sy nou ’n tweede glas kan drink. “Wat kan ek vir jou doen, Cy?”

“Ag, niks nie. Ek is net teleurgesteld.”

“Dit is te verstane,” antwoord Petra en draai haar verligting terug braai toe. Sy draai die tjops om. Hulle is amper reg. Skaap moet nie oorgaar wees nie, dink sy. Sy moes eintlik roosmaryn, tiemie en kruisement opgesit het . . . Fokus, Smit, fokus op die swangerskap. “Ons het nog een keer oor?”

“Ja, ons het drie strooitjies gekoop.”

“Goed, dan probeer ons weer.”

“Ek dink ons moet eers uitvind hoekom die eerste twee kere nie gewerk het nie. Dalk kan ek nie kinders hê nie.”

Petra weet sy moet reageer. Dit is Cyla se hartsbegeerte. “So,” sê Petra en skep vir hul elkeen ’n skaaptjop, “kom ons maak die afsprake en vind uit.” Petra sit die kos op die koffietafel neer, soen Cyla se voorkop en sê: “Ek is seker jy kan kinders hê. Dit moet iets anders wees.”

“Like what?”

“Ek weet nie hoe hierdie goed werk nie, lief.” Sy sal later vanaand dit als teen ’n spoed Google, weet sy. “Kom ons wag vir die toetse.”

“Jy is reg. Ek gaan myself net mal maak.” Cyla kou aan ’n stukkie komkommer. “Hoe voel jy?”

“Ek voel baie jammer vir jou. Ek weet mos dit is jou grootste droom . . .”

“Ek bedoel hoe voel jy vir jou eie onthalwe?”

“O,” sê Petra gedwee en vat eers ’n hap van die lamstjop. “Ek is nie seker nie.”

“Verlig?”

“Dalk ’n klein bietjie.” Petra weet nie hoekom sy die verligting wou wegsteek nie. Cyla lees haar soos ’n boek. “Wie weet.”

“Jy is nog committed?”

“Hoe ken jy my, lief?” vra Petra met ’n frons.

“Ja, ja, jy is verantwoordelik. Betroubaar. Jou oupa se kind,” glimlag Cyla en skep nog slaai. “Is dit die enigste rede hoekom jy ja gesê het vir kinders? Because I want kids and you’re with me?”

“Nee.”

“As jy op jou eie was, sou jy kinders wou hê?”

“As is verbrande hout. Ek is mos nou saam met jou en jy wil kinders hê. Jy gaan ’n fantastiese ma wees. Jou kind gaan omring wees deur ’n ouma, ’n oupa, ooms, niggies en nefies . . .”

“M’y kind?”

“Ons kind,” korrigeer Petra haarself.

“Ons kind gaan twee wonderlike ma’s hê. Twee.”

“Wie weet,” sê Petra en haal haar skouers op.

“Ek weet.” Cyla sit haar halfleë bord neer. “Ons kan nog ’n bietjie wag?”

“Tot die perde horings kry? Nee, jy was al so geduldig. Ons het net begin met die proses, toe, toe sterf my oupa. Toe trek ons hier in en begin regmaak. Agtien maande later wag jy nog steeds.”

“Is jy seker?”

“Ja, lief.”

Cyla se oë skiet vol trane. “Wat as ek nie kan kinders hê nie, amor? Ek het nog net altyd aanvaar ek sal kan . . .”

“Laat ons eers die toetse doen voor ons daaraan dink.” Petra trek Cyla tot teen haar. “Dit is dalk iets baie eenvoudig?”

“Jy is reg,” fluister Cyla. “Maar voor ons die toetse doen, gaan ons road trip tot by ’n garage in die Vrystaat.”


Die een ding van in Europa bly, is jy sien konserte en kuns wat jy nie andersins sou nie. Susan is wel teësinnig om die 12 euro-ingangsfooi te betaal. Soms word gehore ook met middelmatige uitstallings uitgebuit.

Sy nader die arme kassier aan diens. “Is it worth the twelve euro?”

Die mannetjie se adamsappel gly op en af. “You know it is not Dali’s paintings?”

“I read the brochure.”

“Okay. It is unknown etches and drawings though. You will see how his style developed.”

“So, it is worth it?”

“I believe so.”

Susan rits haar beursie oop. “I will report back.”

Die mannetjie knik en vat haar geld. Sy sluit haar sak toe, sit haar oorfone op en begin op die grondvloer. Sy luister nie musiek nie. Sy sny bloot ander mense se verspotte kommentaar oor onderwerpe waarvan hulle niks weet nie uit.

Ná die eerste twee verdiepings se wonders moet sy eers sit en kies ’n ontwerpersbankie uit hout. Haar brein is soos versadigde grond. Als wat sy sien, lê bo-op. Die uitstalling behoort met ’n oormaat waarskuwing geadverteer te word.

Dit behels toe potloodsketse, litografie, illustrasies en selfs ’n kookboek wat die man geskryf het. Die bleeksiel by ontvangs was reg. Jy kan sien waar Salvador begin het, hoe sy styl ontwikkel het. Dit is uiters fassinerend. Die man het soveel in sy vyf en tagtig jaar vermag.

Sy sal moet terugkom vir die laaste vloer. Sy is uitgeput, maar geïnspireer. Sy stap uit sonder om die beloofde terugvoering te gee.


Johanna haal skaars asem in haar knopperige buitekamerbed. Sy probeer hoor of daar moeilikheid in die huis is. Dit is stil vanaand.

Sy onthou haar eerste werksdag soos gister. Sy wou nie inbly nie, maar haar knieë is te gedaan om elke dag te loop en die taxi’s is duur. Wat anders, behalwe toilette skrop en klere optel, is haar beskore met ’n sub B?

Sy was vroeg dié Maandagoggend. Sy het aan die straat se kant van die voorhekkie gewag. Daar was ’n vieslike hond aan die erf se kant. Daar was geen klokkie nie.

Die slagter het uitgestap, die hond aan sy vier meter lange ketting vasgemaak en haar binnetoe gewaai.

“Kom,” het hy geblaf en om die huis begin stap.

Sy het grootoog gevolg terwyl die brak blaf en teen sy halsband beur. Sy het gehoop en bid die ketting hou. Voor die klein buitekamer met sy sementvloer, staalraambed, geen vensters nie en rooi deur, het sy die besluit gemaak om nie vir hulle te werk nie.

Toe stop die slagter se vrou ’n opgebondelde vuil kombersie in haar hande en die twee mense klim eenvoudig in hulle Ford en ry. Sy het na die perdjiepatroon gekyk en die kombersie oopgevou, onseker van wat sy binne sou vind.

En daar lê die kind. ’n Swarthaar, uitgeteerde apie met gebalde vuiste en ’n lyfie wat ruk. Die groot swart oë het hare gevind en begin huil met ’n tongetjie wat aan sy verhemelte vassit. Sy bakoortjies was skoon rooi.

Johanna kon nie kinders hê nie. Haar lyf het haar verraai. Om haar mooi afgekampte hartseer te beskerm het sy selfs die lokasiewesies teen alle koste vermy. Maar dan op ’n doodgewone Maandagoggend stop ’n wildvreemde vrou ’n afgeskeepte skepseltjie in haar hande.

Dit is haar lot, het sy daardie dag besluit, hom in ’n klein emmertjie gebad en Vaseline aan sy doekuitslag gesmeer.

Sy het ’n handdoek opgesny vir doeke en die instruksies op die formuleblik ontsyfer. Hy het twee bottels leeg gesuig terwyl hulle mekaar aankyk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS